Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek wys hoe naaldekokers kan help om stand van water te monitor
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/07/2016

Suid-Afrika se 162 sonliefhebbende naaldekoker-spesies is nie net pragtig op die oog nie, maar kan ook bewaringskundiges, waterbestuurders en boere help om die toestand te monitor van plaaslike varswaterbronne, soos riviere, strome en damme. Om vir hulle te wys presies hoe dit gedoen kan word, het twee akademici van die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn nuwe boek saamgestel. Die nuwe 224-bladsy volkleur Manual of Freshwater Assessment for South Africa: Dragonfly Biotic Index is geskryf en saamgestel deur prof Michael Samways, gerekende insek-bewaringskundige van US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, en water-ekoloog dr Johan Simaika, ʼn navorsingsgenoot in die US Departement Grondkunde.

"Om naaldekokers te gebruik vir varswater-assessering is heel eenvoudig, want hulle is redelik maklik om te identifiseer," sê prof Samways. "Al wat jy nodig het is ʼn goeie gids, ʼn naby-fokus verkyker, en ʼn sonnige dag."

Die boek trek navorsing saam wat die twee academici oor die afgelope dekade gedoen het, en waaruit hulle ʼn handige biotiese indeks saamgestel het wat relevant is vir Suid-Afrika se varswaterstelsels. Gedurende hul veldwerkekspedisies het die twee Matie-kundiges ook nuwe soorte naaldekokers ontdek en andere help herontdek.

Hul handleiding bevat volkleur foto's en lyntekeninge en kan daarom ook as ʼn veldgids gebruik word om naaldekokerspesies op te spoor en te identifiseer. Baie van die foto's is geneem deur die skrywers self tydens hul navorsing oor naaldekokers, ʼn breë term wat gebruik word vir die bekende ware naaldekoker, sowel as die klein en gewoonlik fyner en delikater waterjuffer ("damselfly").

Dr Simaika sê die publikasie is heel maklik om te lees. "Dit is ook baie toeganklik, aangesien enigeen dit sal kan aflaai, uitdruk of deel, enige plek in die wêreld," sê hy.

Die handleiding is beskikbaar in boekvorm of op CD, en sal ook eersdaags beskikbaar wees om gratis vanaf die Internet af te laai. Dit word uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI), as deel van sy Suricata-reeks.

"Boeke soos hierdie een is ʼn goeie beginpunt om mense se bewus te maak van omgewingskwessies. As maar net een uit elke tien lesers meer begin nadink oor varswaterbewaring, het ons in ons doel geslaag," voeg dr Simaika by. "Ek hoop dit moedig ook mense wat reeds in die watersektor werksaam is aan om anders te dink oor varswater-biodiversiteitsbewaring, omdat dit 'n aspek is wat te dikwels agterweë bly gedurende pogings om water vir menslike gebruik te verseker."

Hoekom naaldekokers gebruik om varswaterstelsels te assesseer?

Naaldekokers word oral in die wêreld aangetref, behalwe in Poolstreke. Sommiges is hoogs sensitief vir enige menslike impak, terwyl ander weer regte opportuniste is wat in die mees kunsmatige habitatte oorleef, soos bees-trôe en selfs voëlbaddens. "Hierdie uiteenlopende sensitiwiteite maak naaldekokers baie nuttig as goeie aanduiders van varswaterkwaliteit en -bewaring," sê prof Samways.

"Wanneer ʼn waterstelsel agteruitgaan weens byvoorbeeld besoedeling of opdamming is daar altyd ʼn verandering in die spesies wat in die gebied aangetref word, en jy kry dikwels dat meer sensitiewe spesialiste plek maak vir spesies wat nie so uitsoekerig is nie," verduidelik hy. "As jy weet watter spesies teenwoordig is in en om ʼn waterbron, kan jy byvoorbeeld oor tyd vasstel tot watter mate ʼn stroompie byvoorbeeld aan die herstel is nadat dit eens besoedel was of nadat indringerplante daaruit verwyder is."

Hoe werk die naaldekoker-indeks?

Prof Samways en dr Simaika het hul biotiese indeks vir naaldekokers oor die afgelope dekade ontwikkel.

"Een van die voordele van die biotiese indeks van naaldekokers is dat jy nie in die water in te hoef waad om monsters te neem wanneer jy ʼn assessering wil doen nie; jy kan dit doen vanaf die relatiewe gerief van ʼn rivier- of damwal," merk prof Samways prakties op.

Drie hoofkenmerke van elk van die 162 Suid-Afrikaanse spesies word in die proses in ag geneem. Punte is daarvolgens aan elke spesie toegeken, sodat hulle met mekaar vergelyk kan word om 'n oorsig oor die stand van 'n waterbron te kan gee.

Die kenmerke wat gebruik word, is:

  • 'n Spesie se verspreidingsgebied (byvoorbeeld of dit baie algemeen voorkom, en of dit net op 'n paar plekke te vinde is);
  • Hoe bedreig dit is (byvoorbeeld as dit as 'n bedreigde of kwesbare spesie op die 'Rooi Lys' van die Internasionale Vereniging vir Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne verskyn); en
  • Hoe sensitief of gevoelig die spesie is vir enige mensgemaakte verandering aan die waterbronne waar dit hou.

Wanneer ʼn stelsel agteruitgaan is daar ʼn verandering in die totale aantal spesies teenwoordig en die punte wat toegeken word, van hoog na laag. Wanneer die stelsel weer verbeter, is daar ʼn gevolglike verskuiwing in die teenoorgestelde rigting.

"In kort: ons kan met die gebruik van naaldekokers bepaal of ons bekommerd moet wees oor ʼn stelsel wat agteruitgaan, of hoe goed ons vaar met die verbetering van ʼn ander ene," verduidelik dr Simaika verder.

Die boek is te koop in die meeste boekwinkels van die SA Nasionale Biodiversiteitsinstituut (bookshop@sanbi.org.za), of kan bestel word by prof Michael Samways by samways@sun.ac.za.

Algemene inligting oor die boek:

  • Voorgestelde sitasie: Samways, M.J. & Simaika, J.P. (2016). Manual of Freshwater Assessment for South Africa: Dragonfly Biotic Index, Suricata 2. Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut, Pretoria.
  • ISBN: 978-1-928224-05-1
  • Dit is beskikbaar in boekvorm, op CD of kan binnekort gratis afgelaai word by http://biodiversityadvisor.sanbi.org/literature/4327-2/suricata/


  • Bykomende inligting
  • 162 spesies van naaldekokers is tot dusver in Suid-Afrika aangeteken.
  • Een uit elke vyf van hierdie spesies is endemies en word nêrens anders ter wêreld aangetref nie.
  • Die meeste Suid-Afrikaanse spesies verkies goeie sonligtoestande.
  • Ons plaaslike spesies word onder meer bedreig deur die voorkoms van indringerplante en besoedeling.