Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe MSc-graad gee koskundiges kans om oor voeding- en voedselsekerheid te leer
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/08/2016

Twee fakulteite span saam om nuwe nagraadse program aan te bied

'n Nuwe meestersgraadprogram aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal beleidmakers en mense in nie-regeringsorganisasies help om ingeligte besluite te kan maak oor kwessies rondom kos en voedselsekerheid. Die kursus neem ook aspekte rondom gesondheid in ag, en die belangrike rol wat 'n gebalanseerde dieet daarin speel. Die tweejarige MSc in Voedsel- en Voedingsekerheid-program begin in 2017. 

Dit is die eerste nagraadse kursus aan die Universiteit Stellenbosch wat gesamentlik deur twee fakulteite aangebied word. Dit is in die Fakulteit AgriWetenskappe se Departement Voedselwetenskap en die Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe se Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe (Afdeling Menslike Voeding) gesetel.

"Voedsel- en voedingsekerheid gaan nie net daaroor dat ons moet sorg dat niemand honger ly nie, maar ook oor hoe om te verseker dat genoeg van die regte soorte kosse geproduseer word, en dat alle landsburgers toegang het tot voldoende gesonde opsies," vertel prof Gunnar Sigge van die US Departement Voedselwetenskap. "Dit is makliker gesê as gedaan, want armoede en werkloosheid speel 'n rol in hoe bekostigbaar en maklik dit vir mense is om sogenaamd 'gesond' te eet."

Studente wat die twee jaar kursus volg sal enkele blokkursusse op Stellenbosch moet bywoon. Andersins sal hulle danksy die Universiteit se telematiese dienste afstandsonderrig ontvang en hul werkstukke voltooi. Hulle kan dus hul studies met hul bestaande beroepe kombineer.

Die nagraadse program is veral gemik op mense wat in die staatsdiens is of vir nie-regeringsorganisasies werk, en gereeld moet besin oor beleid rondom voedsel- en voedingsekerheidskwessies. Die kursus sal onder meer bestek opneem van die sosio-ekonomiese toestande in Suid-Afrika en Afrika, die verskillende behoeftes van landelike en stedelike inwoners en kulturele verskille ten opsigte van voedselvoorkeure. In terme van die gesondheidskomponent van die kursus sal studente meer leer oor die belang van verskillende voedingstowwe in 'n gesonde dieet en die rol van epidemies, asook oor funksionele en geneties gemodifiseerde kossoorte.

Watter kwalifikasies moet jy hê om vir die kursus te kan kwalifiseer?

  • 'n Toepaslike BSc-graad in die Natuurwetenskap (3 jaar) en ʼn honneursgraad, OF 'n BSc Landbou-graad OF 'n vierjarige graad in Gesondheidswetenskappe, met 'n minimum slaagsyfer van 60%, OF 'n Baccalaureus- en Honneursgraad wat deur die Senaat goedgekeur is, en op vlak 8 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) is met dieselfde slaagsyfer as hierbo.

Is hierdie 'n keuringskursus?

Ja. Slegs 'n beperkte getal studente word jaarliks gekeur.

Hoe lank duur die studies?

Die program strek oor 'n minimum van twee jaar, maar dit is nie nodig dat die student voltyds op kampus is nie.

Hoe lyk die formaat van die kursus?

Dit is 'n gestruktureerde program wat hoofsaaklik deur middel van tegnologies-bemiddelde onderrig en leer in kombinasie met kursusse op Stellenbosch-kampus van die Universiteit Stellenbosch aangebied word. Die program bestaan uit twaalf teoretiese modules en 'n navorsingsprojek.

'n Reeks verpligte modules wag op studente in hul eerste jaar. Hulle sal onder meer dink oor die konsepsualisering van voedselstelsels, oor die gevare en risiko's verbonde aan voedselveiligheid, en meer leer oor die rol van die landbousektor ten opsigte van voedselsekerheid.

Vanuit 'n gesondheidsoogpunt sal studente meer leer oor epidemies, die rol van verskillende voedingstowwe wat belangrik is vir goeie gesondheid, funksionele en geneties gemodifiseerde kossoorte, asook die voedselketting. In hul tweede jaar word modules gevolg oor hoe om voedselsekerheid te assesseer en beleid daaroor te formuleer.

Vir navrae oor die programinhoud, kontak prof Gunnar Sigge, voorsitter van die US Departement Voedselwetenskap by gos@sun.ac.za of prof Xikombiso Mbhenyane van die US Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe (Afdeling Menslike Voeding) by xgm@sun.ac.za. Vir algemene navrae, kontak me Ghafsa Gamiet (ghgamiet@sun.ac.za) of me Cheryl Nieuwoudt (cn2@sun.ac.za).