Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorste vroue-navorsers met nasionale toekennings vereer
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 12/08/2016

Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se top vroue-navorsers, prof Lou-Marie Kruger en me Caroline Pule, het Donderdag (11 Augustus 2016) nasionale erkenning ontvang toe hulle met die Departement Wetenskap en Tegnologie (DWT) se Vroue in die Wetenskap-toekennings beloon is.

Dié jaarlikse toekenningsgeleentheid het deel gevorm van die DWT se viering van Vrouemaand. Die DWT verleen die toekennings om vroue-wetenskaplikes en -navorsers as rolmodelle te vereer, en jonger vroue wat aan die begin van hul loopbane staan, aan te moedig.

Die tema van vanjaar se geleentheid was "Women's empowerment and its link to sustainable development".

Kruger, ʼn dosent in die Departement Sielkunde, was derde in die kategorie: Uitstaande Vroue-navorsers in die Geestes- en Sosiale Wetenskappe, terwyl Pule, ʼn doktorale student in die Departement Molekulêre Biologie en Menslike Genetika,  ʼn TATA Afrika-beurs vir Vroue in die Wetenskap, Ingenieurswese en Tegnologie (magister- en doktorale studente) ontvang het.

Kruger is vereer vir haar beduidende bydrae tot sielkunde in Suid-Afrika, veral haar werk oor die emosionele impak van armoede op vroue en meisies, en wat nodig is om hulle te bemagtig.Lou-Marie-BW001.JPG

Sy gebruik meestal psigo-analitiese-, feministiese- en postmoderne teoretiese raamwerke om die emosionele wêreld van lae-inkomste vroue en meisies in Suid-Afrika te beklemtoon. Kruger fokus op navorsing wat ʼn direkte impak op mense se lewens het, polities relevant is, en moontlik tot sosiale verandering kan bydra.

Sy word as een van Suid-Afrika se voorste feministiese wetenskaplikes beskou en het wyd in internasionale akademiese tydskrifte gepubliseer. Sy spog ook met verskeie boekbydraes en was ʼn studieleier vir baie nagraadse studente.

Kruger is die ontvanger van verskeie onderrig- en navorsingstoekennings en genootskappe, waaronder ʼn Rockefeller Foundation Bellagio-genootskap (2004), ʼn internasionale genootskap van die American Association of University Women (1992-1993), ʼn Clara Mayo Memorial-toekenning van Boston Universiteit in die VSA (1992) en ʼn Fullbright-beurs (1990).

Pule is met ʼn TATA-beurs beloon vir haar doktorale studie wat fokus op die fisiologie van middel-weerstandige Tuberkulose (TB). Haar navorsing kan moontlik lei tot die identifikasie van nuwe TB-medisyne en beter strategieë om die meganismes wat die TB-bakterium gebruik om medisyne te weerstaan ongedaan te maak. Dit sal ook help om die behandelingstydperk vir TB te verkort.

Pule is ʼn leiersfiguur in verskeie organisasies en ook ʼn ambassadeur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tuberkulose Vereniging (oftewel SANTA), ʼn visepresident van  South African Associates Women Graduates (SAAWG) in die Wes-Kaap, ʼn uitvoerende komiteelid van die Verening van Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap en Ingenieurswese (oftewel, SAWISE), en ʼn navorsingsdirekteur vir die Governance Leadership Organisation.

Sy het ook die Caroline Pule Science and Literacy-stigting op die been gebring vir die vestiging van wetenskapsklubs (science clubs) en die verspreiding van wetenskaplike literatuur in benadeelde gemeenskappe.

Pule is ʼn voormalige ontvanger van ʼn rektorstoekenning vir uitstaande leierskap en ʼn Nasionale Gesondheidsbeurs van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en die Departement Gesondheid.

Vanjaar se Vroue in die Wetenskap-finaliste het in vyf kategorieë meegeding te wete Uitstaande Vroue-navorsers (met onderafdelings), Uitstaande Jong Vroue-navorsers, Navorsing en Innovasie wat lei tot sosio-ekonomies impak en/of die bemagtiging van vroue, Beurse (magister- en doktorale studente) asook TATA Afrika-beurse vir Vroue in die Wetenskap, Ingenieurswese en Tegnologie (magister- en doktorale studente).  

Foto 1: Me Caroline Pule

Foto 2: Prof Lou-Marie Kruger