Daar is baie in die "harde" wetenskappe wat ons nie verstaaan nie, of selfs nooit sal weet nie. Só skryf Prof. Doug Rawlings, voormalige waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe en vir meer as 17 jaar voorsitter van die Departement Mikrobiologie. Die volgende gedeelte is aangepas uit sy afskeidsrede, gelewer op 27 November 2015, met sy aftrede. Dis 'n lighartige tong-in-die-kies bepeinsing oor kennis en hoe dit ontwikkel.
Uit gesprekke met kollegas in die lettere en sosiale wetenskappe was ek verbaas om te ontdek hoe bemoedigend dit vir hulle was om te hoor dat kennis in die "harde" wetenskappe toe nie so klinkklaar is as wat hulle gedink het nie.
Op 'n eksistensiële vlak stoei ons almal met soortgelyke vrae wanneer ons probeer om antwoorde te vind. Die vraag: "Waarom bestaan ek; waarom bestaan enigiets?" is iets wat die hele mensdom raak en bogenoemde punt illustreer. Die eerste gedeelte van die vraag is 'n soeke na doel en betekenis wat al vir eeue gevra word. Dit val in die professionele domein van teoloë en filosowe en is vervat in die tweede gedeelte. Die tweede gedeelte van die vraag is 'n wetenskaplike aangeleentheid en die beste antwoord wat ons tans kan gee is: ons weet nie!
Dit word die presiese instellingsprobleem genoem, omdat soveel konstantes noukeurig en presies ingestel moes wees ten einde die bestaan van enige iets wat ons tans ervaar en waarneem, te kon moontlik maak. Sommige aanvaar dit as goddelike voorsienigheid, terwyl dit in die aard van die wetenskap is om 'n verklaring te soek wat gebaseer is op 'n bewysbare teorie wat deur bewyse ondersteun word.
Wat kan ons van die fisici leer?
Die helfte van die probleem in hierdie Fakulteit het begin met die aanvaarding van Einstein se relatiwiteitsteorie in 1915! Hierdie standpunt is gebaseer op die volgende oorwegings. Fisika is die vakgebied waar die groot wetenskaplike vrae lê. Alles wat ons doen en onderrig in die Fakulteit Natuurwetenskappe is gebaseer op fisika. Fisika word beskou as die apeks van die natuurwetenskappe met chemie wat 'n afgeleide van fisika is. Biologie is klaarblyklik reduseerbaar tot fisika en chemie. En sommige dink selfs dat "suiwer wiskunde" gebaseer is op eienskappe van die heelal. Dus is ons almal fisici of toegepaste fisici van die een of ander aard.
Soos elke natuurwetenskappestudent het ek fisika as voorgraadse eerstejaarstudent geneem. Dit was ook die vak waarin ek die hoogste punte behaal het. Ek het egter besluit om nie met fisika voort te gaan nie, maar eerder met toegepaste fisika, wat in my geval chemie en mikrobiologie was.
Die soeke na kennis is soos die volg van 'n bewegende teiken
Ek dink dit is hoog tyd dat ons toegepaste fisici erkenning gee aan sommige van die uitdagings wat ons fisika-kollegas in die gesig moet staar. En ons moet dankbaar wees dat hulle bereid is om ons studente in hierdie belangrike vak te onderrig. Verbeel jou jy moet voor 'n klas staan en sê: "Ons weet nie wat meer as 80% van die stuff in die heelal is nie, maar laat ek jou vertel van die minder as 20!" As 'n fisikadosent sou ek dit nogal ongemaklik vind, self effens verleë wees. Om na stuff te verwys, klink nogal onwetenskaplik, dus gebruik ons eerder terme soos "donker energie" en "donker materie."
Maar die waarheid is: niemand wéét wat dit is nie.
Wat die situasie vererger, is dat ons daardie minder as 20% óók nie verstaan nie. Richard Feynman het dit duidelik gemaak. Hy was van mening dat daar dinge is wat ons weet ons nie weet nie; en dat daar ook waarskynlik dinge is wat ons nie weet ons nie weet nie. Kwantummeganika is soos laasgenoemde vir 'n sjimpansee. Ons weet dat ons nie kwantummeganika verstaan nie, maar 'n sjimpansee daarenteen, weet nie dat daar iets soos kwantummeganika bestaan wat nie verstaanbaar is nie.
*Klik hier om die hele artikel, gebaseer op die uittreerede te lees.