Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kliniese Farmakoloog kry erkenning vir innoverende onderrig
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 27/07/2016

Dr Eric Decloedt van die Afdeling Kliniese Farmakologie het die toekenning as Opvoeder van die Jaar ontvang as erkenning vir sy bydraes tot uitnemendheid, vakkundigheid en bewysbare prestasie in farmakologie-onderrig. Hy het dié gesogte toekenning van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Basiese en Kliniese Farmakologie (SASBCP) ontvang.

Decloedt is die koördineerder van die voorgraadse kliniese farmakologie-onderrig aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy innoverende en gewilde onderrigmetodes is ʼn duidelike bewys van sy entoesiasme vir onderrig. "My benadering tot onderrig is om passie en entoesiasme oor te dra, om studente in die regte rigting te stuur en hulle toe te laat om te verken, te groei en te floreer binne die omvattende dissipline van Kliniese Farmakologie.

"Kliniese Farmakologie is op elke dissipline van toepassing omdat alle mediese dokters deur die loop van hulle werksdag ʼn voorskrif moet uitreik," verduidelik hy. "Dit is algemeen bekend dat ondeurdagte voorskrifte pasiënte se gesondheid nadelig kan beïnvloed en tot hospitalisering en selfs sterfgevalle kan lei. Die gesondheidstelsel kan onbepaalde voordeel trek indien toekomstige dokters opgelei word om weldeurdagte voorskrifte uit te reik.  

Volgens Decloedt is farmakologie ʼn toegepaste dissipline wat maklik vanuit handboekkonsepte omgeskakel kan word na praktiese ingrypings wat ʼn direkte invloed op pasiënt-uitkomste het. "Ek hou daarvan om die tersaaklikheid van kliniese farmakologie aan studente oor te dra. Hulle word maklik gestimuleer wanneer die terapeutiese ingryping in verband gebring word met bestaande fisiologiese en patologiese kennis."

Die landskap van hoër onderwys is besig om drasties te verander as gevolg van die digitale revolusie. Decloedt sê die era van tegnologie het ʼn aktiewe leerder geskep en studente draf klas met voorafkennis en het voortdurend toegang tot die internet. "Ek vind dit baie bevredigend wanneer studente jou krities evalueer en uitdaag."

In antwoord hierop het hy die module vir vyfdejaar- mediese studente herstruktureer om voorsiening te maak vir lesings in kliniese farmakologie in die oggende en toegepaste werkswinkels in die middae. Studente word blootgestel aan vergelykbare pasiëntgevalle wat aktiewe deelname en leer bevorder.

"Die blote aantal studente maak onderrig deur kleingroep-interaksies onmoontlik," sê hy. Die omgekeerde klaskameromgewing laat ander vaardighede na vore kom as gewone didaktiese onderwys. "Aanbiedings word deur studente gelei en dit bring ʼn genotvolle en soms ook humoristiese leeromgewing mee." Verder is daar ʼn aanlynbesprekingsplatform wat leer buite die klaskamer bevorder en deelname word aangemoedig deur die toekenning van bonuspunte.

Decloedt is ook betrokke by die ontwikkeling van die nagraadse program vir kliniese assistente in Kliniese Farmakologie, waar hy dieselfde onderrigbenadering toepas.