Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-haainavorsers ondersteun moontlike veranderinge by CITES
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 29/09/2016

Genetici aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat navorsing oor haaie doen is verheug oor die nuus dat Suid-Afrika besluit het om 'n voorstel te steun dat CITES groter beskerming moet verleen aan sekere spesies, insluitend seevosse (ook bekend as voshaaie of "thresher sharks"), syhaaie (Silky-haaie of "silky sharks") en nege soorte mobularogspesies ("mobula rays").

"As besorgde lede van die akademiese en haainavorsingsgemeenskap wil ons graag ons ondersteuning daarvoor uitspreek dat hierdie haaispesies op CITES se Aanhangsel II-lys geplaas moet word," sê dr Aletta Bester-van der Merwe van die US Departement Genetika en Katie Gledhill, 'n PhD-student van die Universiteit Sydney wat as navorsingstudent by die US betrokke is. "Dit sal meebring dat die internasionale handel in hierdie spesies meer volhoubaar bestuur kan word, sonder om die voortbestaan van verskillende populasies in die natuur te benadeel."

Die Konvensie vir Internasionale Handel van Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) se byeenkoms van lede (CoP17) vind tans in Johannesburg plaas. CITES word allerweë beskou as 'n manier waardeur die wêreldhandel in bedreigde spesies beter beheer kan word.

"Die Suid-Afrikaanse standpunt wys dat die land erns maak met die bewaring van haaie, en om haaivangste en die handel daarin volhoubaar te bestuur,"sê Gledhill, wat by die South African Shark Conservancy as navorser werk. "Dit sal help verseker dat toekomstige generasies ook sal kan baat uit volhoubare haaipopulasies, en gesonde oseane sal kan geniet."

Volgens Gledhill staan Suid-Afrika aan die voorpunt van internasionale pogings om haaie te beskerm. Dit het die eerste land geword wat nasionale beskerming aan grootwithaaie verleen het.

"As gashere van CITES CoP17 wil ons graag sien dat Afrikalande verenig staan en saam stem vir die insluiting van hierdie spesies op CITES se Aanhangsel II-lys," voeg Gledhill by.

Syhaaie en seevosse word in Suid-Afrikaanse waters gevind, maar is nie van ekonomiese belang vir die plaaslike vissersbedryf nie. Seevosse is belangrike toeriste-attraksies vir kleiner eilandnasies soos die Filippyne.

Volgens Gledhill is daar 'n kommerwekkende toename in die handel in die kieue van mobularogspesies. Dit word vir tradisionele Chinese medisynes gebruik.

Vooraf-gesprekke  oor CITES en haaie

Gledhill was een van die uitgenooide sprekers by 'n werkswinkel in Kaapstad in middel-September ter aanloop tot CITES CoP17. Dit is aangebied deur die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, en is bygewoon deur afgevaardigdes van regoor Suider-Afrika en die westelike gedeelte van die Indiese Oseaan. Dit het onder meer lande soos Suid-Afrika, Mosambiek, die Seychelles, die Maledive en Sri Lanka ingesluit. Regeringsafgevaardigdes, visserybestuurders, bewaringsorganisasies, ekotoerisme-operateurs en navorsers het dit onder meer bygewoon.

Gledhill het meer vertel oor die besonderse verskeidenheid van Suider-Afrikaanse haai- en rogspesies, asook oor aspekte van haar nagraadse navorsing.

"Haaie speel 'n belangrike rol in mariene ekosisteme en het 'n al groter wordende ekotoerismewaarde in Suid-Afrika," voeg sy by.

Die geskiedenis van die CITES-voorstel  

Die Maledive en Fidji het in 2015 voorgestel dat syhaaie, drie spesies seevosse en nege mobularogspesies tot die CITES Aanhangsel II-lys gevoeg moet word. Die voorstel word ondersteun deur navorsing wat wys dat daar wêreldwyd 'n afname in hierdie spesies is, tot soveel as 70% tot 99% in sekere gebied.

Meer as 50 lande het intussen ingestem om die voorstel rondom een of meer van hierdie spesies se insluiting te steun. Dit sluit talle Afrikalande in.

Navorsing oor die genetika van haaie

As deel van haar PhD-navorsing kyk Gledhill na die genetiese aspekte van Suid-Afrika se endemiese kathaai-populasies. Sy help ook mariene wetenskaplikes om op grond van molekulêre en taksonomiese data verskillende spesies uit te ken.

Een van haar studieleiers is dr Aletta Bester-van der Merwe van die Molekulêre Teel- en Biodiversiteitsgroep van die Universiteit Stellenbosch se Departement Genetika. Die groep is tans besig met verskeie projekte rondom die populasiegenetika van verskillende haaispesies. Werk word onder meer gedoen op talle oorbenutte spesies, soos die hamerkophaai wat reeds deur CITES gelys is.

"Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch bevestig weer eens hoe nou verbind sekere haaipopulasies in verskillende streke is, en wys hoe belangrik 'n transnasionale poging is wat die bewaring en die bestuur van bedreigde haai- en rogspesies ondersteun," sê dr Bester-Van der Merwe.


Foto-onderskrif: 'n Seevos of "thresher shark". Fotograaf: Shawn Heinrichs


Slegs vir media-navrae

Katie Gledhill
Geaffilieerde navorsingstudent van die Universiteit Stellenbosch wat besig is met haar PhD aan die Universiteit van Sydney
katie@sharkconservancy.org
+27 28 312 3029
+27 72 143 2599

Dr Aletta Bester Van der Merwe
Departement Genetika
Universiteit Stellenbosch
aeb@sun.ac.za

+27 21 808 5835