Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bestuur van indringerbome moet dringend hersien word
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 29/06/2016

Wetenskaplikes van verskeie van Suid-Afrika se grootste omgewingsorganisasies waarsku dat die bestuur van indringerspesies, en spesifiek indringerdennebome in die beskermde gebiede van die Kaapse Blommeryk, oftewel die Cape Floral Kingdom (CFK) dringend hersien moet word,

Indien dit nie gebeur nie, loop Kaapstad en ander kusdorpe en -stede wat deel uitmaak van die Tuinroete die gevaar om meer as 'n derde van hulle watervoorsiening oor die volgende 30 tot 50 jaar te verloor.

Navorsers van die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (S·I·B) by die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, CapeNature en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, het vandeesmaand 'n artikel daaroor in die vaktydskrif Biological Conservation gepubliseer. Hierdie artikel bevat die resultate van 'n opname van die historiese koste en omvang van pogings om sedert 1995 indringerplante in die Kaapse Blommeryk te beheer.

Die artikel sluit ook 'n kosteberaming van die hulpbronne in wat nodig sal wees om die oorblywende indringerplante in die Kaapse Blommeryk binne die volgende twintig jaar onder beheer te bring. Afhangend van die verskillende scenario's, wissel dié ramings tussen R170 miljoen (wanneer slegs dennebome en hakeas beheer word) en 'n verstommende R2 608 miljoen (vir die beheer van alle indringerspesies). Vir ander, meer waarskynlike scenario's word daar selfs gesuggereer dat doeltreffende beheer nooit bereik gaan word nie.

"Tensy besliste stappe gedoen word om bestuur te verbeter, gaan so te sê al die geld wat reeds aan die bekamping van indringerspesies in die verlede bestee is, en wat nog bestee gaan word, vermors," sê prof. Brian van Wilgen, 'n ekoloog verbonde aan die S·I·B en hoofouteur van die artikel.

Doeltreffender bestuur is nodig

Die beheer van indringerspesies in Suid-Afrika is hoofsaaklik afhanklik van fondse uit die openbare werke program, Werk vir Water. Dié program word internasionaal erken as 'n unieke bewaringsinisiatief om indringerplante uit te roei en terselfdertyd werksgeleenthede en maatskaplike dienste in landelike gebiede te verskaf. Die afgelope drie jaar het die program landswyd werksgeleenthede aan gemiddeld 20 000 mense per jaar gebied.

Maar, alhoewel die Werk vir Water-projek daarin geslaag het om indringerplante in sekere gebied van die Kaapse Blommeryk met byna 50% te verminder, het die program ná twintig jaar nog net 'n klein gedeelte (4 tot 13%) van die totale area wat deur indringers bedreig word, bereik.

Indringerspesies is een van die grootste bedreigings vir die bewaring van beskermde gebiede in die Kaapse Blommeryk. 'n Studie wat in 2009 gedoen is, het getoon dat meer as 1000 inheemse plante deur indringerspesies bedreig word. Indien indringers die volle reikwydte van hul verspreideingspotensiaal bereik, kan dit die gebied se algehele biodiversiteit met tot so veel as 40% verminder.

Die studie skat dat R564 miljoen reeds bestee is aan pogings om uitheemse plante in 25 van die Kaapse Blommeryk se beskermde gebiede te beheer. Die fokus was tot dusver op die uitwissing van akasias, terwyl dennebome eintlik op die lang termyn 'n groter bedreiging inhou.

Aanbevelings

Van Wilgen sê hy glo die probleem kan nog aangepak word, maar slegs indien die wyse waarop indringerbeheerprojekte gefinansier en bestuur word, daadwerklik verander.

Die span beveel aan dat projekte op prioriteitsgebiede en spesies moet fokus, en dat bewaringskundiges die noodsaaklikheid van die bewaring van biodiversiteit deurentyd moet opweeg teen die bedreiging wat indringerspesies inhou.

"Sekere areas verdien groter prioriteit wanneer dit kom by die uitwissing van indringerplante. Voorheen is fondse dikwels onder te veel verskillende projekte verdeel, met die gevolg dat die meeste projekte nie werklik vorder nie aangesien hulle nooit genoeg fondse beskikbaar het nie. Die finansiering van projekte in beskermde gebiede behoort voorrang te geniet bo die gebiede wat nie formeel beskerm word nie," voer hulle aan.

Die navorsers waarsku ook dat huidige bestuurspraktyke dikwels nie aan die nodige standaarde voldoen nie. Een van hul aanbevelings is dat die indringerbeheerspanne beter opgelei, beter toegerus én beter betaal moet word.

Volgens Van Wilgen is hulle terdeë bewus van die kompleksiteit van die situasie en dat die dikwels kompeterende doelwitte van beide doeltreffende bestuur én werkskepping bereik moet word. "Die werklikheid is dat ons nooit indringerplante oral onder beheer sal kry nie. Derhalwe moet ons beskermde gebiede meer effektief beskerm," sê hy.

"Ons staar ernstige gevolge in die gesig indien ons dit nié regkry nie. Opvanggebiede wat deur indringerspesies oorgroei word, sal ons vermoë om ekonomies te groei, beperk. Die vraag is, moet ons nie nou werksgeleenthede opoffer ter wille van meer doeltreffende beheer ten einde op die lang termyn meer werksgeleenthede te verseker nie?

"Die probleem is besig om hand uit te ruk. Dit groei vinniger as wat ons dit kan beheer. Dorpe soos Kaapstad en ander kusdorpe en -stede tot bo by Port Elizabeth kan tot 36% van hul watervoorsiening verloor. Dit sal 'n ernstige demper plaas op ekonomiese groei en die toekomstige werksgeleenthede vir derduisende mense."

Die bevindings van die studie is gepubliseer in die artikel "Historical costs and projected future scenarios for the management of invasive alien plants in protected areas in the Cape Floristic Region" in die vaktydskrif Biological Conservation gedurende Junie 2016.

Dennebome versprei binne die fynbos in 'n beskermde gebied rondom Garcia-pas op die R323 tussen Riversdale en Ladismith. In 2002 het wetenskaplikes van die WNNR 'n direkte verband tussen indringerbome en verminderde stroomvloei gevind: 'n toename van 150% in biomassa kan jaarliks tot 30% se waterverlies bydra. Indringerspesies kan die biomassa in fynbos met 300 tot 1000% verhoog, met ernstige gevolge vir 'n droeë land soos Suid-Afrika. Foto: Brian van Wilgen

 Op die foto: Dennebome versprei binne die fynbos in 'n beskermde gebied rondom Garcia-pas op die R323 tussen Riversdale en Ladismith. In 2002 het wetenskaplikes van die WNNR 'n direkte verband tussen indringerbome en verminderde stroomvloei gevind: 'n toename van 150% in biomassa kan jaarliks tot 30% se waterverlies bydra. Indringerspesies kan die biomassa in fynbos met 300 tot 1000% verhoog, met ernstige gevolge vir 'n droeë land soos Suid-Afrika. Foto: Brian van Wilgen

Media navrae

Prof. Brian van Wilgen

Sentrum vir Indringerbiologie, Universiteit Stellenbosch

T: 021 808 2832/2835

M: 082 454 9726

E: bvanwilgen@sun.ac.za

W: www.sun.ac.za/cib

Mediaverklaring uitgereik deur Wiida Fourie-Basson, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Stellenbosch Universiteit

 021 808 2684    071 099 5721     science@sun.ac.za