Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-muurbalspelers doen waardevolle ervaring op by internasionale toernooi
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 27/09/2016

​Twee spelers van die Maties Muurbalklub was deel van die Suid-Afrikaanse span wat derde gekom het by die 9de Wêrelduniversiteite-muurbalkampioenskap wat vroeër vandeesmaand in Kuala Lumpur, Maleisië, aangebied is.

Altesame 19 lande het aan die kompetisie deelgeneem en Suid-Afrika was sesde gekeur. Hulle het die span van Groot-Brittanje 'n verrassende nederlaag toegedien om die bronsmedalje te verower. Maleisië het goud gewen en Hongkong silwer.

Daniel Smith, ’n honneurstudent in Sportwetenskap, en Aubrey Lawrence, 'n tweedejaarstudent in die Fakulteit Opvoedkunde, het die toer as ongelooflik beskryf – 'n fantastiese ervaring en 'n wonderlike geleentheid – en hulle is baie tevrede met die uitslag.

"Die mense in muurbalkringe weet nou van Suid-Afrika," meen hulle.

Hulle het Maties Sport en veral die sportbestuurder Candice Appollis-Williams bedank vir die ondersteuning en bystand wat hulle ontvang het.

Maties Muurbalklub het tussen 550 en 600 lede (studente én nie-studente) en Daniel, oudvoorsitter en huidige manskaptein, dink die klub beweeg in die regte rigting.

"Die bane is oorgedoen met nuwe vloere en beligting en ons het in Julie 'n baie suksesvolle USSA-toernooi aangebied."

Sowel Daniel as Aubrey was deel van die Maties-muurbalspan wat tweede geëindig het in hierdie USSA-toernooi en albei is by die "USSA Top6"-groep ingesluit. Aubrey is ook aangewys as die speler wat die meeste verbeter het.

Die klub se tweede span het die B-afdeling gewen, wat wys dat die klub diepte het. Die klub se afrigter, Richard Castle, is ook die SA nasionale afrigter.

Aubrey en Daniel het studente aangemoedig om by die Maties Muurbalklub aan te sluit en glo dit is moontlik om akademiese verantwoordelikhede en sport te balanseer.