Dr Mari van de Vyver is verkies tot die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Endokrinologie, Metabolisme en Diabetes (SEMDSA*). Die komitee bestaan uit vyf lede, almal gevestigde wetenskaplikes of klinici, wat hulle beywer vir die ontwikkeling en ondersteuning van wetenskaplike studie en kliniese praktyk in alle vertakkings van endokrinologie, metabolisme en diabetes.
Van de Vyver is ʼn navorser in die Stephen Hough Navorsingslaboratoriums, wat in die Departement Geneeskunde van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch geleë is.
Sy spits haar navorsing toe op die stamselbehandeling van pasiënte met tipe 2-diabetes wie se wonde nie genees nie. "Ons het onlangs bevind stamselbeskadiging is ʼn groot komplikasie in tipe 2-diabetes en dit het ʼn groot invloed het op suksesvolle stamselbehandeling vir pasiënte met diabetiese voetsere," het sy gesê.
Haar langtermynvisie is om ʼn leier te word in die veld van regeneratiewe geneeskunde, spesifiek mesenchimale (of ongedifferensieerde) stamselterapie vir die behandeling van diabetiese wonde. Sy ondersoek tans die moontlike meganismes waardeur die patogenese (die wyse waarop ʼn siekte ontwikkel) van tipe 2-diabetes lei tot intrasellulêre en ekstrasellulêre veranderings, wat stamselversaking kan veroorsaak. Sy beoog verder om deur haar navorsing die moontlike stappe te identifiseer waardeur stamselverswakking óf teëgewerk kan word óf die voorkoms daarvan verhinder kan word.
Alhoewel Van de Vyver haar navorsingsprofiel verder wil uitbrei en haarself as navorser wil vestig, geniet sy ook haar betrokkenheid by onderwys in die akademiese wêreld as toesighouer van nagraadse studente. "As wetenskaplikes strek ons verantwoordelikhede veel verder as slegs die skepping nuwe kennis, dit is noodsaaklik dat ons studente op so ʼn wyse mentor en oplei dat hulle nie net geïnspireer word nie, maar ook daartoe in staat is om krities en onafhanklik te dink."
*SEMDSA is die sambreelvereniging vir alle beroepe wat verband hou met endokrinologie, diabetes en metaboliese siektes. Dit sluit al die akademiese eenhede vir diabetes in Suid-Afrika in en bestuur die opleiding en registrasie van endokrinoloë, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Kollege van Geneeskunde, asook die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe. Dit is die amptelike vereniging vir diabetes in Suid-Afrika en is by die Internasionale Federasie geaffilieer.