Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suksesvolle debuut by USSA vir Maties Basketbal
Outeur: Maties HP
Gepubliseer: 12/07/2016

Maties Basketbal se mansspan het nie net algeheel sesde gekom in sy eerste USSA-toernooi nie, maar het in die proses ook gekwalifiseer vir die Varsity Sports-basketbaltoernooi.

Die span se afrigter, Zarko Krkeljas, het die toernooi as 'n wonderlike leerervaring vir spelers én afrigters beskryf.

"Aan die een kant was dit presies wat ons verwag het: taai wedstryde teen moeilike teenstanders was ons fisiek en geestelik getoets het. Maar die manier waarop ons gereageer het, het dit makliker gemaak om aan te hou baklei vir elke punt."

Maties se hoofdoel was om vir die Varsity Sports-toernooi te kwalifiseer en daarvoor moes hulle die topagt haal. Altesaam 16 spanne het deelgeneem.

"Ons het sonder twyfel alle verwagtinge oortref. Ons het geweet dat ons vertoning in die eerste wedstryd die verloop van die res van die toernooi sou dikteer en dit is presies wat gebeur het. Die momentum van die sege oor DUT het ons gedra in die stryd teen Pukke en om twee oorwinnings op dag een te kon behaal, het die standaard vir die res van die week gestel."

DUT was verlede jaar 'n finalis in die kompetisie.

Maties se Ryan Jayne is ingesluit in die span van die toernooi. Ander spanne en afrigters het erkenning aan Maties gegee deur hulle staande toe te juig by die prysuitdeling.

"Ek het dit glad nie verwag nie en ek glo dit het elke speler ongelooflik trots laat voel," het Krkeljas gesê.