Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe gisspesie vernoem na US wetenskaplike
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 27/07/2016

'n Mikrobioloog van die Universiteit Stellenbosch (US),  prof. Alf Botha, is vir sy navorsingsbydrae op die vakgebied van gis-ekologie vereer deurdat 'n nuwe gisspesie wat ontdek is, na hom vernoem is.

Saturnispora bothae spesie nov., 'n gis wat geïsoleer is uit stukkies verrotte hout wat van 'n Atlantiese reënwoud in Brasilië afkomstig is, word beskryf as 'n nuwe spesie in 'n navorsingsartikel wat vandeesmaand in die International Journal of Systematic and Evolutionary Microbiology gepubliseer is.

Twee van die wetenskaplikes wat verantwoordelik was vir die beskrywing van die nuwe spesie, prof. Carlos Rosa van die Federale Universiteit van Minas Gerais in Brasilië, en prof. Marc-André Lachance van die Westelike Universiteit in Kanada, word as wêreldleiers op hulle onderskeie vakgebiede beskou.

In die artikel voer hulle aan dat die nuwe spesie vernoem is na "Alfred Botha, ter erkenning van sy bydrae tot die studie van gis-ekologie".

Prof. Botha sê alhoewel daar sekerlik nog miljoene onontdekte gisspesies is, voel hy baie geëerd om op hierdie wyse vereer te word.

Terwyl gisekologie gewoonlik met die fermenteringsprosesse in brood, wyn en bier geassosieer word, kom hierdie eensellige fungi wydverspreid in die omgewing voor – selfs in die dermkanaal van muskiete, plantwortels en op walvisse se vel. Prof. Botha se navorsingsgroep van die US se Departement Mikrobiologie fokus reeds sedert 2000 op die interaksies van gis met die omgewing.

Gedurende hierdie tydperk het hulle verskeie belangrike bydraes gelewer tot wetenskaplikes se verstaan van, byvoorbeeld, die simbiose tussen die gis Cryptococcus laurentii en die wortels van plante soos lupiene en die boegoeplant, 'n medisinale fynbosplant.

In 2006 is prof. Botha deur prof. Rosa uitgenooi om 'n hoofstuk oor giste wat in die grond voorkom te skryf vir The Yeast Handbook. 'n  Artikel van hom: "The Importance and Ecology of Yeast in Soil," wat in 2011 in die vaktydskrif Soil Biology and Biogeochemistry verskyn het, is reeds 64 keer aangehaal.

Wat patogene giste aanbetref, het navorsing van hierdie laboratorium getoon hoe sekere giste deur muskietlarwes as kos gebruik word en daardeur die lewensiklus van hierdie insekte aanhelp. Hulle het ook uitgebreide werk gedoen op Cryptococcus neoformans, 'n patogene gis wat deur die lug versprei word en wat jaarliks vir duisende MIV/Vigs-verwante sterftes in Sub-Sahara Afrika verantwoordelik is.

Tans is sy navorsingsgroep betrokke by 'n groot internasionale navorsingsprojek wat poog om die natuurlike habitate van 'n nuwe Emmonsia-agtige fungus te identifiseer aangesien dit tans vir die verspreiding van infeksies onder MIV-geïnfekteerde individue in Suid-Afrika verantwoordelik is.

Meer oor prof. Botha

Prof. Botha het in 1987 sy BScAgric-graad in Biochemie aan die Universiteit Stellenbosch behaal, wat hy opgevolg het met 'n HonsBScAgric, ook in Biochemie. In 1986 het hy hom by die WNNR in Pretoria aangesluit, waar hy vir die eerste keer aan die veld van gisbiologie bekendgestel is deur prof. J.P. van der Walt, wat self 'n student was  van die bekende Nederlandse mikrobioloog prof. Albert Jan Kluyver. Terwyl prof. Botha by die WNNR werksaam was, het hy sy MSc-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal onder die gesamentlike studieleiding van prof. Albert Eicker en prof. van der Walt. Hy ontvang sy PhD in 1993 van die Universiteit van die Vrystaat en in 1998 is hy as senior dosent by die US aangestel en in 2003 tot medeprofessor bevorder. Sedert 2011 is hy volle professor.