Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Universiteitskoor maak skoonskip by Koorspele
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 17/07/2016

Die Universiteitskoor van Stellenbosch onder leiding van André van der Merwe, is die groot wenner by die agtste Internasionale Koorspele in Rusland wat Saterdag ten einde geloop het.

Die US Koor het eerste plekke en goue medaljes in drie kategorieë verower. In die kategorie gewyde á Capella het hulle 92% behaal, in die kategorie vir geestelike liedere 94% en in die afdeling vir kontemporêre musiek 98%. Dit is die hoogste punt toegeken in enige van die 27 kategorieë waarin daar die afgelope 10 dae meegeding is. Met hierdie prestasie behou die US Koor hul eerste plek op die Interkultur-ranglys vir beste internasionale nie-professionele kore, ʼn posisie wat hulle reeds sedert 2012 beklee.

As verdere bonus het die US Koor ook ʼn spesiale CD-kontrak losgeslaan in die gesogte Choirs of the World-reeks.

"Die wen is werklik 'n bonus," sê Van der Merwe. "My uitgangspunt is nooit net "om te wen nie". Dit is vir my baie lekkerder om myself en die span uit te daag om die musiek met integriteit te ontgin. As die musiek eerste kom, kommunikeer dit kragdadig. Uiteindelik gaan dit daaroor om jouself uit te daag en te ervaar hoe jou kultuur-eie in die internasionale konteks figureer."

Die Internasionale Koorspele word tweejaarliks aangebied en vanjaar het meer as 300 kore uit 36 lande deelgeneem. Dit is die grootste koorkompetisie ter wêreld. Interkultur het vroeër aangekondig dat die negende Internasionale Koorspele in 2018 in Tshwane, Suid-Afrika, gehou sal word.

Die US Koor bestaan uit 120 studente en André van der Merwe is reeds die afgelope 12 jaar die dirigent. "Die koorlede was ware ambassadeurs vir Matieland en Suid-Afrika," sê Van der Merwe verder. "Koorsang snoer nie net ons eie kulture saam nie, maar wys ook vir internasionale gehore dat musiek mense werklik nader aan mekaar bring. Ek is ongelooflik trots op die koor - sukses is nooit 'n eenmanvertoning nie. Agter die glorie van prestasie skuil 'n sisteem van uitsonderlike bestuur; spanwerk en toewyding."

Die Koor sal in twee groepe na Suid-Afrika terugkeer. Die eerste groep word op Dinsdag 19 Julie by die Kaapstadse Internasionale Lughawe verwag en die tweede groep op Vrydag 22 Julie.

- Meer inligting volg

- Foto: World Choir Games Facebook-blad