Baie Suid-Afrikaners, veral dié in landelike gebiede, sukkel steeds om toegang tot bekostigbare en kwaliteit gesondheidsorg te kry. Persone met gestremdhede, in besonder, moet aansienlik meer hindernisse oorkom wanneer hulle toegang tot gesondheidsorg probeer kry as diegene sonder gestremdhede. Dit ondanks die feit dat hulle oënskynlik meer gesondheidsprobleme en gesondheidsorgbehoeftes het.
Só meen dr Richard Vergunst, ʼn na-doktorale genoot in die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Vergunst het in sy onlangse doktorsgraad in Sielkunde aan die US probeer vasstel watter hindernisse persone met gestremdhede in Madwaleni in die Oos-Kaap in die gesig wanneer hulle probeer om toegang tot gesondheidsorg te verkry. Madwaleni is ʼn verarmde, landelike gebied wat deur, onder andere, swak infrastruktuur, hoë werkloosheid, beperkte toegang tot gesondheidsorg en onderwys, ʼn hoë voorkoms van oordraagbare siektes en ʼn hoë sterftesyfer gekenmerk word.
Vergunst se navorsing was deel van ʼn groter internasionale studie ̶ projek Equitable ̶ wat deur die Europese Unie befonds is. Hierdie studie fokus hoofsaaklik op toegang tot gesondheidsorg vir persone met gestremdhede in vier Afrika-lande, naamlik Suid-Afrika, Soedan, Malawi en Namibië. Elke land het vier areas waar navorsing gedoen word. Die Suid-Afrikaanse gebiede is Madwaleni, Gugulethu (Kaapstad), Fraserburg (Noord-Kaap) en Worcester (Boland).
Vergunst kon met behulp van 17 plaaslike gemeenskapsgesondheidswerkers data van 773 inwoners van Madwaleni in 527 huishoudings versamel. Engelse vraelyste wat eers in isiXhosa en toe weer in Engels vertaal is, is in selfone geprogrammeer. Hierdie selfone is gebruik is om data vas te lê wat later by ʼn sentrale databasis saamgevoeg en ontleed is.
Vergunst sê die resultate van sy studie toon dat gestremde persone in Madwaleni fisiese en kommunikasiehindernisse, asook negatiewe houdings teenoor hulle moet oorkom.
"Persone met gestremdhede in Madwaleni staar fisiese hindernisse soos vervoer, vervoerkoste, die reis na en verblyf by gesondheidsentrums, en die verskaffing van medisyne en toerusting in die gesig."
"Hulle het persepsies dat gesondheidsorg-verskaffers negatiewe houdings jeens hulle het, minder ernstig is oor hul behandeling, en slegter teenoor hulle optree."
"Wat die kommunikasie-hindernisse betref was daar persepsies van swakker kommunikasie en interaksie met gesondheidsorg-verskaffers, van minder privaatheid by konsultasies en ʼn oënskynlike gebrek aan respek en verduidelikings deur gesondheidsorg-verskaffers."
Vergunst meen inwoners van Madwaleni se situasie kan verbeter word deur beter opleiding en opvoeding van gesondheidsorg-verskaffers rakende gestremdhede en deur middel van groter bewustheid oor die daaglikse stryd van persone met gestremdhede.
"Dit sal ook help om kommunikasie-hindernisse aan te spreek en die negatiewe houding teenoor persone met gestremdhede te verander, terwyl die oprigting van mobiele gesondheidsentrums kan help om fisiese hindernisse te verwyder."
"Armoede en werkloosheid moet ook in die gebied verminder word."
Vergunst sê die plan is om die bevindinge van die studie met belangrike rolspelers, insluitend hoofmanne en gemeenskapsleiers in Madwaleni, te deel sodat plaaslik relevante intervensies soos werkwinkels vir bewusmaking oor gestremdheid bespreek en geïmplementeer kan word.
"Hopelik sal die resultate van my navorsing omgesit word in praktiese intervensiestrategieë wat uiteindelik persone met gestremdhede sal baat in terme van toegang tot gesondheidsorg in die besonder en hul daaglikse lewe in die algemeen."
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Richard Vergunst
Departement Sielkunde
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 761 3982
Sel: 082 290 299 8
E-pos: vergunstr@gmail.com
Martin Viljoen
Korporatiewe Bemarking
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4851
E-pos: viljoenm@sun.ac.za