Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aktuariële Wetenskap-student se harde werk word beloon
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/08/2016

Die resep vir sukses het vyf bestanddele: toegewydheid, toegewydheid, toegewydheid, dissipline en toegewydheid.

Dit is hoe Charl du Plessis, die 2016-ontvanger van die CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, sy uitmuntende prestasie verklaar.

"Niks kan harde werk vervang nie," voeg hy by.

Prof Stan du Plessis, Dekaan van die Fakulteit, het die medalje aan hom oorhandig by 'n funksie wat Woensdag 17 Augustus in Stellenbosch gehou is. Die medalje is vernoem na die Fakulteit se eerste dekaan en word sedert 1986 jaarliks toegeken.

Du Plessis se akademiese prestasie in sy vier jaar by die Universiteit Stellenbosch waar hy 'n voorgraadse en honneursgraad in Aktuariële Wetenskap behaal het, is werklik uitsonderlik.

Prof Garrett Slattery, hoof van Aktuariële Wetenskap, het in sy motivering geskryf dat hoewel dit nie ongewoon is vir uitmuntende studente om meer as 90% vir sommige modules te behaal nie, Du Plessis meer as 90% vir so te sê elke module in sy Baccalaureus-graad (insluitend sy bykomende modules) behaal het, en soms selfs 100%.

"Hierdie punte is nie net ongelooflik vir hierdie veeleisende grade nie, maar hy kon dit boonop regkry om verskeie bykomende vakke in te pas – 'n bewys dat sy dors na meer kennis sy begeerte om bloot sy punte hoog te hou deur die ligste toelaatbare las te neem, oortref het."

Du Plessis het in sy honneursjaar vir 'n bykomende (40-krediet) Meestersvlakmodule –Genootskapbeginsels van Algemene Versekering, wat die toepassing van aktuariële beginsels op korttermynversekering dek – geregistreer. Die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika se finale eksamen vir hierdie vak is deur meer as 50 studente geskryf en hy het die hoogste eksamenpunt behaal.

"Hy sal aanbeveel word vir al die beskikbare vrystellings van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika se eksamens, gegrond op prestasie in gelykstaande universiteitsmodules wat hy in sy Baccalaureus- en Honneursgraad afgelê het," het prof Slattery bygevoeg.

"Hoewel ons altyd baie goeie studente in ons honneursgraad het, het die moeilikheidsgraad van die werk tot gevolg dat ons as 'n reël nie hoë punte toeken nie. In die afgelope 10 jaar het ons net twee ander studente gehad wat op 'n vlak presteer het wat met dié van Du Plessis vergelyk kan word – en albei was ontvangers van die Kanseliersmedalje."

Dit was Du Plessis se doelwit om goed te vaar en hy is baie in sy skik met hierdie toekenning.

Hy heg baie waarde aan die probleemoplossing- en kritiese denkvaardighede wat hy gedurende sy studies ontwikkel het en glo 'n kultuur van selfstudie en voortdurende harde werk is belangrik vir sukses.

Du Plessis, wat aan Hoërskool Stellenberg gematrikuleer het en tweede was in die Wes-Kaap in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in 2011, sit sy leerproses tans by Ernst & Young in Kaapstad voort.

"Ek geniet dit en doen waardevolle ondervinding oor en blootstelling aan die finansiële bedryf op."

Wanneer hy nie werk nie, geniet hy dit om te lees, te stap, tyd deur te bring met sy gesin en vriende en plekkies in en rondom Kaapstad te besoek.

Foto: Prof Willie Conradie, voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, prof Garrett Slattery, hoof van Aktuariële Wetenskap, medalje-wenner Charl du Plessis, en prof Stan du Plessis, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Fotograaf: Hennie Rudman, SSFD