Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorste US-navorsers ontvang NNS-toekennings
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 05/09/2016

Ses van die Universiteit Stellenbosch (US) se voorste navorsers is Donderdag (1 September 2016) deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) vereer.

Profs Willem Visser (Rekenaarwetenskap), Paul van Helden (Biomediese Wetenskappe ), Mark Cotton (Pediatrie en Kindergesondheid), Leonard Barbour (Chemie en Polimeerwetenskap), Helmut Prodinger (Wiskunde) en Grant Theron (Molekulêre Biologie en Menslike Genetika) is almal met spesiale toekennings bekroon vir die feit dat hulle vroeër vanjaar  NNS-graderings vir navorsingsuitnemendheid ontvang het.

Visser, Van Helden, Cotton, Barbour en Prodinger is almal A-gegradeerde navorsers, terwyl Theron ʼn P-gradering het. Prodinger het reeds vier keer agtereenvolgens `n A-gradering ontvang.

A-graderings word toegeken aan navorsers wat onomwonde deur hul eweknieë as leidinggewende internasionale navorsers in hul vakgebied erken word vir die uitstaande gehalte en impak van hul onlangse navorsing. Navorsers met ʼn P-gradering toon potensiaal om in die toekoms internasionale leiers in hul vakgebied te wees op grond van navorsingsuitnemendheid en -uitsette vroeg in hul loopbane.

Visser doen navorsing oor die toets en analise van rekenaarsagteware en veral die opsporing van foute (bugs) in sulke sagteware, terwyl Van Helden fokus op die gebruik van moderne molekulêre biologiese tegnieke om middelweerstandige Tuberkulose (TB), veral in ontwikkelende lande, te diagnoseer.

Cotton is 'n internasionaal gerekende spesialis op die gebied van pediatriese infeksiesiektes met uitgebreide ondervinding in die bestuur van MIV-geïnfekteerde kinders. Hy is sedert 2004 'n lid van die  Wêreldgesondheidsorganisasie se tegniese taakspanne oor MIV-fases antiretrovirale terapie en riglyne vir tuberkulose onder kinders.

Barbour spesialiseer in funksionele nanogestruktureerde material en bestudeer ook die reaksie van nuwe materiale – veral kristalle – wanneer dit aan eksterne faktore soos hitte, lig of drukking blootgestel word. Sy navorsing is relevant vir die ontwikkeling van nuwe materiale vir ʼn skoner omgewing.

Prodinger is een van Suid-Afrika en die wêreld se voorste navorsers in moderne analise van algoritmes en kombinatorika. Hy fokus op digitale soekbome  en -uitbreidings wat 'n kardinale rol in verskeie areas van rekenaarwetenskap speel.

Theron doen navorsing oor die diagnose, epidemiologie en oordrag van TB.  Sy mees prominente wetenskaplike prestasies was oor die haalbaarheid, akkuraatheid en impak van "Xpert", ʼn baanbrekende nuwe DNA-gebaseerde toets vir TB wat in klinieke deur personeel met minimum opleiding gedoen kan word.

In reaksie op die toekennings, het dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, gesê die instelling is ongelooflik trots op die navorsers se prestasie.

"Ons besef hoe baie toewyding dit vereis om hierdie graderings te ontvang en ons is verheug oor die internasionale erkenning van hul navorsingsuitnemendheid."

  • Foto: Dr Therina Theron saam met profs Prodinger, Cotton en Visser by die oorhandigingseremonie. Profs Van Helden, Barbour en Theron kon nie geleentheid bywoon nie.