Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Letters of Stone vang die swaar las van kennis vas
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 04/08/2016

As die titel van 'n boek sy inhoud paslik kon beskryf, blyk dit dat Steven Robins se Letters of Stone dit perfek reggekry het. Soos met die gewig van klippe, word die lesers gevul met 'n gevoel van angs en begrip soos hulle, tesame met Robins, sy grootouers, tantes en ooms se laaste jare tydens die Jode volksmoord naspoor. Deur sy reis, aangevuur deur 'n enkele foto in sy ouerhuis van sy ouma, Cecilie, en sy tantes, Edith en Hildegard, te deel, gee Robins 'n diep persoonlike en pynlike weergawe van die ware gruwels en omvang van die Nazi's se ras-gebaseerde beleide teenoor die Jode. 

"Dit het nie as ʼn boek begin nie, maar eerder as ʼn begeerte om te weet wat met my pa se familie gebeur het. Alhoewel ek bewus was daarvan dat my pa en sy een broer, Artur, uit Duitsland kon ontsnap, het ʼn ou foto van drie onbekende vroue in ons gesinshuis deur my kinderjare my nuuskierigheid geprikkel, en ek wou graag uitvind wie dit was," vertel  Robins terwyl hy gesels oor die familiefoto van sy ouma en tannies, wat in Berlyn, Duitsland, geneem is voordat hulle na verskillende konsentrasiekampe gedeporteer en vermoor is.

"My reis om hul storie te ontdek, het in 1989 begin met my eerste onderhoud met my pa. Ek het gevoel dit is tyd om my in my eie familiegeskiedenis in te grawe, maar in hierdie uur lange onderhoud het ons nie werklik kans gekry om die foto en my pa se familie se lot te bespreek nie."

Ses jaar ná sy pa, Herbert, se afsterwe in 1996, het Robins na die VSA gereis om ʼn kongres van die Amerikaanse Antropologie-vereniging in Washington by te woon. Daar het hy die Amerikaanse Holocaust Memorial Museum besoek, waar hy die name van sy pa se familie, wat in die Joodse volksmoord vermoor is, in die Berliner Gedenkbuch (in Afrikaans, Die Gedenkboek van die Federale Argiewe vir die Slagoffers van die Vervolging van Jode in Duitsland 1933–1945) ontdek het.

"Ek het stilgestaan by die name van die ses Robinski-familielede: Cecilie, David, Edith, Hildegard, Siegfried en nog ʼn Edith (Siegfried se vrou). Langs hul name was hul adresse in Berlyn, geboortedatums en plek van geboorte, en datums en plekke van deportering," skryf Robins in sy boek.

"Die ontdekking het vir my soortgelyk gevoel aan dié wat deur lede van die WVK gemaak is toe hulle die wrede geheime van die apartheidsbestel aan die lig gebring het. Ek onthou die verwarde uitdrukking op die museumwerker se gesig toe hy die tevredenheid en verligting sien wat oor my gespoel het nadat ek die waarheid oor my familie geleer het. Vir my het die skrikwekkend banale, burokratiese feite oor die Robinski-familie se deportasie en hul eindbestemming hul bestaan verwesenlik. Dit het beteken dat die herinnering aan my pa se familie nie heeltemal van die aarde afgevee is nie."

Met hierdie inligting in sy besit, het Robins na Berlyn gereis, waar hy by die staatsargief aangedoen het en ʼn lêer ontdek het wat deur Nazi-beamptes oor die Robinski-familie saamgestel is. Dié lêer het, soos soveel ander wat daar bewaar word, inligting oor sy familie se rasseklassifikasie, die eiendom wat van hulle onteien is, hul deportasie en uiteindelike uitwissing bevat.

"Drie dae nadat hierdie vorm [ʼn verklaring van bates] ingevul is, is my grootouers na Riga gedeporteer," skryf Robins.

Ná hul ouers se deportasie is Hildegard, Edith en hul broer Siegfried gedwing om as slawearbeiders in fabrieke in Berlyn vanaf Oktober 1942 tot Februarie 1943 te werk, waarna al drie na Auschwitz gedeporteer is.

Robins het die inligting wat hy by die argief verkry het, gebruik om die woonstelgebou in Berlyn op te spoor waar sy oom, Siegfried, en sy vrou, Edith, gewoon het, asook die plek in Berlyn se stadskern waar sy grootouers, Cecilie en David Robinski, eens gewoon het. Siegfried en Edith se woonstelgebou in Kreuzberg bestaan nog, maar die gebou waarin sy grootouers gewoon het, het nie die bomaanvalle deur die Geallieerdes oorleef nie.

Twee jaar later, terwyl hy as akademikus by die Universiteit van die Wes-Kaap in Suid-Afrika gewerk het, is Robins genooi om Humboldt Universiteit se regskool as ʼn besoekende vakkundige te besoek. Tydens hierdie besoek het hy op die kopergedenkplate afgekom wat tussen die plaveistene van gebou-ingange aangebring is. Hierdie stene, wat Stolpersteine (struikelblokke) genoem word, is gegraveer met die name van slagoffers van die Joodse volksmoord en die datums van hul deportasie. Dit is aangebring deur die Berlynse kunstenaar Gunter Demnig, ʼn onuitwisbare herinnering dat die geboue waarvoor dit geplaas is eens die huise van Jode was wat gedeporteer en vermoor is. Demnig het hierdie stene op verskeie publieke plekke in Kreuzberg in die middel van die nag en sonder toestemming van die munisipale owerhede aangebring.

Robins het Demnig dadelik gekontak en in 2000 die eerste van hierdie stene vir Siegfried en Edith gelê, gevolg deur stene vir sy grootouers en tannies in die gebied waar hulle woonstel in die Berlynse buurt Mitte gestaan het. Robins het geglo dat dit die afsluiting sou wees van die lang reis om sy familie se tragiese geskiedenis te ontdek.

Maar terug in Suid-Afrika wou die spoke van sy familie Robins nie met rus laat nie.

"Ek het begin om die lewe van nog ʼn Robinski-voorsaat te ondersoek: my grootoom Eugen Robinski, my oupa se oudste broer wat in die laat negentiende eeu na Suid-Afrika geïmmigreer het en hom in die droë Karoodorp Williston gevestig het," skryf Robins.

Robins het die Karoo saam met die Suid-Afrikaanse dokumentêre filmmaker Mark Kaplan en sy kollega, prof. Kees van der Waal, besoek om Eugen se spore na te volg.

"Die groot voetspoor wat Eugen in hierdie klein Karoodorp nagelaat het, het geweldig verskil van die afwesigheid van spore van my pa se familie in Berlyn, of van die miljoene ander Jode wie se bestaan deur die Nazi's uitgewis is."

Eugen het die Williston Hotel gestig, ʼn drankwinkel en twee skaapplase besit, en in 1911 burgemeester geword. ʼn Straat is later na hom vernoem. Hierdie prestasies was merkwaardig, alhoewel nie uniek nie, vir ʼn Joodse immigrant in ʼn oorwegend Afrikaanse boeregemeenskap en in ʼn land waar anti-Semitiese gevoelens aan die versterk was.

Namate Robins in Eugen se verlede gedelf het, het hy aangetrek gevoel tot Suid-Afrika se eie donker rassegeskiedenis. Hy het ontdek dat Williston eens "ʼn gewelddadige grenswêreld was, waar koloniale brutaliteit bykans tot uitwissing van die Boesmans (San) in die gebied gelei het ná bloedige skermutselings in die 1860's met die Basters [die nasate van wit mans en Khoi-Khoi-vroue] en die Trekboer". Eugen het self ʼn Boesmanmeisie in sy huishouding geneem nadat haar ma na sy huis gekom het en gesmeek het om haar vir medisyne en kos te verruil, en dit kom voor dat alhoewel hierdie meisie ʼn metgesel van een van Eugen se dogters geword het, sy uiteindelik hoofsaaklik as ʼn bediende in sy huishouding gewerk het.

In die 1860's is die Basters van hul grond in Williston onteien as gevolg van nuwe rassewette, en het hulle hul uiteindelik in Rehoboth in Duits-Suidwes-Afrika (nou Namibië) gevestig.

"Wat interessant was, is dat ek, terwyl ek die geskiedenis ontdek het van die dorp waarin my grootoom gewoon het, onthou het hoe ek die werk van ʼn Duitse antropoloog en eugenetikus, Eugen Fischer, tydens my besoek aan die Holocaust Museum in die VSA in 1996 teëgekom het. Fischer het in 1908 na Suidwes-Afrika gekom om die uitwerking van rassevermenging onder die Rehoboth-basters te bestudeer, en hoe meer ek van Fischer se geskiedenis te wete gekom het, hoe meer het ek besef dat sy studie, wat in 1913 gepubliseer is, die wetenskaplike idees geskep het wat later deur talle ander Nazi-rassewetenskaplikes aanvaar is," sê Robins.

Bykans twee dekades ná sy besoek in 1908 aan Rehoboth het Fischer die Berlyngebaseerde Kaiser-Wilhelm Instituut vir Antropologie, Oorerflikheid en Eugenetiek gestig, wat deur die Rockefeller Stigting en die Carnegie Instituut befonds is. In 1933 is hy deur Hitler aangestel as kansellier van die Friedrich Wilhelm Universiteit (nou Humboldt Universiteit). Duitse rassewetenskap, wat ontstaan het uit studies wat in die Baster-nedersetting in Rehoboth uitgevoer is, sou later rassebeleide oor Jode, Roma en Sinti beïnvloed, in voorloop op die Joodse volksmoord.

"Die redenasie oor Jode was dat hulle van gemengde ras is en dat hulle die Ariese suiwerheid van die Duitse nasie bedreig. Dit is in Fischer se studies oorgebring. Maar, wat ek geleer het, is dat hierdie idees ook immigrasiebeleide in die VSA, Europa en ander dele van die wêreld beïnvloed het. In die VSA het wette soos die 1924 Wet op Immigrasiebeperking dit bykans onmoontlik gemaak vir Duitse en Oos-Europese Jode om toegang te verkry, en uiteindelik het Joodse immigrasie na die VSA minimaal geword. Dieselfde het in Suid-Afrika gebeur, waar ʼn opkoms in Afrikanernasionalisme gelei het tot die Wet op Vreemdelinge van 1937, waardeur die deur gesluit is vir Duits Joodse vlugtelinge. Hierdie wet is aangevuur deur HF Verwoerd, wat vroeër ʼn professor by die Universiteit Stellenbosch was, en wat later die grondlegger van apartheid geword het, en het my pa verhoed om sy familie te red wat in Berlyn vasgevang was," verduidelik Robins.

Dit was hierdie opkoms van anti-Semitisme in Suid-Afrika, veral in die 1930's en die oorlogjare, wat ook daartoe gelei het dat sy pa en familielede hul van van Robinski na Robins verander het, sê hy.

In 2012 is Robins teruggelok na Berlyn ná die ontdekking van ʼn sak briewe wat sy neef en niggie, David Robins en Cecilia Singer, tussen hul oorlede ma se besittings by haar woonstel in Seepunt gevind het. Die briewe was in die sorg van Artur, David en Cecilia se pa. Die briewe, wat geskryf is tussen 1936, toe Herbert en Artur na Suid-Afrika verhuis het, en 1942, toe die Robinski-familielede in Berlyn gedeporteer is, het uiteindelik aan Robins insig gebied in die gemoedslewe en -gedagtes van sy familie.

"Die briewe, wat hoofsaaklik deur my ouma en haar dogter Edith geskryf is, asook deur familielede wat na Bolivia, Swede en ander deel van die wêreld gevlug het, het vir my insig gebied in wie my familielede was, in hul stryd om uit Duitsland te kom en die rassewette wat stadig en stelselmatig hulle van hul burgerskap, menseregte en waardigheid beroof het."

Om die inhoud van die briewe te evalueer, wat in Duits Gotiese skrif geskryf is, moes Robins hulp kry by Ute Ben Josef, ʼn kunshistorikus en voormalige direkteur van die Jacob Gitlin Biblioteek in die Kaapstad Holocaust-sentrum. Die briewe moes in moderne Duits getranskribeer word voordat Ute kon begin om dit in Engels te vertaal. "Ute het nie net vertaal nie, maar kon ook tussen die lyne lees en verstaan wat nie gesê kon word nie danksy Nazi-sensuur en die selfsensuur deur my ouma, wat nie haar seuns in Afrika wou belas nie."

Een van hierdie briewe van Robins se ouma ná Kristallnacht – die doelbewuste vernietiging van Joodse huise, openbare instellings, besighede en plekke van aanbidding deur Nazi-soldate en lede van die gewapende en paramilitêre vleuel van die Nazi-party – op 14 November 1938 lees as volg: "Dank God dat Artur wettig in Rhodesië kon kom … Ek is so bly hy is weg van hier af, want jy sou in die koerante gelees het van alles wat gebeur het."

Sy skryf verder: "Hermann Holz is sedert Vrydag weg en tant Hildchen se hart is gebreek", waarmee sy verwys na die opsluiting van duisende Jode in konsentrasiekampe ná Kristallnacht. Twee weke later is Cecilie se desperaatheid om Duitsland te verlaat baie duidelik.

"Dit sou baie wenslik wees as ons so gou moontlik kon emigreer en jy moet probeer om ʼn aansoek namens ons in te dien," het sy vir Herbert geskryf.  

Cecilie, haar man en haar drie kinders, en talle ander familielede het egter, ondanks al hul pogings, Duitsland nooit verlaat nie, en is in konsentrasiekampe in Riga en Auschwitz om die lewe gebring.

"Hierdie boek is in verskillende genres geskryf – aan die een kant is dit ʼn familiegedenkskrif, maar dit plaas my familie in ʼn baie breër historiese era en plaas hul storie in die groter prosesse van die twintigste eeuse kolonialisme, eugenetiek, Nazisme en apartheid. Dit toon die wetenskaplike roete van verwoesting en hoe wetenskaplikgebaseerde beleide ʼn direkte impak op die daaglikse lewens van mense kan hê. Maar natuurlik is dit ook die storie van miljoene ander. Dit is nie net beperk tot wat met my familie in Berlyn gebeur het nie."

"Alhoewel hierdie projek dus aanvanklik ʼn persoonlike projek was in ʼn poging om uit te vind wat met my familie gebeur het, het dit verander in ʼn projek wat my akademiese wêreld en persoonlike lewe geïntegreer het. Die grense vervaag tussen my familie se geskiedenis in Berlyn en die geskiedenis van die rassewetenskap wat in die kolonies ontstaan en na Europa geneem is, en uiteindelik nie net Nazisme gevorm het nie maar ook immigrasiebeleide in die VSA, Suid-Afrika en elders beïnvloed het. Al hierdie ontwikkelinge het saamgespan om my familie in Duitsland vas te keer, en het uiteindelik tot hul uitwissing gelei."

Letters of Stone kan teen R250 by boekwinkels gekoop word.

Foto: Die ontdekking van die lotsbestemming van die drie vroue in sy familiefoto het sosiale antropoloog en Stellenbosse akademikus Steven Robins aangevuur om Letters of Stone te skryf. Die boek vertel van sy ontdekkingsreis van die lewe en lotsbestemming van die Robinksi-familie in Suider-Afrika, Berlyn, Riga en Auschwitz. Hierdie vertelling van sy pa se familie vind plaas te midde van ʼn wêreldwye opgang van eugenetiek en rassewetenskap, wat uiteindelik die regverdiging sou word vir die moord van Jode, Roma en Sinti deur die Nazi's en veroorsaak het dat Suid-Afrika en ander lande hul deure vir Joodse vlugtelinge wat asiel gesoek het, toegemaak het. (Foto verskaf.)