Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ilhaam Groeneward: Bemiddelaar vir die vooruitgang van vroue in sport
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 09/08/2016

​Op Vrouedag vertel Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, eerste vrouelid van SARU se uitvoerende raad en adjunkvoorsitter van Universiteit Sport Suid-Afrika (USSA), ons meer oor haar reis en haar droom vir vroue in sport.

Wanneer jy haar vra of sy haarself as 'n baanbreker beskou, antwoord sy met 'n omweg.

"Ek lê innoverende idees voor, implementeer nuwe strategieë en is die voorloper onder vroue wat betref die aanvaarding van senior leierskapposisies. Deur my mentorskapinisiatiewe het ek ook talent ontdek en gekweek. Is ek 'n baanbreker? Wel, dis vir diegene saam met wie ek werk om te besluit. Ek beskou myself wel as 'n bemiddelaar vir verandering en gebruik sport as 'n meganisme om dit te bereik."

Sy glo vroue se bydrae in sport word steeds nie na waarde geskat nie en kan verbeter deurdat meer vroue in besluitnemingsposisies dien met toepaslike stelsels wat bestaan om deurlopende vooruitgang te verseker. 

"Erkentlikheid, dankbaarheid, erkenning, waardering, en die heel belangrikste, respek, is verskillende maniere om erkenning te verleen en NEE, dit gebeur tans nie," sê sy.

Sy meen daar is steeds skeidsmure wat afgebreek moet word.

"Vroue moet ingesluit word op grond van 'n grondwetlike onderneming, eerder as om uitgelewer te wees aan diegene wat 'in jou glo'. Ons moet ophou om ons vermoëns en vaardighede te onderskat en ons moet ons eie standaarde stel eerder as wat daar van ons verwag word om te konformeer. Jy hoef nie saam met mans by die kroeg te sit nie, jy hoef nie gholf te speel nie, jy hoef nie die kleedkamer te besoek nie, maar jy kan as jy wil.

"Laastens moet ons ontslae raak van skuldgevoelens. Ons het werkende pa's wat ook balanseertoertjies met hul skedules moet uitvoer, dis lank nie meer net 'n uitdaging vir vroue nie. Vind 'n oplossing wat vir jou werk."

Ilhaam se droom is om 'n Leierskapkademie vir Vroue- en Meisies te stig waar die kundigheid van selfversekerde en uitgesproke vroue gebruik en bevorder kan word deur mentorskap, opleiding en ontwikkeling.

"Hoe meer rolmodelle vroue in die sportbedryf het, hoe meer vroue sal bereid wees om die uitdagings aan te pak. Dit is belangrik dat ons die vertroue het of ontwikkel om onwrikbaar te staan oor dit wat ons toekom. Hierdie rolmodelle moet oor die radio gehoor word en op die TV gesien word; hulle moet bydraes lewer deur middel van meningsartikels in publikasies, ens. Dit kan lei tot meer vroue wat die sigbare, selfversekerde en sterk vroue wat reeds daarbuite is, wil nadoen."

Sy het 'n paar lesse wat sy wil deel: "Laat gaan die onbereikbare doelwitte; maak seker dat kollegas bewus gemaak word wanneer verskillende standaarde vir vroue geld as vir mans, veral wanneer vroue suksesvol is; en verstaan goed wat sukses is, hoekom jy dit wil bereik en watter impak dit op jou breër konteks buite die werkplek sal hê."

Haar leuse is om te leef, te lag en lief te hê. "Laat ons daarom aanhou om die uniekheid van vrouwees te vier," sluit sy af.