Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TRU brei navorsing oor Afrika-demokrasie uit deur nuwe datastelle te bestudeer
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/05/2016

Die Eenheid vir Transformasienavorsing (TRU), wat toegespits is op navorsing oor die transformasie van outokrasie tot demokrasie én andersom, die vereiste omstandighede vir voortgesette demokrasie, en die gehalte van die demokratiese proses, sal binnekort sy navorsing oor Afrika-demokrasie uitbrei deur van nuwe datastelle gebruik te maak.

Die TRU is amptelik aan die einde van 2014 in die Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek van die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) tot stand gebring. Die Eenheid konsentreer op die vergelykende studie van demokrasie oor verskillende kulture heen uit 'n ekonomiese, politieke en maatskaplike oogpunt. In streeksverband word Suid-Afrika in vergelyking met Namibië, Zimbabwe en Botswana bestudeer. 'n Groter wêreldbeskouing word voorsien deur die vergelykende studie van die kultureel hoogs diverse gevalle van Suid-Korea, Chili, Pole, Turkye, Duitsland en Swede.

"Ons het besluit dat die projek waarmee ons tans besig is en wat om Suid-Afrika binne die wêreldwye politieke en ekonomiese omgewing draai, as 'n oorgang behoort te dien tot 'n studie wat ons in die toekoms wil onderneem," sê TRU-hoof prof Ursula van Beek ná 'n onlangse vier dae lange werksessie waar navorsers van Afrika en die res van die wêreld hulle voorlopige bevindinge oor demokrasie in die streek suid van die Sahara bespreek het.

"Ons toekomstige navorsing sal meer op die Suider-Afrika-streek konsentreer, en ons sal van nuwe datastelle gebruik maak. Tot dusver het ons hoofsaaklik staatgemaak op die WVS ("World Values Survey") en ons eie data oor elites en ekonomiese faktore. Ons beplan om die individuele databronne met die insluiting van die Afrobarometer-data uit te brei, terwyl ons met die voorgestelde gebruik van die V-Dem- ("Varieties of Democracy"-)datastelle die verband tussen individue en hulle politieke instellings sal kan ondersoek."

Volgens Van Beek bestaan die V-Dem-datastel uit data oor politieke instellings van so ver terug as 1900.

"Dis meer as 'n honderd jaar se data! Uit hierdie data kan ons byvoorbeeld agterkom hoe lande oorgaan tot demokrasie; hoe party dalk weer in outokrasie verval en dan later tot demokrasie terugkeer. In wese stel die V-Dem-data ons in staat om te sien hoe demokrasieë gebore word en ook hoe hulle sterf. Die data word wêreldwyd beskou as 'n nuwe, beter vlak van vergelykende beoordeling van demokratiese instellings omdat dit teoreties oop en konseptueel duidelik is en deeglike metings voorsien. Die V-Dem-projek is gesamentlik deur die Kellogg-instituut aan die Notre Dame-universiteit in die Verenigde State en die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Gothenburg in Swede ontwikkel. Die V-Dem-direkteur by die Universiteit van Gothenburg, prof Staffan Lindberg, wil graag toesien dat 'n institusionele tuiste vir die ontginning van V-Dem-data in Afrika, en in die besonder aan die Universiteit Stellenbosch, op die been kom.       

Die V-Dem-data tesame met die Afrobarometer, wat sedert die 1990's 'n opname van 37 lande in Afrika doen, sal sorg dat die TRU se navorsing gegrond is op stellig die mees omvattende dataversameling oor demokrasie in Suid-Afrika, indien nie in die hele Afrika nie.  

Die Eenheid konsentreer tans op 'n projek oor wêrelddemokrasie, politieke instellings en kulturele kontekste. Dit ondersoek die vernaamste faktore wat 'n suksesvolle demokratiese konsolidasie in lande soos Suid-Afrika, Pole, Chili, Suid-Korea en Turkye op lang termyn kan verhinder. Van Beek reken hierdie projek is belangrik omdat dit toon hoe Suid-Afrika in sy strewe na 'n demokraties gekonsolideerde samelewing vaar vergeleke met ander, jonger demokrasieë in die streek én die wêreld.

"Hier in Suid-Afrika het ons met verskeie probleme te kampe, veral die probleem van swak staatsdienslewering aan die mense, en burgers se ontevredenheid met die status quo. 'n Goeie manier om die tekortkominge van die Suid-Afrikaanse demokrasie te begryp, is om die politieke kultuur van die elite en die burgers van hierdie land te bestudeer. Sulke ontledings wys ons hoe die Suid-Afrikaanse leiers sowel as die mense demokrasie ervaar. Hulle onderskeie houdings, waardes en oortuigings met betrekking tot demokrasie kan toon of hulle die stelsel ondersteun of nie, en dus of demokrasie sal slaag of nie," sê Van Beek.

Foto: Navorsers en akademici van Afrika en die res van die wêreld het onlangs by 'n vier dae lange werksessie byeengekom om hulle voorlopige bevindinge oor demokrasie in die streek suid van die Sahara te bespreek. Agter, van links na regs, is dr Krige Siebrits (US), prof David  Sebudubudu (Universiteit van Botswana), mnr Jerry Mathega (RGN), mnr George Ott (US), prof Vello Pettai (Universiteit van Tortu, Estland), prof Yilmaz Esmer (Universiteit van Bahcesehir, Turkye), prof Christer Jönsson (Lund-universiteit, Swede), prof Dirk Berg-Schlosser (Marburg-universiteit, Duitsland), prof Henning Melber (Nordiese Afrika-instituut, Uppsala, Swede), prof Pierre du Toit (US) en prof Hennie Kotze (US). Voor, van links na regs, is prof Hans-Dieter  Klingemann (WZB, Berlyn), me Annemie Parkin (US), dr Nicola de Jager (US), prof Ursula van Beek (US), me Nsisima Ncube (US), prof Ursula Hoffmann-Lange (Bamberg-universiteit, Duitsland), dr Catherine Musuva (AU), me Heike Morkel (US), me Helen Kroes (US), prof Lloyd Sachikonye (Universiteit van Zimbabwe), me Reinet Loubser (US) en dr Marisa von Fintel (US). (Anton Jordaan, SSFD)