Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch verwelkom Tonia Overmeyer as Studentedekaan
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 01/09/2016

Vandag (1 September 2016) het die Universiteit Stellenbosch 'n nuwe aanstelling in die herbedinkte pos van Studentedekaan verwelkom. Me Tonia Overmeyer, voormalige waarnemende Direkteur van die Sentrum vir Studente-ondersteuningsdienste aan die Universiteit van Wes-Kaap, wat oor baie jare se ervaring in studente-ontwikkeling, bestuur en leierskapsomgewing in hoër onderwys beskik, is onlangs in die pos aangestel.

 Die US-rektor en visekanselier prof Wim de Villiers het gesê hy is baie opgewonde om me Overmeyer in die US-familie te verwelkom. "Ek is vol vertroue dat die Universiteit Stellenbosch geweldig sal baat by haar uitgebreide ondervinding in studente-interaksie, ondersteuning en leierskapontwikkeling. Haar aanstelling sal daartoe bydra dat die stem van studente gehoor word."

 "Ons is verheug oor haar aanstelling en sien uit daarna dat sy by ons in die Afdeling Studentesake sal aansluit waar sy die Sentrum vir Studenteleierskap en -strukture sal lei," het die senior direkteur: Studentesake, dr Birgit Schreiber gesê. "Die Afdeling Studentesake bestaan uit drie Sentrums, en Tania sal saamwerk met die ander direkteure in die Afdeling, dr Munita Dunn-Coetzee van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling en mnr Pieter Kloppers van die Sentrum vir Studentegemeenskappe. Ek is seker sy sal hulle goed komplimenteer."

 Overmeyer sê sy is opgewonde oor die geleentheid om die US gemeenskap te dien en om saam met haar kollegas by die Sentrum vir Studenteleierskap en Strukture te werk en voort te bou op die sukses wat hulle alreeds behaal het. "Ek glo dat studenteleiers met die regte leiding die wêreld kan verander, deur hul selfvertroue, vaardigheid en konneksies te ontwikkel. Ek voel bevoorreg om 'n rol te kan speel om studente in burgers te ontwikkel wie se harte, verstand en hande daarvoor toegerus is om 'n inklusiewe, innoverende en toekomsgerigte Universiteit Stellenbosch te bou. Saam kan ons 'n ruimte skep waar studente nie net die beste jare van hul lewe ervaar nie, maar ook die fondasie bou vir lewenslange goeie burgerskap, dienslewering en vervulling.

 Overmeyer het haar voorgraadse en nagraadse studies voltooi by die Universiteit van Kaapstad (UK), en het haar MBA in 1999 verwerf. In die vroeë stadium van haar loopbaan het sy die Raymond Ackerman Academy of Entrepreneurial Development in Kaapstad bestuur, voordat sy by die UWK aangesluit het as bestuurder van die Departement van Leierskap en Sosiale Verantwoordelikheid. Sy het later waargeneem as Direkteur van die Sentrum vir Studente Ondersteuningsdienste.

 "Tonia het die US se keurings- en onderhoudpaneel – wat bestaan uit personeel en studente – beïndruk met haar insig en kennis van die hoëronderwyslandskap, haar interaksie met die paneel, goeie sin vir studente-aktivisme en ervaring in die studenteverteenwoordiging- en leierskapsvelde," het Schreiber bygevoeg.

 Schreiber het ook haar dankbaarheid aan almal betrokke uitgespreek –  insluitend studente en studenteleiers –  vir hul bydra om die visie van die Sentrum vir Studenteleierskap en Strukture, asook die pos van Studentedekaan te help vorm, en ook vir hul insette in die aanstellingsproses. "Hierdie nuwe Sentrum vir Studenteleierskap en Strukture sal studente-bestuur, die ko-kurrikulum en leierskapprogramme 'n hupstoot gee, en sal ook Studentesake by die Universiteit Stellenbosch versterk."

MEER INLIGTING OOR DIE AFDELING STUDENTESAKE

Die Afdeling Studentesake by die US bestaan uit drie sentrums, almal onder die leierskap van dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake, wat saam werk om 'n omvattende en geïntegreerde studente-ondersteunings- en ontwikkelingsraamwerk te skep. Die drie sentrums is:

Die Sentrum vir Studenteleierskap en -strukture

Die Sentrum vir Studenteleierskap en –strukture word bestuur deur me Tonia Overmeyer. Hierdie sentrum sluit in die Frederik van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling, onder leiding van  dr Leslie van Rooi, formele studentebestuurstrukture en hoofsaaklik die Studenteraad, asook die koördinering van die ko-kurrikulum, en die Eerstejaarsakademie. Die doel met die skep van die Sentrum is om te verseker dat die Universiteit omvattende en koherente leierskapservaringe vir studente bied. Hierdie ervaringe dra beduidend by tot die ontwikkeling van graduandi eienskappe en die indiensneembaarheid van studente.

 Sentrum vir Studentegemeenskappe

Die tweede sentrum is die Sentrum vir Studentegemeenskap, wat fokus op koshuise, gemeenskappe, transformerende gesprekke en die integrasie van die leef- en leerruimtes om die optimale omgewing vir studente-ontwikkeling te skep. Mnr Pieter Kloppers, die Direkteur van hierdie Sentrum het aan die stuur van verskeie vlagskip programme gestaan en het innoverende luister, leef en leer modelle ontwikkel wat nasionaal en internasionaal die toon aangee. Die Sentrum is daarop gefokus om alle studente, koshuis en dagstudente, te betrek, en op die manier 'n gemeenskap te skep wat gesamentlik daarop gefokus is om die doelwitte van ons student en die US te bevorder.

 Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling

Die derde sentrum is die Sentrum vir Studentevoorligting en –ontwikkeling en beskik oor 'n spektrum professionele en geïntegreerde dienste. Die eenhede binne die Sentrum sluit die  Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste, die Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling, die Eenheid vir Gelykwaardigheid, die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste, asook die Eenheid vir Gestremdhede. Elkeen bied 'n aantal dienste en is verbonde aan professionele en hoër onderwys verenigings. Hierdie Sentrum staan onder leiding van dr Munita Dunn-Coetzee wat ook daarop toegespits is om die impak van die Eenheid vir Gelykwaardigheid te vergroot ten einde transformasie te versnel.