Die voorkoms van tipe 2-diabetes is besig om wêreldwyd en in Suid-Afrika vinnig toe te neem, en raak mans en vroue van alle ouderdomme. Volgens die Internasionale Diabetes-federasie was daar in 2015 ongeveer twee miljoen Suid-Afrikaners met diabetes en het 57 318 gesterf weens komplikasies wat met die siekte verband hou. En met hierdie getalle wat moontlik gaan styg, is pogings dringend nodig om diabetes te beveg.
Een van die maniere om die siekte in veral arm of benadeelde gemeenskappe te bekamp, is deur professionele- en gemeenskapsgebaseerde leefstylintervensies, sê dr Bradley Fryer, 'n biokinetikus van Stellenbosch. Fryer het in sy onlangs sy doktorsgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) gekyk na hoe 'n lae-koste leefstylintervensie kan help om diabetes in die Cloetesville-gemeenskap in Stellenbosch hok te slaan.
Hy sê hulle het op Cloetesville besluit omdat vorige navorsing getoon het voorvalle van diabetes is hoog in bruin gemeenskappe. Fryer wys ook daarop dat vorige studies die verband tussen ʼn laer sosio-ekonomiese status en ʼn hoër voorkoms van diabetes uitgelig het.
Fryer sê sy studie ̶ die eerste omvattende leefstylintervensie in Stellenbosch en Suid-Afrika om op fisiese aktiwiteit, dieetbeplanning en psigososiale ondersteuning te fokus ̶ het gewys dat 'n 10-weke omvattende leefstylintervensie die fisiologiese, sielkundige en gesondheidsverwante uitkomste in volwassenes met tipe 2-diabetes in 'n arm of benadeelde gemeenskap kan verbeter. 
"Die studie het getoon dat 'n holistiese en lae-koste program wat elke faset van die siekte teiken ʼn beter kans op sukses het. Dit wys ook hoe gemeenskapsgebaseerde intervensies die primêre gesondheidsorgsektor kan steun in die bestuur en voorkoming van diabetes."
Drie-en-veertig mans en vroue tussen die ouderdomme van 33 en 80 het die program voltooi. Die program het bestaan uit 30 oefensessies met 'n geregistreerde biokinetikus, 10 motiveringsonderhoude sessies (een keer per week) met 'n gekwalifiseerde gemeenskapsielkundige en 10 dieetberadingsessies met 'n geregistreerde dieetkundige.
Deelnemers het drie keer per week vir ʼn uur geoefen en een keer per week ʼn dieetkundige geraadpleeg om hulle te help om gesond te eet. In bykans al die oefeninge (trapklim, muur-opstote, touspring) het hulle hul eie liggaamsgewig gebruik en ook op funksionele bewegings gefokus om hul aërobiese fiksheid, krag en soepelheid te verbeter. Die motiveringsonderhoude wou deelnemers help om diabetes die hoof te bied en strategieë te implementeer om dit doeltreffend te bestuur.
"Deur middel van ons intervensie het deelnemers se eetgewoontes en leefstyl verander en is dit selfs gedurende die opvolgperiode gehandhaaf. Waar hulle voorheen baie suiker en verfynde koolhidrate ingeneem het, het hulle nou begin om volgraanbrood in plaas van witbrood te eet," sê Fryer.
"Hul kardiovaskulêre vermoë het verbeter en hul liggaamsvet, bloedsuikervlakke en bloeddruk het afgeneem."
"Ons het dit alles aan die begin en einde van die 10-weke program gemeet, asook by nog ʼn sessie 10 weke ná die program."
"Deelnemers kon ook hul totale loopafstand tydens 'n ses-minute staptoets verbeter. Hierdie toets word allerweë beskou as 'n akkurate maatstaf om diabete se funksionele kapasiteit en algehele oefenvermoë te bepaal."
Fryer sê die toets was voor en na die program, en vir 'n derde keer by die sessie wat 10 weke ná die program gehou is gedoen.
"Een van die mees inspirerende verhale was dié van 'n bejaarde vrou wat vroeër 'n beroerte gehad het, en probleme met een arm gehad het, maar deur middel van die oefeninge in staat was om dit weer te kon gebruik. 'n Ander vrou was weer gelukkig met haar gewigsverlies."
Fryer voeg by dat data van vraelyste en motiveringsonderhoude getoon het dat deelnemers se persepsies oor gesondheid en lewensgehalte, asook hul eiewaarde en selfdoeltreffendheid aansienlik verbeter het.
Hy sê die program het so 'n positiewe impak gehad dat mense wat nie diabete was nie dit begin volg het.
"Die kerkgemeenskap het inligting oor die program versprei en familielede en vriende wat deelgeneem het, het ook daaroor begin praat."
"Gegewe die sukses van die program, wil ons graag die gemeenskap in beheer plaas en net help toesig hou en dit fasiliteer. Ons wil ook graag maatskappye betrokke kry."
"Maatskappye kan nie net die program befonds nie, maar ook leerders uit die gemeenskap wat dalk sportwetenskap wil studeer en later by die program betrokke wil raak. Só sal hulle in staat wees om in die gemeenskap terug te ploeg en ook waardevolle werksondervinding op te doen."
Fryer sê hulle sal graag op 'n later stadium die intervensie in samewerking met ander universiteite en maatskappye na ander Stellenbosse gebiede, soos Kayamandi, die Boland en selfs die res van die land wil uitbrei.
Hy voeg by dat sy betrokkenheid by die program vir eers beperk is as gevolg van sy verpligtinge in ʼn privaatpraktyk, maar dat Kasha Dickie van die US se Departement Sportwetenskap die hooffasiliteerder is. Sy was ook betrokke by die program en ken die gemeenskap goed.
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Bradley Fryer
Rhodes-Noordstraat 18
Die Boord, Stellenbosch
Tel: 021 883 2891
Sel: 082 551 2318
E-pos: bradleyjfryer@gmail.com
Martin Viljoen
Korporatiewe Bemarking
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: viljoenm@sun.ac.za