Die Universiteit Stellenbosch (US) se nuut-verkose studenteleiers het in groot getalle opgedaag vir die opening van die #SULeads 2016 konferensie op Sondag (4 September).

Dr Leslie van Rooi praat by die konferensie. Fotograaf: Henk Oets.
Die konferensie, aangebied deur die Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut, "poog om studente te inspireer en te bemagtig om betrokke rolspelers te wees binne hul studentegemeenskappe en die wyer Suid-Afrika". Nagenoeg 1 100 mense het die jaar se openingsfunksie by die Kruiskerk bygewoon.
Rektor en Visekanselier Prof Wim de Villiers het die tema van die jaar se konferensie bespreek: dekoloniseer, herbedink, bou saam (decolonise, re-imagine, co-create).
"Daar was 'n tyd toe ons gepraat het van die 'Stellenbosch borrel'. Maar daardie tyd is verby. Die Stellenbosch borrel het gebars," het hy gesê. "En dit is hoekom #SULeads so belangrik is. Kyk net na die tema van die konferensie: dekoloniseer, herbedink, bou saam. Dit kyk na die plek en rol van die Universiteit vandag."
"Wat beteken 'dekoloniseer' in ons konteks?" het hy gevra. "Dit is waarmee julle moet worstel. 'n Belangrike element daarvan is om Afrika te sentraliseer, dat dit nie meer op die periferie is soos die afgelope eeue nie. Die eerste deel van dekoloniseer is eenvoudig – om onsself 'duidelik te sien' as Afrikane. Om gewortel te wees in Afrika beteken om heg verbind te wees aan ons kontinent en vrug te dra tot voordeel van ons mense."
"Ek sê nie die US het arriveer nie, dat ons klaar die nuwe Afrika universiteit is wat ons graag wil wees nie," was Prof de Villiers se gevolgtrekking. "Ek sê net dat deel van om 'onsself duidelik te sien' beteken erkenning vir die feit dat ons 'n begin gemaak het. Maar natuurlik, daar is baie wat nog moet gebeur."
Lees die Rektor se volledige toespraak hier.
Ander sprekers het Dr Willy Nel van die Universiteit van die Vrystaat, FVZS Instituut direkteur Dr Leslie van Rooi en nuwe studentedekaan Tonia Overmeyer, ingesluit.
"Sewe jaar gelede het dié konferensie baie klein begin. Die idee was om studente aan te moedig om wyer te dink as net die strukture en omgewing waarin hulle is," het dr Van Rooi gesê. "Vandag het hierdie konferensie gegroei tot die grootste studente-leierskapskonferensie van sy soort in Suid-Afrika. Dit gaan oor denke verander, persoonlike ontwikkeling en om met die realiteite van 'n student op Stellenbosch wees te worstel, en natuurlik ook die realiteit van 'n burger wees in Suid-Afrika."
In 'n toespraak wat goed ontvang is, het dr Willy Nel onderwerpe aangepak wat gestrek het van studentegelde en die befondsing van die hoëronderwyssektor, tot dekolonialisering en die onlangse kontroversie oor Pretoria Girls' High se gedragskode.

Dr Willy Nel. Fotograaf: Marcelle van Niekerk.
"Dekolonialisering behels die sentralisering van ons kontinent. Maar om Afrika te sentraliseer beteken nie die res van die wêreld moet uitgegooi word nie," het Nel gesê, met verwysing na die skryfwerk van Achille Mbembe. "As jy sien watse klein gedeelte van die wêreld ons is – om net te fokus op ons 'Suid-Afrikanerskap' sal 'n baie nou perspektief gee van sake. Julle is die leiers, julle sal met die kwessies in diepte moet worstel. Ek hoop julle konferensie werp vrugte af."