Twee vervoerekonome se voorstel dat 'n kilometergegronde padgebruikerheffingstelsel 'n lewensvatbare alternatief tot of aanvullende bron van inkomste kan wees om die bou en onderhoud van paaie in Suid-Afrika te finansier, ontlok tans wye belangstelling.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese (SAICE) se Vervoeringenieurswese-afdeling het onlangs die prys vir die Beste referaat deur 'n jong beroepsmens (jonger as 35) aan Johann van Rensburg toegeken vir sy referaat "A kilometre-based road user charge system: Proof of concept study".
Die referaat, voorberei deur Van Rensburg en sy doktorale studieleier prof Stephan Krygsman, albei dosente in die Departement Logistiek by die Universiteit Stellenbosch, is by die 2016 Suider-Afrikaanse Vervoerkonferensie aangebied.
Hulle bevraagteken die voortgesette afhanklikheid van die brandstofheffing om genoegsame inkomste te genereer om die regering se algemene bestedingsprogramme, insluitend die bou en onderhoud van paaie, te finansier, omdat die gemiddelde hoeveelheid brandstof wat per jaar per voertuig verkoop word, besig is om af te neem.
Van Rensburg en Krygsman het 'n kilometergegronde padgebruikerheffingstelsel, wat nie van brandstofverkope afhanklik is om inkomste te genereer nie, geïdentifiseer as 'n lewensvatbare alternatief of aanvullende inkomstegenereringsmeganisme.
Hul uitgangspunt is dat padgebruik bepaal kan word deur 'n toestel waarop GPS geaktiveer is in die padgebruiker se voertuig te installeer. Die voertuig se bewegingsdata kan dan ingesamel word om 'n padgebruikfaktuur te skep teen 'n vasgestelde koers per kilometer wat gereis is.
Dit is die tweede keer dat hulle 'n referaat oor hierdie onderwerp by die SATC aangebied het en die tweede jaar wat Van Rensburg die toekenning ontvang. So ver hulle kennis strek, is dit die eerste keer dat dieselfde persoon die toekenning in twee opeenvolgende jare ontvang het.
"Beter nog, hy wen 'n ingenieursprys. En hy is 'n vervoerekonoom," het prof Krygsman bygevoeg.
Prof Hannelie Nel, voorsitter van die Departement Logistiek, het Van Rensburg en Krygsman gelukgewens. "Die prys is ʼn aanduiding van die relevansie van die werk, asook die kwaliteit van die navorsing," het sy bygevoeg.
Van Rensburg het gesê dit was 'n groot eer om 'n ingenieurstoekenning te ontvang en het beaam dat dit die relevansie van die onderwerp beklemtoon.
"Ons het verlede jaar geargumenteer dat 'n alternatief nodig is, en hierdie jaar het ons 'n alternatief aangebied. Dit is 'n "hot topic" en mense praat tans daaroor. Die aanbieding het vol lokale gelok."
Hulle volgende stap is om die idee onder die publiek en ander rolspelers te toets. Hierdie referate vorm deel van Van Rensburg se doktorale navorsing.