Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Historiese Ou Testament Internasionale Kongres aangebied by die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Helette van der Westhuizen
Gepubliseer: 27/09/2016

Die Internasionale Organisasie vir die Studie van die Ou Testament (IOSOT) het sy driejaarlikse kongres aan die Universiteit Stellenbosch gehou gedurende die eerste week van September. Dit was 'n historiese geleentheid, want in die meer as 60 jaar van die organisasie se bestaan is dit die eerste keer aangebied op die Afrika-kontinent. Sommige suster organisasies, soos die Internasionale Organisasie vir die Septuagint en verwante studies (IOSCS), die Internasionale Organisasie vir Targum Studies (IOTS), en die Internasionale Siriese Taalprojek (GDLP) het hul kongresse in samewerking met die IOSOT kongres aangebied. Die president van die IOSOT vir die tydperk 2013-2016, Prof Johann Cook (plaaslike emeritus medeprofessor in die Departement Antieke Studie), asook die kongres sekretaris, Prof Louis Jonker (professor in die Departement Ou en Nuwe Testament), beskryf die kongres as 'n reuse sukses. Meer as 350 deelnemers van 40 lande (onder andere uit 13 Afrika-lande), met byna 280 verskillende aanbiedings, het 'n beduidende impak gemaak op die plaaslike en internasionale studie van die Hebreeuse Bybel / Ou Testament en Ou Nabye Ooste. Vyftien hoofsprekers het hul nuutste navorsing in verskeie subvelde aangebied, terwyl seminare en kort sessies aan deelnemers uit verskillende kontekste die geleentheid gebied het vir interaksie.

Die kongres is deur Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel van die US geopen, terwyl die presidente van twee Suid-Afrikaanse wetenskaplike organisasies (die Ou Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Nabye Oosterse studie wat as mede-gashere opgetree het), ook 'n verwelkomingswoord gerig het aan die internasionale gehoor. Prof Johann Cook het sy presidensiële rede oor die onderwerp "Interpretasie van die Septuagint" by dieselfde geleentheid gelewer. Ter erkenning van sy akademiese werk en loopbaan, is 'n Festschrift (uitgegee deur Brill, Leiden) aan Prof Cook oorhandig.

 Festscrift.jpg

Foto:

Van links na regs (agter): Prof Louis Jonker; Prof Jan Joosten (Oxford Universiteit, en sekretaris van IOSOT); Prof Gert Steyn (UP, en mede-redakteur van die Festschrift); Dr Gideon Kotzé (Departement Antieke Studies, en mede-redakteur van die Festschrift).

Van links na regs (voor): Prof Nico Koopman; Prof Izak Spangenberg (UNISA, en president van OTSSA); Prof Cynthia Miller-Naudé (UV, en president van SASNES); Prof Johann Cook; Ms Marié Cook; Ms Suzanne Mekking (Brill, Leiden).