Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ahmed Kathrada besoek die US Museum vir filmvertoning
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 23/08/2016

Ahmed Kathrada, anti-apartheid aktivis en voormalige politieke gevangene op Robben Eiland, het die Universiteit Stellenbosch (US) museum gister (22 Augustus) besoek, die dag na sy 87ste verjaarsdag op Sondag. Meer as 'n 100 gaste het die vertoning van die dokumentêre film Ahmed Kathrada: A man for all seasons, vervaardig deur Anant Singh, bygewoon.

Kathrada)6.jpg

Ahmed Kathrada. Fotograaf: TC Kieck

Die film gee erkenning aan Kathrada se lewenslange bekamping van rassisme en sy bydra tot die struggle. Dit volg sy lewe vanaf sy kinderdae en tyd as 'n aktivis, tot sy vonnisoplegging by die Rivonia-verhoor en gevolglik die 26 jaar wat hy op Robben Eiland gevange gehou is. Sy politeke mentors Nelson Mandela, Walter Sisulu, Denis Goldberg en Sbu Ndebele, gee eksklusiewe onderhoude in die film.

Na die vertoning het Kathrada met die gehoor in gesprek getree oor 'n verskeidenheid kwessies, insluitend rassisme in Suid-Afrika vandag en die oorgang van apartheid na demokrasie.

"Ons het geveg vir vryheid, baie opgeoffer daarvoor. Baie mense is gevangene geneem of doodgemaak daarvoor," het Kathrada gesê. "Ons wens is om dit duidelik te maak aan jongmense dat vryheid met verantwoordelikheid kom: teenoor hulself, hul ouers, en hul land. Jongmense vorm die grootste gedeelte van die populasie, en moet dus hul verantwoordelikheid in gedagte hou. Die deure van onderrig is oop: jy moet aanhou om te leer, sodat ons 'n stadium kan bereik waar ons nie vaardighede hoef in te voer nie."

Crowd.jpg

Neeshan Balton, Uitvoerende Direkteur van die Ahmed Kathrada-stigting, met Ahmed Kathrada. Fotograaf: TC Kieck

"Jy kan nie met bitterheid, wraak of haat leef nie. Al is dit moeilik, moet jy vergewe. Ons moet streef vir 'n verenigde Suid-Afrika. Dit was die beleid van die post-apartheid regering van Suid-Afrika," het hy bygevoeg, in antwoord op 'n student wie beklemtoon het hoe moeilik dit is om vergifnis te beoefen ná 'n geskiedenis van apartheid en kolonialisme. "Ek kan nie sê dat ons alles bereik het wat ons wou nie. Daar moet geduld wees, jy kan nie alles oornag regkry nie."

"Ek dink ons het geweldige vordering gemaak in die 20 jaar van ons demokrasie. Twintig jaar in die lewe van 'n individu is lank – in die lewe van 'n nasie is dit niks," was sy gevolgtrekking. "Dit sal ongelukkig tyd vat. Terwyl ek nie tevrede is nie, dink ek dat daar stadige vordering is. Ek kan met selfvertoue sê dat ons op die regte pad is."

Die geleentheid was gefasiliteer deur die Ahmed Kathrada-stigting en die Universiteit Stellenbosch Museum.

"Ons wil graag hê die US Museum moet 'n ruimte wees vir dialoog. Suid-Afrikaners het nie genoeg ruimtes om met mekaar te praat en luister nie," sê Bongani Mgijima, direkteur van die US Museum. "Die geleentheid het goed afgeloop, dit was goed om so 'n diverse gehoor te sien. Die besprekings wat die vertoning gevolg het, was baie opbouend. Dit is duidelik dat nog gesprekke nodig is tussen die generasies."