Die lidtekens van kinderjare-trauma lê baie dieper as die emosionele en/of fisiese mishandeling wat 'n kind ervaar – navorsing het getoon dat dit lewenslank 'n impak op 'n persoon se breinfunksie kan hê. In die aanloop tot Kinderbeskermingsweek, wat van 27 Mei tot 2 Junie herdenk word, ondersoek 'n navorser aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Psigiatrie die langtermyn-impak van kinderjare-trauma in gemeenskappe wat ook deur MIV geraak word.
'n Deurlopende studie wat die impak van kinderjare-trauma en MIV op die brein ondersoek, het die behoefte vir die insluiting van trauma-sifting in MIV-sorg beklemtoon.
Mense met MIV ervaar gereeld kognitiewe tekorte soos stoornisse met aandag, geheue, vertraagde reaksietyd en uitvoerende funksies (die verstandelike prosesse wat 'n persoon in staat stel om te beplan, met aandag te fokus, instruksies te onthou en veelvoudige take uit te voer). Boonop het studies wat die impak van kinderjare-trauma ondersoek, ook stoornisse in breinfunksie en -strukture gevind.
"Die brein- en gedragsveranderinge wat gepaard gaan met kinderjare-trauma kan bykomende komplikasies meebring wat met die verloop van MIV verband hou in hierdie kwesbare bevolkingsgroep," sê dr Georgina Spies, 'n nadoktorale navorser by die Departement Psigiatrie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch.
Spies lei 'n langtermyn-studie wat die breinfunksie en –struktuur vergelyk van meer as 300 vroue van Kaapstad. Die helfte van die vroue is MIV-positief, en die ander helfte is MIV-negatief. In elk van die groepe is daar vroue wat blootgestel is aan kinderjare-trauma en ander wat nie blootgestel is nie.
Al die vroue is neurokognitief geevalueer deur middel van 'n neurosielkundige vraelys wat sensitief is vir die uitwerking van MIV, en die breinvolume is gemeet met strukturele magnetieseresonansiebeelding (sMRB). Hierdie toetse is gedoen aan die begin van die studie, en weer 'n jaar later.
"Die algemeenste tipe kinderjare-trauma wat gemeld is, was emosionele mishandeling, gevolg deur emosionele verwaarlosing, fisiese verwaarlosing, fisiese mishandeling en laastens seksuele mishandeling. Die uitslae het getoon dat die gemiddelde breinvolume aansienlik kleiner was in MIV-positiewe vroue wat ook blootgestel is aan kinderjare-trauma, in vergelyking met die ander drie groepe," sê Spies.
Verskeie breinareas was geraak, insluitende die domeine wat verband hou met verwerkingspoed, werkende geheue, uitvoerende funksie, motorvaardighede, leer en verbale vlotheid. Hierdie uitwerkings was die duidelikste in vroue met MIV wat ook blootgestel is aan kinderjare-trauma.
"'n Voorlopige evaluasie van die data het gewys dat die uitwerking van MIV en kinderjare-trauma 'n jaar later steeds duidelik was, ten spyte van die groter opname van antiretrovirusterapie en 'n verbeterde MIV-siekte status onder hierdie vroue," sê sy.
"Hierdie is die eerste studie wat die gesamentlike impak evalueer van MIV en trauma in vroue met gevorderde siekte, en dit beklemtoon die moontlike bydraende rol van kinderjare-trauma aan breinvolume-veranderinge en neurokognitiewe afname in MIV-positiewe individue. Hierdie bevindinge beklemtoon die behoefte vir trauma-sifting en die integrasie van trauma-gefokusde intervensies in MIV-sorg om die uitkomste van geaffekteerde individue te verbeter," sê Spies.
Hierdie navorsing word ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in PTSS by die Universiteit Stellenbosch wat befonds word deur die DST en deur die NRF geadministreer word.