Hoe weet die mammahaai watter babahaai is hare, en vir hoe lank bly die babahaai by sy of haar mamma?
Hierdie twee vrae van die sewejarige Amelia Duvenage (op die foto hierbo) van Somerset-Wes blyk toe die moeilikste vraag van die aand te wees wat dr. Sara Andreotti tydens verlede week se Science Café Stellenbosch oor grootwithaaie moes antwoord.
"Ek is jammer, maar ons weet nie," was haar eerlike antwoord.
Dr. Andreotti het die bevindings van haar navorsing oor die bevolkingsgetalle en -struktuur van Suid-Afrika se grootwithaaie aangebied, terwyl die haaikenner en -bewaringskundige, Michael Rutzen, sy kennis rakende die sosiale gedrag van grootwithaaie gedeel het. Sy eerstehandse ervaring is opgedoen deur jare se vryduik saam met dié top roofdiere.
Nie een van hulle kon egter Amelia se vraag beantwoord nie.
Dr. Andreotti verduidelik: "Tot op hede is daar maar enkele gedokumenteerde gevalle van dragtige vroulike grootwithaaie of hul werpsels, en die meeste van hierdie data is gebaseer op outopsies van dooie haaie.
Sy sê daar is wel een bekende verslag oor 'n dragtige vroulike grootwithaai van 5,15 m wat in 1992 in 'n net naby Toyo in Japan gevang is. Japanese wetenskaplikes het daarin geslaag om agt van die tien embrio's van dié grootwithaai te bekom en bestudeer. Die resultate van hulle studie is in 1996 gepubliseer in die boek "Great White Sharks: The biology of Carchadoron carcharias".
Gebaseer op hierdie studie en ander waarnemings, kan wetenskaplikes met redelike sekerheid sê dat vroulike grootwithaaie eers seksuele volwassenheid bereik wanneer hulle langer as 4,5 m is. Manlike grootwithaaie is reeds op 3,6 m geslagsryp.
Die vroulike grootwithaai skenk gewoonlik geboorte aan twee tot tien kleintjies. By geboorte is die babahaai gemiddeld 1,5 m lank en weeg tussen 23 kg en 25 kg. Vroulike haaie van sommige van die ander haaispesies skenk een keer elke paar jaar geboorte, maar wetenskaplikes is nog onseker of dieselfde reël vir grootwithaaie geld.
Na meer as sewe jaar se intensiewe veldwerk, wat selfs maande aaneen op 'n boot ter see insluit, vertel dr. Andreotti dat sy nog net een keer 'n kleiner grootwithaai van ongeveer 1,3 m, tussen twee groot vroulike grootwithaaie (elkeen langer as 4 m) sien swem het.
"Gewoonlik sal kleiner grootwithaaie wegswem die oomblik as 'n groter grootwithaai opdaag. Maar in hierdie geval het die kleintjie rustig tussen die twee grootwithaaie rondgeswem."

Op die foto hierbo sien 'n mens die "baba" (omtrent 1.3 meter lank) bokant die vroulike grootwithaai (ongeveer 4.7 meter lank) rondswem. Foto: Sara Andreotti
©Shark Diving Unlimited
Alhoewel hulle DNA-biopsies van al drie haaie geneem het, het die genetiese analise tot dusver nog nie enige verwantskap tussen hulle bevestig nie.
"Daar word tans aanvaar dat haaie nie met hul kroos kontak behou nie en dat die pasgebore grootwithaai net na geboorte wegswem. Maar in der waarheid het ons geen benul of daar enige verhouding tussen 'n grootwithaai en haar kleintjies is nie, of selfs onderling tussen die jong haaie nie. Dit kan selfs moontlik wees dat hulle klein groepies vorm om saam te jag en om ander kenmerkende sosiale gedrag van grootwithaaie aan te leer. Ons weet eenvoudig te min."
Dr. Andreotti is veral bekommerd oor die feit dat die huidige grootwithaaibevolking langs die Suid-Afrikaanse kus uit jong haaie bestaan wat nog nie geslagsryp is om die volgende geslag te kan voortbring nie.
"Daarom moet ons hierdie groep jong haaie lewendig en gesond hou totdat hulle groot genoeg is om te begin paar," waarsku sy.
En teen daardie tyd sal klein Amelia Duvenage en haar generasie hopelik hulle passie vir die see en die diere wat daarin leef, kan uitleef en nog navorsing doen wat lig kan werp op die vele geheimenisse van ons kosbare seelewe.
- Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om openbare gesprekke oor wetenskaplike kwessies aan te moedig. Volg ons op Facebook om op hoogte te bly van die volgende wetenskapskafee of volg ons op Twitter @scicafe_SU