Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stabiele finansiële stelsels kernbelangrik vir ekonomiese groei en ontwikkeling
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 12/09/2016

Stabiele finansiële stelsels is kernbelangrik vir ekonomiese groei en ontwikkeling en daarom moet regerings en die privaat sektor saamwerk om dit te bestuur.

Só het prof Meshach Aziakpono van die Universiteit Stellenbosch (US) Bestuurskool op Donderdag (8 September 2016) in sy intreerede gesê. Die geleentheid het in die Schumann-gebou op die US se hoofkampus plaasgevind.

Aziakpono het gesê van die belangrike funksies wat finansiële stelsels vervul sluit, onder meer, in "die voorsiening en fasilitering van betalingstelsels, mobilisering van besparings, toewysing van kapitaal, en die monitering en toepassing van korporatiewe bestuur."

"n Doeltreffende betaalstelsel help byvoorbeeld om transaksie- en inligtingskoste en finansiële risiko's te verminder, en verhoog ook die betroubaarheid en spoed van ruilhandel. Dit spaar weer individue tyd en energie wat onder 'n ruilstelsel met al sy koördinasieprobleme vermors sou gewees het. Dit bevorder spesialisasie en innovasie wat lei tot verhoogde produktiwiteit en ekonomiese groei."

Aziakpono het gesê stabiele finansiële stelsels is veral belangrik in Afrika omdat ekonomiese ontwikkeling baie lande in veral sub-Sahara-Afrika, waar armoede baie knaend gebly het, ontwyk het.IMG_8091.jpg

Hy het bygevoeg dat Afrika-lande grotendeels baie arm en onderontwikkeld gebly het.

Aziakpono meen die finansiële sektor-beleide wat sedert onafhanklikheid in die 1960's en 1970's  deur Afrika-lande toegepas is het nie daarin geslaag om die ontwikkelingsuitdagings waarmee hierdie onafhanklike state gekonfronteer is aan te spreek nie.

"Indien Afrika-lande met ontwikkelde lande gelyk wil trek, sal hulle steeds op grootskaal  moet belê in beide die sosiale en ekonomiese infrastruktuur soos vervoerstelsels (paaie, spoorlyne, lughawens en hawens), die opwekking en verspreiding van elektrisiteit, onderwys en opleidingsinstansies (veral tegniese onderrig om die massas jongmense op te lei), hospitale en so aan."

"Daar is ook 'n behoefte om markvriendelike instellings soos inligtingsburo, goed-funksionerende howe op verskillende vlakke, en 'n nasionale identifikasiesisteem vir alle burgers te voorsien."

"Besighede moet gefinansier word, veral kleinboere, Agri-besighede, mikro-, klein- en medium ondernemings, asook eerste generasie-ondernemings wat tans verwaarloos word as gevolg van risiko- en transaksiekoste."

Aziakpono het gesê beide die staat en die private sektor het 'n rol te speel om die gewenste ekonomiese groei en ontwikkeling te bewerkstelling en beide moet toegelaat word om hul rolle doeltreffend te vervul.

"Alle beskikbare hulpbronne (die staat, privaat finansiële markte en instellings, internasionale beleggers en hulpbronne van skenkers, ens) moet ingespan word om hierdie ontwikkelingsuitdagings aan te spreek."

Hy het gesê die regulering en toesig van banke en ander finansiële markte en instansies deur regerings, die skep van toepaslike markaansporings en omgewings vir privaat finansiële maatskappye, sowel as innoverende tegnologie-gedrewe metodes soos OTM's, kaarttoestelle en internet kiosks is slegs sommige van die maniere om ontwikkelingsuitdagings aan te spreek en stabiele finansiële stelsels te verseker.

  • Foto 1: Pixabay
  • Foto 2: Profs Meshach Aziakpono (middel), Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, en Stan du Plessis, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, by die intreerede. Fotograaf: Justin Alberts