Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Departement Afrikaans en Nederlands lei Simposium in Wellington
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 14/09/2016

Die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands bied die naweek ʼn Simposium aan by die Tuin van Digters by die Breytenbach-sentrum. Vrydag trek amper die hele Departement op Wellington toe waar meeste van die dosente deelneem aan ʼn gesprekreeks van vier programme wat handel oor die digkuns.

Willem Anker (foto), Marlene van Niekerk, Andries Visagie, Louise Viljoen, Ronel Foster en Alfred Schäffer is betrokke by die Simposium, ʼn nuwe dag wat by die fees gevoeg is.

willem anker.jpg

Die doel van die Simposium is om op ʼn toeganklike manier, sonder handskoene, oor die digkuns te gesels op 'n manier wat nog nooit vantevore gedoen is nie. Ander digters en bekendes in literêre kringe soos Danie Marais, Diana Ferrus, Daniel Hugo, Bibi Slippers, Andries Bezuidenhout en nog vele meer neem ook aan die dag deel.

Die Simposium bestaan uit vier gesprekke deur die dag, verduidelik Anker. "Ek hoop dat die gesprekke, gedigte en musiek 'n ruimte sal bied vir deelnemers en gehore om in tente pleks van torings te besin oor die bestaansreg, plek, uitdagings en veral moontlikhede van poësie in al haar tale, buie, gesigte en vorme."

Andries Visagie is een van die gespreksleiers en hoop dat hulle 'n gespreksruimte skep wat aan aktuele ontwikkelinge binne die poësie sal aandag skenk. "Die onderwerpe sluit juis aan by opvallende kwessies wat binne (Afrikaanse) poësie tans baie aandag geniet, van poësievertalings tot omgewingsbewuste digkuns.  Ons hoop om 'n wyer gehoor van poësieliefhebbers (insluitende onsself) op die hoogte te stel van die jongste ontwikkelinge en sodoende ook 'n lewendige belangstelling in die poësie aan te wakker. Poësievertalings verkoop gewoonlik maar swak in Afrikaans. Die gesprek oor die vertaling van poësie sal hopelik lesers se lus om vertaalde poësie te gaan lees en aan te koop, aanwakker. Ek hoop ook dat die sessie oor "slow poetry" ʼn nuwe waardering vir aandagtige lees sal aanmoedig ook al het ek waardering vir poësie wat onmiddellik toeganklik is – vir elke digterlike gedierte is daar die regte tyd en die regte plek."

Theo Kemp, direkteur van die Breytenbach-sentrum voeg by: "Die doel van die Simposium is om op 'n diepgaande en onderhoudende manier oor die digkuns te gesels, sónder dat dit eksklusief is.

"Die Afrikaanse digkuns is 'n weerlose kunsvorm, en baie sal redeneer ook 'n kwynende vorm. Ons wil dit help bewaar deur regtig die digkuns te vier – in al sy verskillende fasette – van voorlesings, diepgaande gesprekke tot rymklets, musiek en die visuele kunste."

Anker weet self nie wat om te verwag nie. "Ek is baie nuuskierig oor die Bohm-dialoog wat die aand sal plaasvind: 'n Groep digters praat en swyg in 'n byeenkoms  met geen agenda, geen debat, slegs mededelings, vrae, betuigings, opmerkings in enige vorm of toonaard. Ek het nog nie so iets bygewoon nie, en veral met die toestande van kuns, politiek en menswees in die Suid-Afrika van 2016, is ek baie geïnteresseerd oor wat daar gaan uitkom.

"David Bohm, na wie hierdie tipe gespreksforum vernoem is, stel dit so:  '...it is proposed that a form of free dialogue may well be one of the most effective ways of investigating the crisis which faces society, and indeed the whole of human nature and consciousness today. Moreover, it may turn out that such a form of free exchange of ideas and information is of fundamental relevance for transforming culture and freeing it of destructive misinformation, so that creativity can be liberated.' "

'n Mens wonder wat die verwagte uitkoms van so ʼn ongewone dag is?

"As die dag mense laat praat oor gedigte is dit goed, as dit mense laat gedigte lees, is dit beter, en as dit mense dryf om gedigte te skryf, is dit wonderlik," mymer Anker.