Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Betrokkenheid by Count-Me-In-projek 'n waardevolle ervaring'
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 23/06/2016

Vierdejaarstudente in die Fakulteit Opvoedkunde wat die Wiskunde-onderrigmodule volg, het onlangs terugvoering gelewer oor die Count-Me-In-projek, ’n gemeenskapsinteraksieprojek wat daarop gerig is om die telvaardighede en getalbegrip van Graad R- tot Graad 3-leerders in skole met alternatiewe kontekste, te ontwikkel.

Die studente het hul kennis oor die teorie van getalbegripontwikkeling in jong kinders toegepas om sowel die leerders as hul eie begrip en vaardighede te verbeter en om die gemeenskap te dien.

Die projek se doel is:

  • Om Wiskunde-onderrigstudente in hul vierde jaar in die Grondslagfase 'n geleentheid te gee om die teorie oor die ontwikkeling van getalbegrip en telvaardighede in skole te implementeer;
  • Om studente die geleentheid te gee om verskillende skoolkontekste in die Wes-Kaap te ervaar;
  • Om 'n geleentheid te skep vir Wiskunde-onderrigpersoneel en -studente by die Universiteit Stellenbosch om met onderwysers en kringvakadviseurs interaksie te hê en so verhoudings te bou, asook om Wiskunde-onderrigkursusse in die grondslagfase te verbeter;
  • Om studente die geleentheid te gee om 'n diens aan die gemeenskap te lewer.

Die studente is in groepe opgedeel en by 21 skole in die Stellenbosch-, Somerset-Wes en Franschhoek-omgewing geplaas. Hulle het vir 'n paar weke een keer per week na die skool gegaan.

Studente het die terugvoeringsessie gebruik om hul ervarings te deel oor die uitdagings waardeur hulle in die gesig gestaar is, die oplossings wat hulle bedink het en die suksesse wat hulle ervaar het.

Sommige van die opmerkings was: "Dit was goeie opleiding vir ons as onderwysers"; "Ons moes kreatief dink"; "Dit het ons benadering tot onderrig beïnvloed" en "Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid".

Die konsensus blyk te wees dat betrokkenheid by die Count-Me-In-projek 'n waardevolle ervaring was wat hierdie studente gedwing het om buite hul gemaksone te beweeg en hulle uitgedaag het om kreatiewe oplossings vir moeilike situasies te vind. Van die uitdagings het taalhindernisse en beperkte getalbegrip ingesluit.

Daardie "gloeilampie-oomblik" wanneer 'n leerder uiteindelik 'n sekere konsep verstaan het of genoeg selfvertroue opgedoen het om 'n opdrag aan te pak, het dit egter vir die studente die moeite werd gemaak. Verskeie studente het hierdie "wow"-stories met die res van die klas en ander besoekers gedeel.

Hulle het ook genoem dat hulle die leermateriaal wat hulle in hul tweede en derde jaar gemaak het, gebruik het.

Wiskunde-storieboeke wat deur die studente geskep is, is ook uitgestal.

Die Count-Me-In-projek word deur die Rupertstigting befonds.​