Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumnus skenk R50 miljoen aan Universiteit Stellenbosch
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 08/06/2016

ʼn Moderne Sentrum vir Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US) word eersdaags ʼn werklikheid. Dít danksy ʼn skenking ter waarde van R50 miljoen van mnr Jannie Mouton, US-alumnus en stigter van die beleggingsbeheermaatskappy, die PSG Groep.

Die Universiteit, sowel as die Departement van Hoër Onderwys, het ook reeds bydraes tot hierdie projek gemaak wat waarskynlik in 2017 sal afskop. Die nuwe Sentrum sal tussen die Neelsie-studentesentrum en die Polimeerwetenskap-gebou op die Stellenbosch-kampus geleë wees. Die doel is om onderrig aan die US te vernuwe deur ʼn interaktiewe, toekomsgerigte en student-gesentreerde leeromgewing te skep.

"Hierdie skenking is voorwaar die hoogtepunt van my termyn tot dusver in die rektorstoel. Nie net is dit die grootste bydrae deur enige individuele donateur nie, maar hierdie ondersteuning aan die Universiteit, te midde van ʼn baie uitdagende tydvak vir Hoër Onderwys, is ʼn groot kompliment vir die Universiteit Stellenbosch," het prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, gesê.

"Dit is ons visie om ʼn universiteit te wees wat aanpas by die onderrigervaring van ʼn studenteliggaam wat tegnologies toegerus is en ook op die veranderende behoeftes van die samelewing waarin ons funksioneer, ingestel is.

"Hierdie Sentrum sal met sy ontwerp, toerusting en tegnologie ʼn kontemporêre ruimte wees met ʼn lae koolstofvoetspoor wat meer toeganklik is vir ʼn groeiende studenteliggaam met verskillende doelwitte en vereistes," het De Villiers bygevoeg.

Mouton is ʼn jarelange getroue ondersteuner van die Universiteit en bestuur al sedert 2007 die PSG/ Jannie Mouton Beursleningsprogram aan die US. Beide Mouton (in sy persoonlike hoedanigheid) en die PSG Groep het in 2007 elk 100 000 PSG-aandele aan die US geskenk wat op meriete as studiehulp in die vorm van lenings of beurse aan behoeftige en/of begaafde studente aangewend word.  Dividende op die aandele en verdere bydraes deur Mouton en PSG het dit moontlik gemaak om 95 beurse en lenings toe te ken.

"My hart is nog steeds met my alma mater en ek sal altyd lojaal wees. Ek glo daaraan om ʼn positiewe verskil in die samelewing te maak tot voordeel van die volgende generasie en dit is hoe ek te werk gaan.

"Hierdie skenking is vir my meer as net ʼn belegging in ʼn kontemporêre ruimte wat die leerervaring van ons studente sal verryk. Dit is inderdaad ʼn belegging in die toekoms en voortgesette uitnemendheid van die Universiteit Stellenbosch as ʼn wêreld-gehalte leier op die gebied van hoër onderwys," het Mouton gesê.

Foto: Kunstenaarsvoorstellings van hoe die gebou moontlik kan lyk.