Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US biochemikus vereer vir kankernavorsing
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 01/08/2016

'n Biochemikus van die Universiteit Stellenbosch (US), dr. Karl Storbeck, het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie se silwer-toekenning ontvang vir sy navorsing van hoogstaande gehalte, tydens die vereniging se konferensie wat van 10 tot 13 Julie plaasgevind het.

Hierdie toekenning word elke twee jaar toegeken aan 'n navorser van 35 jaar of jonger met 'n uitstaande rekord van nasionale en internasionale navorsing. Die toekenning is tydens 'n spesiale seremonie op 13 Julie 2016 aan hom oorhandig.

Dr. Storbeck se navorsingsgroep in die Departement Biochemie ondersoek hoofsaaklik die rol van adrenale steroïedhormone in die ontwikkeling en verloop van kastrasie-weerstandige prostaatkanker. Prostaatkanker is 'n androgeengedrewe siekte en die tweede mees algemene kanker wat onder mans voorkom.

Dr. Storbeck verduidelik: "Die primêre androgeen of manlike geslagshormoon is testosteroon, wat deur die testes vervaardig word. Behandeling vir gevorderde prostaatkanker sluit dus fisiese of chemiese kastrasie in wat die vervaardiging van testosteroon verhoed. Terwyl hierdie behandeling aanvanklik uitstekende resultate lewer, keer die kanker in baie gevalle na een tot drie jaar terug, en staan dan as kastrasie-weerstandige prostaatkanker bekend wat sonder uitsondering fataal is".   

Hy het onlangs geld ontvang uit die Nasionale Navorsingstigting se kompeterende program vir gegradeerde navorsers om die rol van die steroïedhormoon 11β-hidroksiandrosteendione  in kastrasie-weerstandige prostaatkanker te ondersoek. Hy het al voorheen navorsingstoelaes van die Kankervereniging van Suid-Afrika, sowel as van die Mediese Navorsingsraad ontvang.

Hy sê hy is opgewonde oor die huidige stand van steroïednavorsing: "Onlangse vordering in tegnologie het dit moontlik gemaak om bane en meganismes te ondersoek wat voorheen oor die hoof gesien is. Ek hoop dat hierdie navorsing sal bydra tot die suksesvolle diagnose en behandeling van kastrasie-weerstandige en ander androgeenafhanklike siektes."

Dr. Storbeck wat sy BSc, HonsBSc, MSc en PhD aan die US verwerf het, was al outeur of mede-outeur van ongeveer 30 navorsingspublikasies en het reeds navorsingsvoordragte gelewer by meer as 20 internasionale en nasionale konferensies. Hy het ook al verskeie toekennings gekry, soos die HB en MJ Thom-sabbatsverloftoekenning (2015), die US Rektorstoekenning vir algemene  prestasie (2014), en die Toekenning vir Uitnemende Jong Navorsers by die 15de Konferensie van die Adrenale Korteks wat in 2012 in die Verenigde State van Amerika gehou is.

As student het hy in 2004 die Roche-prys ontvang as die beste honneursstudent in Biochemie in Suid-Afrika en in 2003 het hy die Merck-toekenning ontvang as die beste derdejaarstudent in die molekulêre biologie en biotegnologie-program aan die US.