Van herwinning in die koshuis aan die Universiteit Stellenbosch (US) tot hoof uitvoerende beampte van 'n bekroonde afval-herwinningsmaatskappy. Ontmoet US alumnus Matthew Haden wat hard aan die werk is om uitdagings rondom afvalbestuur in Tanzanië te takel.
Haden se maatskappy, The Recycler, het onlangs meer as 250 Afrika-ondernemings uitgestof om die gesogte Sankalp Afrika-toekenning in te palm. Hierdie toekennings erken die mees volhoubare en haalbare sosiale ondernemings wat besigheid doen. Sankalp is Asië se grootste sosiale ondernemingsforum wat daarop gemik is om die groei van sosiale ondernemings te ondersteun en impak-beleggings te stimuleer.
The Recycler is in 2014 gestig en bied professionele afval- en herwinnings oplossings vir afvalstrome in Tanzanië. Dit spesialiseer in die skeiding van alle vorme van herwinbare afval om te verwerk en aan plaaslike en internasionale markte te verkoop. Die maatskappy het ook herwinning-versamelingspunte in Dar es Salaam en ontwikkel projekte in grootskaalse bio-gas, afval-tot-energie, proteïne wat afkomstig is vanaf insekte en informele versamelings netwerke. Volgens Haden, het die maatskappy meer as 20 personeellede en 40 kliënte.
"Dit is lekker om erkenning te kry, nie net as 'n onderneming wat ʼn sosiale impak het nie, maar ook as 'n besigheid waarin mense sal wil belê," sê hy.
Haden is oorspronklik van Kansas in die Verenigde State, maar het vir meer as vier jaar in Stellenbosch gebly. In 2011 het hy sy BA-graad in Internasionale Betrekkinge behaal en later sy meestersgraad in Ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Cambridge voltooi.
"Ek het in 2004 op die ouderdom van 19 vir die eeste keer na Suid-Afrika gekom om te reis en met straatkinders te werk. In 2008 het ek egter na SA teruggekeer, hierdie keer om te studeer," vertel hy.
So hoekom het hy die Universiteit Stellenbosch gekies? "Ek wou 'n Matie word, want ek wou in 'n opkomende ekonomie studeer en Stellenbosch het ook 'n baie goeie kursus in internasionale betrekkinge. Dit is ook ongelooflik mooi daar."
Haden het goeie herinneringe van sy tyd op Stellenbosch en sê hy is dankbaar vir die ervarings en die pad waarop dit hom uiteindelik geplaas het. "Ek het vir twee jaar in Kayamandi gebly en saam met die gemeenskap gewerk. Ek is ook verkies tot die Studenteraad (SR) waar ek in beheer was van die Verenigingsraad en Omgewingsake. In my tyd as SR-lid was ek nou betrokke by die eerste grootskaalse herwinningstelsel wat in koshuise geïmplementeer is. In daardie tyd het ek baie geleer oor afvalbestuur en herwinning as 'n besigheid," sê hy.
Nadat hy sy graad aan die US behaal het, het hy by 'n herwinningsmaatskappy in Kaapstad begin werk - die einste maatskappy wat die herwinbare materiaal van koshuise gekollekteer het. "Ek het dit vir nege maande gedoen, die besigheid leer ken en daarna my meestersgraad by Cambridge aangepak. Daarna het ek by die Verenigde Nasies in Tanzanië gewerk. Na sowat 'n jaar, het ek die groot potensiaal vir 'n herwinningsmaatskappy in Tanzanië raakgesien en besluit om dit self te probeer."
So, wat is volgende vir dié suksesvolle sakeman? "The Recycler is tans besig om duisende maaiers te teel deur die gebruik van organiese afval om uiteindelik hoendervoer te maak en verder brei ons uit na grootskaalse bio-gas en afval-tot-energie. Ons is ook besig om 'n terugkoop-sentrum op te rig vir die stad se armstes wat hulle in staat sal stel om afval per kilogram aan ons te verkoop."