Studie bereken koste, impak op omgewing van vermorsing van kos
Geoordeel aan kopkool, word hope geld en liters water vermors wanneer boere in Suid-Afrika produkte lewer wat nooit eens geëet word nie. Dit is die gevolgtrekking van 'n studie deur voedselwetenskaplikes en naoes-deskundiges aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hulle bereken dat R16 miljoen se kool jaarlikse landwyd vermors word. Die water wat in die proses vermors word, is genoeg om jaarliks aan die behoeftes van 195 000 mense te voldoen.
Die bevindings is onlangs gepubliseer in die British Food Journal. Dit is die eerste navorsingspoging van dié aard om voedselvermorsing in Suid-Afrika te bereken, asook die omgewingsimpak van ʼn spesifieke voedseltipe nadat dit geoes of geproduseer is. Dit vorm deel van navorsingspogings deur die Universiteit Stellenbosch Voedselsekuriteitsinisiatief om naoes-verliese en voedselvermorsing te beheer. Die publikasie vorm deel van die MSc-tesis van Karen Munhuweyi. Haar studieleiers is prof Umezuruike Linus Opara, houer van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Naoes-tegnologieë, en dr Gunnar Sigge van die US Departement Voedselwetenskap.
"Dit is nie net kommerwekkend hoeveel kool nooit ons eettafel bereik nie, maar ook hoeveel hulpbronne soos water en energie gemors word wanneer ongebruikte groente geproduseer word," som prof Opara die belang van hul bevindings op.
Die Stellenbosse navorsingspan het kopkool as onderwerp gekies, omdat dit ʼn groente is wat wêreldwyd verbruik word en ʼn stapelvoedsel in baie Suid-Afrikaners se dieet is. Vars kool kan vir drie tot vyf dae op die winkelrak gehou word. Afhangend van die kwaliteit, word kopkole daarna òf kleiner geknip, in plastiek toegedraai, òf weggegooi.
Hoe is studie gedoen?
Munhuweyi het kopkole by drie kleinhandelaars op Stellenbosch gekoop terwyl hulle rakke volgepak was en verbruikers die uitgestalde items deurgekyk het. Die kopkole het ʼn verskeidenheid toetse ondergaan drie tot sewe dae ná aankoop, om veranderings in kleur, tekstuur, gewigsverlies en chemiese balans te oorweeg. Sommiges is voordat dit gestoor is, getoets, ander is gehou by kamertemperatuur (tussen 22 en 25 grade Celcius) en nog ander is bewaar by ʼn optimale bewaringstemperatuur van tussen 0 en 0.5 grade Celcius. Data-opnemers is gebruik om die temperatuur en humiditeit binne die winkels te assesseer.
Die groente is ook ondersoek vir bederf, insekskade en meganiese skade om te bepaal hoeveel kopkole reeds op winkelvlak ongeskik was vir verbruik of verdere bemarking. Gemiddeld 21% van koolkoppe is by aankoop verwerp. Die kool is aangekoop vir tussen R0.53 en R0.82 per kilogram, wat omgesit kan word in ʼn verlies van R0.68 vir elke kilogram kool wat by die drie kleinhandelaars aangekoop is.
Meganiese skade lei tot soveel as 50% van verliese, en word dikwels veroorsaak wanneer die produk rof behandel word tydens die oes- en vervoerproses. Tot 35% van verliese is veroorsaak omdat die groente bederf het. Die studie het gewys dat verliese tot 30% beperk kan word as kool teen die regte temperature verkoel word, eerder as om dit teen kamertemperatuur te stoor vir sewe dae.
Waarde van verliese
Die navorsers het hul resultate uitgebrei om te bereken hoeveel van Suid-Afrika se jaarlikse kool-oes van sowat 103 000 ton nooit op ʼn bord beland nie. Hulle bereken dat ten minste 21 950 ton kool ter waarde van R16 miljoen gemiddeld jaarliks op nasionale kleinhandelvlak verlore gaan.
Die totale volume van hierdie fisiese verliese kan in die daaglikse voedselbehoeftes van ten minste 84 000 mense vir ʼn maand voorsien, en is genoeg om die daaglikse Vitamien C-inname van 73 000 mense per jaar te verskaf.
Impak op omgewing
Die navorsers is nie net bekommerd oor hoe produkverlies voedselbeskikbaarheid en voeding raak nie, maar ook hoe dit die omgewing raak in terme van kweekhuisgasvrystellings en water- en energieverbruik. Hulle bereken ongeveer 27 miljoen megajoules (of 7.5 miljoen kilowatt) fossiel-energie en 4 miljoen kubieke meter varswaterbronne word onnodig verspil in die produksie van hierdie vermorste produkte.
Die volume kool wat in die proses gestort word, lei gemiddeld tot die vrystelling van sowat 2.9 miljoen ton van die kweekhuisgas koolstofdioksied. "Ten minste 75 miljoen bome moet geplant word om hierdie vrystellings te verreken," bereken prof Opara en sy span. "Die vars water wat verlore gaan, sou aan die daaglikse behoeftes van meer as 195 000 mense voldoen vir ʼn jaar."
"Erge naoesverliese dra nie net by tot armoede deur verlore voedsel en inkomste nie, maar dra ook by tot omgewingsprobleme, die onvolhoubare gebruik van ons hulpbronne en die onnodige vrystelling van kweekhuisgasse wat bydra tot aardverwarming," het die navorsers bevind.