Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesogte beurse ʼn hupstoot vir kliniese navorsing
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 17/08/2016

​Kliniese navorsing aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn hupstoot ontvang toe drr Charles Kyriakakis, Jen Holness en Leigh van den Heuvel elk ʼn vierjaarlange beurs deur die gesogte Kliniese Navorsingsprogram van die Mediese Navorsingsraad (MNR) ontvang het.

Die MNR beoog om met hierdie program die gebrek aan MB,ChB-graduandi wat doktorale studies onderneem in Suid-Afrika aan te spreek.

 

Dr Charles Kyriakakis

Dr Charles Kyriakakis, ʼn kardioloog in die Departement Geneeskunde, doen navorsing oor tuberkuleuse perikarditis (TBP). Sy projek is deel van ʼn groot multidissiplinêre studie oor tuberkulose (TB) aan die FGGW.

Hy beoog om die huidige diagnostiese algoritmes, wat afhanklik is van biochemiese merkers om TBP te diagnoseer, te verbeter. Hy sal ook moontlike nuwe behandeling vir die siekte ondersoek.

Kyriakakis het gesê hulle beplan om ʼn gasheer-sitokien bioteken vir TBP te identifiseer wat uiteindelik sal help om ʼn toets te ontwikkel om TBP te diagnoseer wat gebruik kan word waar pasiënte gesondheidsorg ontvang.

Dit is uitdagend om ʼn noukeurige diagnose vir TBP te ontwikkel omdat die produksie van suurvaste basille in perikardiale vloeistofmonsters swak is, terwyl mikobakteriële kulture beide stadig en onsensitief is. Perikardiale weefsel vir histologiese ondersoeke is voorheen deur oop chirurgiese biopsies verkry, wat hospitaalverblyf verleng het en die siektesyfer onder pasiënte verhoog het. "Vandag onderneem ons minimaal-indringende perikardiale biopsies onder plaaslike verdowing. Hierdie metode het ʼn uitstekende veiligheidsrekord," het Kyriakakis gesê.

"My MMed-projek in hierdie veld het aanleiding gegee tot my PhD-navorsing. Die werk is uniek in dié sin dat ons die enigste eenheid in Afrika is wat van perkutane (deur die vel) perikardioskopies gebruik maak om perikardiale biopsies te doen. Daardeur vermy ons indringende oop chirurgie van die perikardium," het hy gesê.

 

Dr Jen Holness

Dr Jen Holness, ʼn MNR-kliniese navorser in die Afdeling Kerngeneeskunde, doen navorsing oor geraamde glomerulêre filtrasiespoed (GFS) onder twee verskillende Wes-Kaapse bevolkingsgroepe by die Tygerberg-hospitaal en die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

"Dit is algemeen bekend dat GFS die beste aanwyser van nierfunksie is, maar omdat dit ʼn ingewikkelde en duur toets is, dit is nie haalbaar om dit by alle pasiënte te meet nie. GFS word daarom geraam deur na die konsentrasie van kreatinien in die bloed te kyk, maar die geldigheid van vergelykings wat vir dié doel ontwikkel is, is nog nooit onder plaaslike bevolkings getoets nie," het Holness gesê.

ʼn Akkurate toets vir nierfunksie is noodsaaklik vir pasiënte met chroniese niersiektes of wat medikasie gebruik wat die niere kan beskadig, byvoorbeeld chemoterapie of antiretrovirale medikasie. Dit is ook ʼn belangrike deel van mediese siftingstoetse vir moontlike nierskenkers.

"Ek wil verseker dat pasiënte akkurate toetsresultate ontvang," het Holness gesê. "Hoe vroeër nierskade ontdek word, hoe beter is die kans om die vordering te vertraag of te stop."

 

Dr Leigh van den Heuvel

Dr Leigh van den Heuvel is ʼn psigiater en lid van ʼn span wat navorsing doen om te bepaal of daar ʼn verband is tussen neuropsigiatriese siektes en veranderbare risikofaktore vir kardiovaskulêre siektes. Dit is bekend as die Shared Roots-projek.

Shared Roots is ʼn multidissiplinêre projek binne die FGGW, met prof Soraya Seedat, die Uitvoerende Hoof van die Departement Psigiatrie, as hoofnavorser. Dit word deur ʼn vlagskipbeurs van die MNR befonds.

Van den Heuvel se PhD-navorsing is ʼn aanvullende studie van Shared Roots, waarmee sy die kortisolvlakke in die hare van deelnemers aan die studie meet. "Die kortisol in hare is ʼn moontlike biomerker vir chroniese stres, aangesien dit kortisol-uitskeiding oor langer tydperke weerspieël," het Van den Heuvel gesê. "Deur die kortisolvlakke in die hare van deelnemerste ontleed, kan ons die impak van chroniese stres op die interaksie tussen neuropsigiatriese siektes en die metaboliese sindroom evalueer."

Volgens Van den Heuvel het navorsing getoon dat stres ʼn negatiewe uitwerking op die hart het, veral in mense met gemoeds- en angssteurings, wat die risiko tot hartaanvalle beduidend verhoog.