Wiskunde-studente
van die US het goed gevaar by die onlangse Internasionale
Wiskunde-kompetisie wat in Bulgarye gehou is, met honneursstudent Dylan
Nelson wat ’n plek in die tweede prys-kategorie behaal het.
Die
ander drie studente, Elrich Groenewald, Petri-John Last en René Spoerer, het
almal eervolle vermelding verwerf.
Volgens
prof. Stephan Wagner, hoof van die afdeling
Wiskunde in die Departement Wiskundige Wetenskappe, is dit die eerste keer
dat ’n US student ’n plek in een van die top kategorieë
behaal het: “Die kompetisie bestaan sedert 1994, maar ons het eers in 2013
begin deelneem. Hierdie kompetisie is ’n goeie manier om wiskunde-studente
geïnteresseerd te kry in uitdagende wiskundige probleme wat buite die gewone
kurrikulum lê. Terselfdertyd kry hulle waardevolle internasionale
blootstelling.”
Dylan,
wat algeheel die 98ste plek uit 320 studente behaal het, sê hy sal die
kompetisie aanbeveel vir enige een wat hulleself wil uitdaag. “Die kompetisie
selekteer probleme wat opgelos kan word deur die toepassing van die kennis en
tegnieke uit die voorgraadse wiskunde-kurrikulum, maar met ’n effense kinkel.
Oor die algemeen verg die probleme die toepassing van relevante tegnieke op
interessante maniere.” “Studente moet egter nie voel
dat hulle suksesvol in hierdie tipe kompetisies moet wees om ’n suksesvolle
wiskundige te kan wees nie,” voeg hy by.
Dylan
is tans besig met ’n HonsBSc in wiskunde en beplan om dit op te volg met ’n MSc
in Wiskunde, ook aan die US.
Die kompetisie is georganiseer deur die Universiteitskollege
Londen (UCL) en vanaf
25 tot 31 Julie 2016 aangebied by die Amerikaanse
Universiteit van Bulgarye.
Op die foto, van links na regs:
Dylan Nelson, René Spoerer, Elrich Groenewald en Petri-John Last. Foto: Liam Baker.