Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-personeel gee insette oor verkragtingskultuur
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 15/06/2016

Personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) het verlede week (Donderdag 9 Julie) tydens ʼn terugvoersessie van die Taakspan oor Verkragtingskultuur waardevolle bydraes gelewer. Die bydraes het veral gefokus op universiteitsbeleid oor seksuele teistering, die beskerming van slagoffers en getuies en hoe gedrag en houdings verander kan word.

Dit was die eerste terugvoersessie van die Taakspan aan die kampusgemeenskap. Die sessie was daarop gemik om terugvoer, idees en kommentaar van personeel oor verkragtingskultuur te verkry. Die sessie is deur onder andere verteenwoordigers van die bestuur en dekane bygewoon.

Tydens die sessie is personeel ingelig oor die vordering wat die Taakspan reeds gemaak het om verkragtingskultuur op die verskeie kampusse te ondersoek.

Die Taakspan, gelei deur dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake, is vroeër vanjaar aangewys om ʼn verkragtingskultuur by US te ondersoek. Lede het vir die eerste keer in Maart vanjaar vergader om die omvang van hierdie uitdaging by die Universiteit vas te stel. Tydens die eerste vergaderings is praktyke geïdentifiseer wat ʼn verkragtingskultuur versterk en idees bespreek oor hoe om dié praktyke uit te roei.

'n Gespreksessie met studente sal eersdaags gehou word.