Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vetsugtigheid kan lei tot Osteoartritis
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 22/07/2016

Osteoartritis (OA) is die algemeenste vorm van artritis, met miljoene mense wat wêreldwyd deur hierdie siekte geraak word. Alhoewel die omvang van die siektelas nie goed in Suid-Afrika vasgestel is nie, ly daar volgens die Nasionale Stigting vir Artritis in die VSA een uit vyf mense bo die ouderdom van 18 jaar aan OA.

"Alhoewel hierdie siekte grootliks toegeskryf kan word aan "slytasie" of degeneratiewe siektes, is daar nuwe navorsing wat daarop dui dat vetsugtigheid – wat ʼn risikofaktor van OA is – die siekte kan veroorsaak wanneer vetweefsel stowwe uitskei wat ontsteking kan veroorsaak," het dr Mou Manie, Hoof van die Afdeling Rumatologie van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, gesê.

Die siekte tas mense op verskillende maniere aan, met gewrigskade wat oor jare of in sommige gevalle vinniger kan ontwikkel. Dit kan die pasiënt se fisiese gesondheid benadeel en by baie het dit ook ʼn negatiewe invloed op hulle leefstyl en finansies.

Dr Manie het die algemeenste vrae oor hierdie siekte beantwoord.

 

Wat is Osteoartritis (OA)?

1.    Wat is OA ?

Die term artritis beteken ontsteking van ʼn gewrig of gewrigte. OA is ʼn soort artritis wat ontstaan wanneer die beskermende kraakbeen, wat aan die bo- en onderpunte van die bene in die gewrigte voorkom, verweer.

 

2.    Hoe algemeen is OA ?

Dit is die algemeenste vorm van artritis. Dit begin meestal teen die ouderdom van 50 jaar en hoër en tas toenemend al hoe meer gewrigte aan sodat die meeste mense teen 70-jarige ouderdom deur hierdie siekte aangetas is. 

Met meer mense wat langer leef, is OA bes moontlik ʼn belangrike bydraende faktor tot die siektelas wat die muskuloskeletale stelsel aantas.

3.    Hoekom moet lede van die publiek en instansies ingelig wees oor OA?

OA kom in verskillende vorms voor en baie mense ly onwetend aan hierdie toestand. OA is nie net die algemeenste tipe artritis nie, maar dit is ook ʼn belangrike bydraende faktor tot die globale siektelas. ʼn Studie wat in Kaapstad gedoen is, het getoon dat een van die tipes OA, naamlik meganiese rugpyn, ʼn baie algemene rede vir siekverlof was, wat ʼn negatiewe invloed op die land se ekonomie het.

 

4.    Watter gewrigte word deur OA aangetas?

Die gewrigte wat meestal aangetas word, is die hande, waar die distale en proksimale (voorste en agterste) vingergewrigte en die basis van die duim aangetas word. Ander gewrigsareas wat aangetas word sluit die knieë, heupe, basis van die groottoon, laer werwelkolom en lae rug in.

 

5.    Wat is die risiko faktore om OA te ontwikkel?

Die bekendste faktore wat aanleiding gee tot OA is:

  • Ouderdom.
  • Gender – vrouens is meer vatbaar as mans.
  • Genetika – die nodale of knopperige tipe wat hoofsaaklik die hande aantas (sien hieronder), is geneig om in families voor te kom. Daarteenoor, met die tipe siekte wat die gewigdraende gewrigte soos die knieë en heupe aantas, speel die genetiese faktore nie so ʼn sterk rol nie.
  • Oorgewig – dit is vermoedelik as gevolg van gewig en stremming, veral op die kniegewrig.
  • Vorige gewrigskade, veral aan die kraakbeen. Tipiese voorbeelde sluit in:
      • Trauma of beserings.
      • Die teenwoordigheid van gewrigsiektes soos rumatoïede artritis en jig.
      • Abnormaliteite van die onderliggende kraakbeen wat deur ander siektes soos Perthes se siekte veroorsaak word.

         

6.    Hoe onderskei ʼn mens tussen OA en ander tipes artritis soos byvoorbeeld rumatoïede artritis (RA) en jig?

Die belangrikste onderskeidende kenmerke is die verspreiding van gewrigte wat aangetas word en die aard van die pyn. Met OA word die pyn tipies deur aktiwiteit vererger, terwyl die pyn met RA deur aktiwiteit verlig word. Met OA word die hande aangetas, maar oor die algemeen nie die gewrigte en elmboë nie. Meer gewrigte word deur RA aangetas en die gepaardgaande oggendstyfheid is dikwels langer. Met jig is die aanvang van die siekte kenmerkend meer akuut en is dit ʼn algemene oorsaak van ʼn enkele, baie pynlike en geswolle gewrig.
 

7.    Hoe word OA behandel?
Daar is geen kuur vir OA nie en die behandeling bestaan hoofsaaklik uit medikasie soos parasetamol, ibuprofeen of diklofenak wat pyn en ontsteking verlig. By pasiënte met nodale OA van die hande, kan toestand-veranderende terapie soos chlorokien help om erge pyn en ontsteking wat sommige pasiënte mag ervaar, te verlig.

Direkte aanwendings soos metielsalisilaat-salf is al suksesvol gebruik. ʼn Produk wat meer onlangs bekendgestel is, ʼn komplimenterende direkte jel genaamd Flexiseq, toon ook belofte.

Daar is nie genoegsame bewyse beskikbaar dat oor-die-toonbank behandelings soos glukosamien en chondroïtien werk nie, maar sommige pasiënte ervaar wel verligting van simptome. By gevalle waar ʼn enkele gewrig aangetas is, byvoorbeeld diegene met OA in die knie, kan fisioterapie en gewigsverlies help. In erge gevalle mag chirurgie soos ʼn knie- of heupvervanging nodig wees.

 

8.    Is daar enige nuwe ontwikkelings in die OA-veld?

Ten spyte van uitgebreide internasionale navorsing het die soektog na meer opsies, insluitende die gebruik van biologiese middels (geneties gemanipuleerde proteïene wat vanuit menslike gene verkry word) om die verloop van die siekte te verander, nog geen oortuigende resultate gelewer nie.

Dit is interessant dat alhoewel hierdie siekte grootliks toegeskryf kan word aan "slytasie" of degeneratiewe siektes, daar nuwe navorsing is wat daarop dui dat vetsugtigheid – wat ʼn risikofaktor van OA is – dié siekte kan veroorsaak as gevolg van die uitskeiding van stowwe wat deur vetweefsel vrygestel word wat ontsteking veroorsaak.

Nuwer studies dui ook daarop dat alhoewel die primêre teiken vir gewrigskade die kraakbeenweefsel om die gewrigte is, ander faktore soos beenagtige abnormaliteite en veranderende pyngewaarwording ook deel van die siekteoorsake van OA kan wees.

Medianavrae

Mandi Barnard
Bemarkingskoördineerder
+27 (0)21 938 9505
mandi@sun.ac.za
Bemarkings- en kommunikasiekantoor
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch                                                

Webwerf:     www.sun.ac.za/health
Facebook:   www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter:         @SUhealthsci