Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die verband tussen gedrag en breinverbindings ondersoek
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 15/07/2016

Dr Annerine Roos, ʼn navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), is onlangs genooi om haar navorsing oor die verband tussen gedragsteurnisse en breinverbindings aan te bied by twee internasionale kongresse, een in Dallas en die ander in Genève.

Roos is betrokke by verskeie projekte wat die psigobiologie en behandeling van angssteurings ondersoek as lid van die navorsingspan aan die Mediese Navorsingsraad (MNR) se Eenheid vir Angs- en Stressteurings by die US en die Universiteit van Kaapstad.

Sy het befondsing ontvang van die TLC Foundation for Body-Focused Repetitive Behaviours om ʼn plakkaataanbieding te doen tydens hulle jaarlikse kongres wat in April 2016 in Dallas gehou is.

Die toekenning volg op die publikasie van 'n artikel getiteld "A comparison of brain volume and cortical thickness in excoriation (skin picking) disorder and trichotillomania (hair pulling disorder) in women" in ʼn Elsevier-joernaal. Roos was die eerste outeur van die artikel oor navorsing wat in samewerking met die Universiteit van Chigago gedoen is. Vir hierdie spesifieke studie het sy breindata van pasiënte met dié van kontrolegroepe vergelyk om ʼn onderskeid tussen groepe te tref.

In Junie het sy in Genève ʼn plakkaat, getiteld "Brain Network Connectivity in Women Exposed to Intimate Partner Violence", aangebied by die jaarlikse vergadering van die Organization of the Human Brain Mapping (OHBM). Die OHBM is die internasionale hoofliggaam wat daartoe verbind is om die werking van die menslike brein met behulp van neurobeelding te ontdek.

Roos sê sy voel geëerd deur die uitnodigings om haar navorsing aan internasionale gehore aan te bied. "ʼn Mens werk agter die skerms sonder om altyd te weet te wat die impak van jou navorsing kan wees."

Sy het verduidelik dat navorsing oor hierdie steurnisse dikwels nie hoog op die agenda is in vergelyking met steurings wat ʼn hoër voorkoms in terme van die wêreld se siektelas het nie. "Maar ons moet steeds hierdie kwessies ondersoek om mense wat swaarkry te kan help," het sy gesê. "Die kongres in Dallas was ʼn uitstekende geleentheid om tydens die interaktiewe sessies saam met kenners, pasiënte en familielede na antwoorde te soek."

Tussen die twee konferensies het Roos tyd ingeruim om vir twee weke aan ʼn uitreikingsprogram in Nigerië deel te neem. Sy het in 2015 ʼn Honneursgraad in Bediening aan die Team Impact Christian University (VSA) verwerf. "Dit stel my in staat om na gemeenskappe uit te reik en bedieningswerk te doen. Ek werk ook saam met dokters by die plaaslike universiteite om vas te stel of daar mediese en opleidingsbehoeftes is en hoe ons kan saamwerk om die dringendste behoeftes aan te spreek."