Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dwelmgebruikers moet gehelp word, nie benadeel word nie
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 28/06/2016

Beleid oor dwelms moet die rehabilitasie, eerder as die kriminalisering, van gebruikers bevorder om sodoende jong mense te beskerm en toekomstige dwelm-verwante skade te beperk, sê ʼn psigiater van die Universiteit Stellenbosch (US), dr Abdul Domingo. Middelmisbruik-bewustheidsweek word van 25 tot 30 Junie herdenk.

"Die hersiening van die beleid oor dwelms moet poog om skade aan diegene wat dit misbruik te verminder, en nie te vererger nie," sê Domingo, ʼn senior lektor aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en ʼn spesialis-psigiater by Stikland-hospitaal.

Verskeie lande is in die proses om die risiko van sekere middels, soos dagga, te herevalueer, asook die wetgewing oor die gebruik en besit van die middels.

"Om staat te maak op kriminalisering en gevangenskap as die enigste vorm van ingryping ondermyn hierdie individue se toekomstige kanse op en indiensneming. Dit bied geen kliniese insette vir versorging nie en vererger die benarde toestand van dwelmgebruikers, hulle families en gemeenskappe," sê Domingo.

Volgens hom is daar strategieë om die skade te verminder, soos opioïed-vervangingterapieë wat die verspreiding van virusse wat deur die bloed versprei verminder, wat lewens red en die gesondheidsuitkomste van dwelmgebruikers verbeter.

Vir baie mense begin die siklus van dwelmverslawing as ʼn eksperiment om ʼn tydelike toestand van euforie te ervaar, sê Domingo. "Die meeste mense wat eksperimenteer met onwettige middels sal nie daaraan verslaaf raak nie, maar sommige mense loop ʼn hoër risiko as ander om ʼn chroniese verslawing te ontwikkel."

Party mense is geneties meer vatbaar vir verslawing, terwyl ander ʼn hoër risiko het weens omgewingsfaktore soos die maklike toegang tot middels of omstandighede wat die gebruik van middels bevorder, soos byvoorbeeld om emosionele ongemak of mishandeling te hanteer.

"Baie lande probeer nou beleide implementeer wat die risiko's erken wat met onwettige middelgebruik gepaard gaan, jong mense se toegang daartoe te beperk, gemeenskappe beskerm teen dwelmverwante misdaad en ook strategieë vir rehabilitasie in plaas van gevangenskap bied.

"Hierdie groeiende momentum om die beleid oor dwelms te herevalueer is ook ʼn uitdaging in Suid-Afrika. Maar dit is ʼn uitdaging wat ons te bowe moet kom as ons ons jongmense wil beskerm en toekomstige dwelmverwante skade wil beperk," sê Domingo.

Voortgesette navorsing

Die MNR se Eenheid vir Angs- en Stressteurnisse by die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad, doen navorsing oor 50 vroue wat aan metamfetamien ("tik") verslaaf is en behandeling kry vir hulle verslawing.

Die meeste deelnemers het ook ander middels misbruik, veral Mandrax, dagga, alkohol en nikotien.

Baie het ʼn geskiedenis van post-traumatiese stresversteuring, depressie of middel-verwante psigose. Chroniese middelmisbruik het ʼn ernstige negatiewe impak op geaffekteerde individue se werk-, sosiale- en gesinslewens.

Die oorgrootte meerderheid (94%) deelnemers was werkloos, en baie het verslag gedoen oor die skadelike effek van middelmisbruik op hul verhoudings met gesinslede, asook die skuldgevoelens wat hulle ervaar omdat hulle hul verantwoordelikhede tuis afskeep (soos die versorging van kinders).

Soos reeds bevestig deur vorige navorsing oor pasiënte met middelmisbruiksteurnisse, het verslawing ook ʼn impak op die strukture en funksies van die brein. Byvoorbeeld, sommige studies het verskille in die beloningsentrum van die brein gevind van verslaafdes teenoor gesonde kontroles. Die studie inkorporeer breinskandering, genetiese en neurokognitiewe komponente om beter insae te verkry van die fisiologiese prosesse van verslawing. 

Kontak die Geestesgesondheid Inligtingsentrum by die Universiteit Stellenbosch by 021 938-9229 of stuur ʼn e-pos na mhic@sun.ac.za.

 

Kontak

Janine Roos
Geestesgesondheid Inligtingsentrum
+27 (0)21 938 9229
mhic@sun.ac.za

 

Website:         www.mentalhealthsa.org.za
Facebook:     www.facebook.com/mentalhealthsa
Twitter:           @mentalhealthsa

 

 

Medianavrae

Bemarkingskoördineerder
Mandi Barnard
+27 (0)21 938 9505
mandi@sun.ac.za
Afdeling Bemarking en Kommunikasie
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch  

Webwerf:       www.sun.ac.za/health
Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter:           @SUhealthsci
Instagram:      @SUhealthsci