Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die eksaktheid van wiskunde inspireer
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 20/06/2016

Dit was die eksaktheid van wiskunde en die pynlike noukeurigheid wat dit verg, wat aanvanklik dr. Eric Andriantiana as skoolseun in Vangaindrano in die suidooste van Madagaskar, aangetrek het.

Vandag het hy 'n Phd in Wiskunde van die Universiteit Stellenbosch en gee hy klas by Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap.

Dr. Andriantiana het sy voorgraadse studies aan die Universiteit van Fianarantsoa in Madagaskar voltooi. Aangesien die universiteit nie nagraadse studies in wiskunde aangbied het nie, het 'n hele nuwe loopbaanvooruitsig vir hom voorgelê toe hy 'n beurs van die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS) (African Institute for Mathematical Sciences) in Kaapstad ontvang het. Met die hulp van AIMS, en nadat hy aangepas het by Engels as sy nuwe taal van onderrig, het hy 'n MSc (2010) en 'n PhD in Wiskunde (2013) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Hy het ingestem om 'n paar vrae oor sy studies en daaropvolgende loopbaan te beantwoord:

Hoekom en wanneer het jy besluit om wiskunde te studeer?

Gedurende my kinderjare is ek dikwels gespot oor my groot kop, en dan het my pa gewoonlik gesê dat dit 'n teken is dat ek goed in wiskunde sal vaar. En elke keer as 'n vliegtuig oor ons klein dorpie gevlieg het (wat nie dikwels gebeur het nie) het my pa aanmerkings gemaak soos: "Jy moet goed wees in Wiskunde om 'n vlieënier te kan word."

Maar wat my regtig van wiskunde aangetrek het, was die eksaktheid daarvan en die pynlike noukeurigheid wat dit verg. Na afloop van 'n eksamen in wiskunde, chemie of fisiska het ek dadelike geweet of ek goed gedoen het al dan nie. Ek het van daardie gevoel gehou. Met ander vakke kon ek nooit so seker wees nie en moes ek wag tot die uitslae bekend gemaak is. Nadat ek op universiteitsvlak in wiskunde gespesialiseer het, word ek nog deurentyd beïndruk deur die beauty van wiskunde.

Wanneer en hoe het jy besluit om 'n loopbaan in die akademie te volg?

Sedert die eerste keer dat ek aan 'n beroep begin dink het, wou ek nog altyd 'n akademikus wees. Ek is dankbaar dat ek tot hier gevorder het.

Maar ek is ook deur my ouers en familielede beïnvloed. My pa en een van my oupas was laerskoolonderwysers. Hulle het altyd vir ons gepreek oor die belangrikheid van opvoeding. Ek is uiteindelik geïnspireer deur hulle passie vir opvoeding.

Ek is ook geïnspireer deur die ongelooflike dosente van reg oor die wêreld wat ek besoek het ter wille van my opvoeding. Vir my is opvoeding 'n manier om behoeftige jong mense te help om 'n beter toekoms te bekom, om 'n land te help om beter inwoners te hê, en as een van die beste maniere om armoede te oorkom.

Al hierdie faktore het my begeerte om 'n akademikus te word, versterk.

Beskryf asseblief 'n tipiese dag in jou lewe. Wat is groot pret? Wat is die uitdagendste?

My dag is tipies 'n kombinasie van formele lesings; gesprekke met studente wat nie saamgestem het met sekere argumente in die kursus nie, maar slegs waag om daaroor te praat na afloop van die klas; die lees van artikels of boeke met die doel om te resenseer; of om die idees neer te skryf wat by my opkom totdat ek sien hoe dit uitspeel. En dan speel ek ook nog met my kind. Tot dusver het ek nog al bogenoemde geniet.

Wat ek dikwels uitdagend vind, is om op te hou dink aan 'n abstrakte wiskundige vraag wat ek nie kon beantwoord nie.

Raad aan leerders, studente wat 'n loopbaan in die wetenskap oorweeg, spesifiek in wiskunde.

Moenie haastig wees om jou veld van studie of navorsing in te perk nie. Dit is goed om te fokus, maar jy moet jouself oopstel vir ander navorsingsvelde wat met jou hoof belangstelling verband hou. Moet nooit 'n geleentheid waar jy nuwe dinge kan leer, laat verbygaan nie.

Wanneer jy kies om 'n akademikus en 'n navorser te wees, kies jy om toenemend uitdagings in die gesig te staar. Moenie verwag dat dinge makliker gaan word nie. Goeie praktyk, harde werk, volharding en om met ander mense te netwerk, kan wel dinge vergemaklik.

Vir nog inspirerende stories oor ons BSc alumni, besoek http://www.sun.ac.za/english/faculty/science/news/alumni-news#