Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biochemie studente vaar goed by konferensie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 16/08/2016

Nagraadse studente van die Departement Biochemie het hulle strepe verdien tydens die jaarlikse konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie.

MSc student Tiaan Swanepoel het die toekenning vir die beste aanbieding in die kategorie proteïene en ensemologie ontvang, terwyl MSC studente Lisa Kelbe en Simon Berge beide tweede plek verwerf het in die kategorie plante/etnomedisyne en biotegnologie vir hul aanbiedings.

Swanepoel, wat onder Prof. Johann Rohwer in die sisteembiologie navorsingsgroep werk, sê die toekenning was 'n groot verrassing. Nie alleen was dit die eerste keer dat hy 'n aanbieding doen nie, maar ook die eerste keer dat hy 'n akademiese konferensie bywoon!

Die titel van sy plakaataanbieding was: "An investigation into the effects of pH on phosphoglucoseisomerase and phosphofructokinase, the first two glycolytic enzymes of Escherichia coli and Saccharomyces cerevisiae (yeast)".

Swanepoel verduidelik: "Ons navorsing behels die konstruksie van modelle, gebaseer op wiskundige formules, om komplekse biologiese fenomene te verduidelik. Met ander woorde: ons bou modelle wat sellulêre prosesse op die rekenaar kan simuleer, met data wat deur middel van eksperimente ingewin word.

"Die bestudering van hierdie model simulasies stel ons daartoe in staat om nuwe hipoteses te vorm, sowel as om voorheen onwaarneembare interaksies tussen ensieme rekenaarmatig te verstaan. Sodoende spaar ons tyd en geld op laboratorium eksperimente om dieselfde dinge uit te vind. Dit laat ons ook toe om kontrolepunte in biologiese netwerke te identifiseer, en gee ons idees oor hoe om organismes geneties te manipuleer tot voordeel van die samelewing.

Vir sy MSc, het Swanepoel die effek van pH op die kinetika van ensieme in bakterie (E.coli) en fungus ondersoek ten einde dit te modelleer.

Swanepoel, 'n alumnus van Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, sê hy hoop om volgende jaar sy werk by die internasionale sisteembiologiekonferensie in Spanje aan te bied, en daarna wil hy met sy doktorsgraad voortgaan.

 SimonBerge.jpg  LizaKelbe.jpg

Op die foto, Simon Berge (links) en Lisa Kelbe ontvang hul pryse tydens die gala dinee van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie.