S'coolBeans, 'n voedsame sjokoladesmeer wat onder meer soetpatat en suikerboontjies bevat, het aan voedselwetenskap-studente van die Universiteit Stellenbosch 'n tweede plek besorg in 'n internasionale produkontwikkelingskompetisie. Die span het in Dublin, Ierland teen nege ander spanne van Suid-Afrika, Indonesië, Costa Rica en Singapoer meegeding in die Food Science Students Fighting Hunger-kompetisie vir studente.
Die kompetisie moedig voorgraadse studente aan om hul kennis en vaardighede aan te wend om innoverende voedselprodukte te ontwikkel waardeur hongersnood bestry kan word. Dit was deel van die internasionale Vereniging vir Voedselwetenskap en Tegnologie (IUFoST) se 18de Wêreldkongres vir Voedselwetenskap en Tegnologie.
S'coolBeans is ʼn laekoste sjokolade- en haselneutgegeurde toebroodjiesmeer, en is glo 'n goeie manier waardeur ouers meer groente in hul kinders se etes kan smokkel, omdat dit ook soetpatat en gefermenteerde suikerboontjies bevat. Dit word vervaardig van gefermenteerde suikerbone en soetpatat.
S'coolBeans is in 2015 ontwikkel deur Cenette Bezuidenhout, Carin-Marie Engelbrecht, Nicholas Grobbelaar, Taryn Harding, Shannon Howell en Megan Kleyn, as deel van die produkontwikkelingsmodule in hul finale jaar as BSc Voedselwetenskap-studente. Cenette, Shannon en Megan studeer vanjaar verder as meestersgraadstudente aan Universiteit Stellenbosch, terwyl Carin-Marie, Nicholas en Taryn reeds in die bedryf begin werk het.
Volgens Cenette Bezuidenhout is S'coolBeans meer as net ʼn manier om groente stilletjies in te smokkel in ʼn smaaklike toebroodjiesmeer vir kinders. Dit bevat baie proteïen, asook die nodige vitamines en minerale wat belangrik is in die groei en ontwikkeling van kinders. Dis veral geskik vir kinders wat uit lae-inkomste omgewings kom. Sy glo daarom dat dit baie gepas kan wees vir gebruik deur byvoorbeeld skoolvoedingskemas.
Die hele span het na Dublin gereis om hul produk aan te bied. "Mense van regoor die wêreld was gaande daaroor, en wou net weet wanneer dit op die mark kom," vertel Bezuidenhout.
Die studentegroep werk tans saam met Innovus, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch, om dit verder te ontwikkel en om 'n moontlike vervaardiger daarvoor te identifiseer.
- Die kompetisie is gewen deur 'n span van Costa Rica, vir 'n tortilla-mengsel wat ideaal is vir die dieetkundige behoeftes van swanger vroue. 'n Span van die Universiteit Pretoria het die toekenning vir die beste aanbieding ontvang.
Foto onderskrif:
'n Blye S'coolBeans-span van die Universiteit Stellenbosch, na afloop van die prysuitdelingsfunksie, is van links Carin-marie Engelbrecht, Shannon Howell, Megan Kleyn, Cenette Bezuidenhout, Taryn Harding en Nicholas Grobbelaar. Hulle is na Dublin vergesel deur die hoof van die US Departement Voedselwetenskap, prof Gunnar Sigge. Foto: Verskaf