Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNCEP stel nuwe GDO kursusse aan onderwysgemeenskap bekend
Outeur: Anneke Müller
Gepubliseer: 16/09/2016

Op Saterdag 10 Oktober 2016 het die Sentrum vir Pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde (SUNSEP), sewe nuwe Gevorderde Diploma in Onderwys (GDO) aan ongeveer 40 lede van die Wes-Kaap (WKOD) en Noord-Kaap Onderwysdepartemente bekendgestel. Die ADE kursusse sal in Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, Natuurwetenskappe, Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe aangebied word.

Die doel van hierdie kursusse is om vir onderwysers wat in diens is, geleenthede te skep om hulself verder toe te rus om hul eie onderwyspraktyk te verbeter. Die fokus in die kursusse is op vakinhoud en pedagogiese kennis en vaardighede.

Hierdie vlak 7 kwalifikasies sal in 'n gemengde-formaat aangebied word.

Dr Van Louw, Direkteur van SUNSEP verduidelik: "Gemengde leer behels kontaksessies met deelnemers, opgevolg deur onderrig via die telematiese platform, interaktiewe e-lesse en post onderrig mentorskap. Dit kan by die onderwyser in die klas of skool gedoen word, op 'n individuele basis of in groepverband of clusters. "

Me Pauline Hanekom, e-Leer spesialis by SUNSEP het 'n paar van die modules in die nuwe e-lesformaat gedemonstreer. Sy het ook verduidelik hoe verskillende sosiale media platforms gebruik sal word om virtuele leergemeenskappe te vorm waar onderwysers kan kommunikeer en leer; saam met kollegas, fasiliteerders en mentors om sodoende die isolasie wat baie onderwysers in hul klaskamer en skool ervaar, te breek.

In reaksie op die aanbieding van hierdie kursusse, het dr Peter Beets, Hoofdirekteur: Kurrikulumontwikkeling en Onderwyserontwikkeling by die WKOD SUNSEO bedank vir die uitreik na die onderwysgemeenskap. "Dit is belangrik om teorie met professionele leer te kombineer en om pedagogie in lyn met die konteks te bring," het hy gesê.

Dr Chris van Wyk van RESEP (Research on Socio Economic Policy), het aan die groep gewys hoe bestaande data oor leerderprestasie gebruik kan word om spesifieke tekortkominge uit te wys. Dit kan dus lei tot ingeligte besluite oor watter professionele ingrypings gemaak behoort te word.

Dr Heinie Brand, Direkteur van Onderwys by WKOD het sy waardering uitgespreek vir die feit dat die kursusse wat SUNSEP aanbied in lyn is met die professionele ontwikkelingstrategie van die WKOD. "Ons wil graag 'n ware vennootskap met hierdie instelling wil aangaan om die 32 000 onderwysers in die provinsie te help om veranderinge aan te bring sodat die leerders se prestasie kan verbeter".

Op die foto hier bo is vlnr: Mnr Eddie Kirsten, Direkteur: Cape Teaching and Leadership Institute (CTLI), Me Pauline Hanekom, Dr van Louw, Me Suanne Rampou, Senior Kurrikulumbeplanner (Natuurwetenskappe) WKOD, Dr Heinie Brand en Dr Peter Beets.