Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties App op kampus bekendgestel
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 17/08/2016

Ná 'n maandlange veldtog is die nuwe Maties App Maandag, 15 Augustus, bekendgestel.

Die app, wat voortspruit uit 'n projek wat in die Rekreasie- en Aktiewe Leefstyl-eenheid (RALU) binne Maties Sport ontstaan het, se doel is om kommunikasie met studente te verbeter.

Dit is ontwikkel in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) se Informasietegnologie-afdeling.

Die fokus is tans hoofsaaklik op sportverwante geleenthede, maar die langtermynplan is om uiteindelik alle universiteitverwante geleenthede in te sluit.

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, glo dit is belangrik vir die kampus om 'n app soos dié een te hê.

"Ons moet met studente kommunikeer oor goed wat vir hulle relevant is op 'n platform wat hulle gebruik, en ons weet studente hou van hul fone."

Vir Maties Sport is dit belangrik om mense na sportgeleenthede te lok, maar mense moet van 'n geleentheid weet voor hulle dit sal bywoon.

Nadat jy die Maties App afgelaai het (dit is op iOS en Android beskikbaar), sal dit vir jou die opsie gee om aan te meld, te sien wat gebeur, geleenthede by jou kalender te voeg, aan te dui of jy in 'n geleentheid belangstel of dit gaan bywoon, en uiteindelik, om by die geleentheid aan te teken (check in) sodra jy daar is.

Alle opskrifte is in drie tale beskikbaar: Afrikaans, Engels en isiXhosa.

Ander kenmerke sluit in toegang tot ondersteunerbladsye, toegang tot ranglyste van interklusterkompetisies en om 'n prent van jou studentekaart op jou selfoon te hê, hoewel dit nog nie vir amptelike doeleindes gebruik kan word nie.

Kiran Maharaj, medespanleier van RALU, sê die langtermynplan behels dat die studentekaart op die foon ook vir amptelike doeleindes gebruik kan word.

"Studente sal miskien nog hul studentekaart verloor, maar hulle is meer versigtig met hul foon."

Die universiteit sal in die toekoms die opsie hê om noodkennisgewings via die app aan studente te stuur en hulle in te lig oor moontlik gevare of probleme. Studente sal kan kies of hulle ander deurstootkennisgewings wil ontvang, maar almal sal noodkennisgewings ontvang.

Laai die Maties App van die App Store of Google Play Store af.