Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top US-wetenskaplikes wen nasionale toekennings
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 01/07/2016

Twee top-wetenskaplikes aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (30 Junie 2016) nasionale erkenning ontvang vir hul uitstaande bydrae tot hul onderskeie navorsingsgebiede.

Prof Bert Klumperman, Uitgelese Professor in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, en prof Michael Samways, Uitgelese Professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, is albei met Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF)/South32-toekennings vereer.

Die jaarlikse NWTF/South32-toekenningsgeleentheid erken, vier en beloon uitnemendheid in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie (WET) en innovasie in Suid-Afrika.

Klumperman was die wenner in die kategorie wat ʼn individu vereer vir sy of haar lewenslange bydrae tot WET en innovasie (wat strek oor ʼn tydperk van 15 jaar of meer), terwyl Samways met die louere weg gestap het in die NWTF-GreenMatter-afdeling wat bydraes tot biodiversiteitsbewaring, omgewingsvolhoubaarheid en 'n groener ekonomie erken.

Klumperman, wat reeds sedert 1998 by die US betrokke is, word as ʼn wêreldleier in Polimeerwetenskap beskou, veral vir sy werk oor nanogeneeskunde en die toepassing van polimere in biomedisyne in samewerking met kollegas in ander US-fakulteite. Oor die afgelope klompie jare is vir verskeie patent-aansoeke ingedien vir uitvindsels deur Klumperman se navorsingsgroep. Sommige van hierdie patent-aansoeke het heelwat belangstelling van maatskappye ontlok vir moontlike kommersialisering.

Klumperman spog met ʼn A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting, ʼn goue medalje van die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (2013) en die Sasol Chemie Innoveerder van die Jaar-toekenning (2015). Hy beklee ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief, oftewel South African Research Chairs Initiative (SARChi) se Leerstoel in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture. Klumperman is ʼn mede-outeur van ongeveer 170 wetenskaplike publikasies en ʼn studieleier vir baie nagraadse studente.

"Die toekening vir lewenslange bydrae is vir my ʼn​ groot eer veral op so relatief jong ouderdom van 53," het Klumperman ges​ê​. "Ons is tans besig om ʼn Sentrum vir Nanogeneeskunde op die been te bring en ek hoop om deur middel hiervan my werk in die volgende 15 tot 20 jaar tot voordeel van die samelewing voort te sit."

Samways het NWTF-GreenMatter-toekenning ontvang vir sy beduidende bydrae tot veral insekbewaring en biodiversiteitsnavorsing oor die afgelope 40 jaar en ook vir die rol wat hy gespeel het om Cousine-eiland in die Seychelles tot sy natuurlike glorie te herstel. Hy is die spanleier van die Mondi Ekologiese Netwerk-program, ʼn US-navorsingsgroep wat veral gemoeid is met die ontwikkeling en verfyning van bestuursbeginsels wat op ekologiese netwerke van toepassing is. Samways werk reeds geruime tyd saam met groot Suid-Afrikaanse maatskappye om houtproduksie te optimaliseer sonder om biodiversiteit te bedreig. Hy beywer hom ook vir volhoubare wynproduksie.

"Dit is wonderlik dat Suid-Afrika se merkwaardige biodiversiteit en sy bewaring erkenning kry," het Samways ges​ê. "​Deur met vooruitstrewende maatskappye soos Mondi saam te werk kon ons houtproduksie optimaliseer en ook ons ryk biologiese erfenis en ekosisteemprosesse vir komende geslagte toekomsbestand maak." 

Samways word as die produktiefste navorser wêreldwyd oor aspekte rondom insekbewaring beskou en het reeds tot meer as 375 wetenskaplike publikasies, waaronder 15 boeke, bygedra. Hy was die studieleier van baie nagraadse studente en ook ʼn gasheer vir vele nadoktorale genote. Samways het ook verskeie toekennings ontvang waaronder goue medaljes van onderskeidelik die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die John Herschel-medalje van die Royal Society of South Africa.

  • Foto: Profs Michael Samways​ and Bert Klumperman