Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Amerikaanse student is beste in hortologie by Maties
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/06/2016

​Sterstudent Trevan Flynn is op vele vlakke 'n waardige ontvanger van die 2015 HORTGRO Science/Daan Strydom-toekenning as die Universiteit Stellenbosch (US) se beste hortologiestudent. So het dr Lynn Hoffman, voorsitter van die US Departement Hortologie, gesê by die onlangse HORTGRO Science Tegniese Simposium, waartydens Flynn die toekenning in absentia ontvang het.

Flynn, wat in die VSA grootgeword het, werk tans in Aspen in Colorado. Hier help hy om 'n besproeiingstelsel bestuur op 'n 100-hektaar eiendom waarop inheemse plantegroei wat eie is aan die Rockygebergtes voorkom.

Hy het aanvanklik op Suid-Afrika verlief geraak tydens 'n weeklange besoek aan die land in 2009, as deel van 'n "Semester at Sea" studieprogram. Hy het besef dat hy met plante wil werk nadat hy die kans gehad het om tuinier onder die vleuels van twee inspirerende hortoloë in Aspen te werk.

Flynn het in 2012 na Suid-Afrika teruggekeer met die aanvanklike plan om wingerd- en wynkunde aan die US te studeer. "Dit was egter eers nadat ek die professore by Hortologie ontmoet het dat ek besef het dat dié vakrigting vir my is," vertel hy vanuit die VSA oor sy besluit om van vakrigting te verander.

Dié besluit het aanleiding tot vele hoogtepunte gegee. Flynn het verlede jaar sy BSc Agric-graad in Grondkunde en Hortologie cum laude verwerf. Hy het ook die Perold-medalje in 2015 ontvang as die beste voorgraadse student in die US Fakulteit AgriWetenskappe. Die US het ook vir drie van sy studiejare akademiese merietebeurse aan hom toegeken.

Flynn hoop om weldra weer na Suid-Afrika te kan terugkeer om die kennis wat hy by die Universiteit opgedoen het in die praktyk te kan kom toepas. "Ek wil graag 'n rol speel in bewaringsboerdery, toegang tot voedselbronne verbeter of miskien my studies voortsit," droom Flynn, wat onder meer gedurende sy studentejare 'n interskap by Agrimotion konsultante gedoen het en as navorsingsassistent in die Departement Hortologie gewerk het.