Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"Verkleurmannetjie" van die naaldekoker-wêreld verander vinnig van kleur
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 07/08/2016

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch sê Overbergse naaldekoker is die enigste insek wat 'merkwaardig vinnig' kleur kan verander weens temperatuur – by mannetjies én wyfies

Die Spesbona waterjuffer is een van die min "verkleurmannetjies" van die naaldekoker-wêreld, en is boonop heeltemal uniek aan die insekwêreld. Wanneer die temperature daal, verander die mannetjie sowel as die wyfie van hierdie bedreigde fynbos-spesie se kleur van koningsblou tot ʼn veel donkerder bruin binne sekondes. Dit gebeur ook met sonsondergang of wanneer  ʼn wolk voor die son verbygaan. Wanneer die temperatuur weer styg, trek die insek weer vinnig sy spreekwoordelike blou baadjie aan. Dit is die enigste insek-spesie tot dusver bekend aan die wetenskap by wie hierdie omkeerbare kleurverandering weens temperatuurwisseling in albei geslagte voorkom, sê Charl Deacon, 'n nagraadse student in bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch, en sy studieleier, insek-bewaringskundige prof Michael Samways.

Hulle het onlangs hul bevindings uiteengesit in ʼn artikel in die internasionale vaktydskrif Journal of Insect Conservation 

Om van kleur te verander is ʼn vermoë wat die Spesbona waterjuffer (Spesbona angusta) deel met ʼn handvol ander naaldekokers wêreldwyd. Geen ander naaldekoker kan egter sy kleurskema heen en weer verander in albei geslagte nie. Dit is ook uniek onder insekte in die algemeen.

Hierdie kleinerige tipe naaldekoker is in die 1920's ontdek, toe ʼn vroulike voorbeeld die eerste keer opgemerk is in ʼn deel van die Cederberge naby Ceres. Daarna is gemeen dat dit uitgesterf het, totdat dit sowat 82 jaar later opgemerk is in ʼn vleigebied in die Theewaterskloof bewarea tussen Villiersdorp en Franschhoek. Sy herontdekking deur Samways en fotograaf Warwick Tarboton het gevolg na die verwydering van indringerplante in die gebied. Dit is sover steeds bekend as  die enigste gebied waar hierdie endemiese en bedreigde Suid-Afrikaanse spesie voorkom. Dit leef in poele of strome waarvan die walle bedek word met waterplante, bosserige fynbos en ander oorhangende plante.

Prof Samways het eerste hierdie kleurveranderingsvermoë in 2014 opgemerk tydens ʼn ekspedisie om naaldekokers te soek. Destyds was Deacon nog ʼn voorgraadse student en het die taak aangepak om uit te vind hoe die proses werk en om meer uit te vind oor dié waterjuffer.

"Toe prof Samways my oorspronklik vertel het van hierdie fenomeen, het ek gemeen dat ʼn insek wat in staat is tot omkeerbare kleurveranderings ʼn lekker navorsingsonderwerp sou wees – veral aangesien Spesbona angusta ʼn endemiese spesie is," onthou Deacon, ʼn opkomende jong navorser wat al waterverwante kwessies bestudeer sedert sy skooldae in die Noord-Kaapse myndorp van Kathu.

"Om dié kleurverandering reg voor my eie oë te sien gebeur binne ʼn paar sekondes is eenvoudig verstommend, en herinner my net weer oor hoe mal ek oor insekte is," voeg hierdie MSc-student in Entomologie by.

"Nadat ons ʼn paar publikasies oor kleurverandering in ongewerweldes gelees het, het ons ons metodes beplan en begin met die eerste rondte waarnemings," vertel Deacon.

Omdat dié naaldekoker so skaars is, het die navorsers slegs twee mannetjies en twee wyfies in die gebied versamel. Saam met water en plantmonsters vanuit hul tuisgebied is die insekte teruggeneem na die Universiteit Stellenbosch waar ʼn terrarium gebou is om hul natuurlike omgewing onder laboratoriumtoestande na te boots. Die navorsers het toe gekyk wat gebeur wanneer temperature in die terrarium aangepas word.

Hulle het vinnige en ooglopende verandering waargeneem, nie net in die kleur nie, maar ook in die rykheid van die skakering.

"Die kortste kleurverandering het binne 16 sekondes plaasgevind, en die langste was 32 sekondes," sê Deacon, wat dit as "besonder vinnig" beskryf.

In die sogenaamde "koel" toestand, met temperature wat wissel tussen 18 en 21 grade Celsius, het die insekte oorwegend bruin vertoon. In die "intermediêre" toestand (tussen 22 en 25 grade Celsius) was hul voorkoms ʼn mengsel van bruin en pers, terwyl dit verander het na violet of koningsblou in die "warm" toestand (tussen 26 en 28 grade Celsius) soos wat tipies is van 'n somersdag.

Die navorsers spekuleer dat hierdie kleurverandering deel van die insekte se strategie is om aan te pas by temperatuurveranderings, en ook om hul kanse om die beste moontlike maat te lok, te verbeter.

Die insek word nie aangetref binne ʼn natuurreservaat wat formeel beskerm word nie.

"Hierdie spesie is uiters habitat-spesifiek en verdra ook nie enige veranderings daaraan nie," sê prof Samways. "As ons die bestaan van hierdie fenomeen in die natuur wil verseker, sal elke poging moontlik aangewend moet word om die habitat so onversteurd moontlik te bewaar. Daarom moet ons voortgegaan om uitheemse plante in die gebied te verwyder."


Verwysing na die vaktydskrif-artikel: Deacon, C. & Samways, M.J. (2016). Conservation of a phenomenon: rapid, reversible colour change in both sexes of one of the world's most threatened damselfliesJournal of Insect Conservation, 20(3): 497 - 504

Agtergrond-inligting oor Spesbona angusta (voorheen bekend as die Ceres "streamjack", die Ceres veerbeentjie of die Ceres stroom-waterjuffer)

  • Dit ontstaan uit ʼn baie buitengewone larwe, wat maklik onderskei word van enige ander Suid-Afrikaanse waterjuffer-larwe.
  • Dit is ʼn fyn, donkerblou-en-swart waterjuffer met opmerklike lang en geboë aanhangsels.
  • Sy "normale" kleur is koningsblou op sonnige dae, wanneer naaldekokers op hul aktiefste is.
  • Sy gesig is grysblou en swart, terwyl sy kop helder grysblou is. Van bo af beskou het die kop ook ʼn duidelike mat-swart horingvormige merk.
  • Sy vlerke is deursigtig.
  • Klein swart merke verskyn op die laaste paar segmente (die "stertkant") van sy liggaam.

Bron van inligtingManual of Freshwater Assessment for South Africa: Dragonfly Biotic Index, deur Michael J. Samways en John P. Simaika (2016), Suricata 2 reeks, Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut, Pretoria