Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skink nog ’n doppie daar –of dalk nie?
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 24/05/2016

Ja. Maar. Tóg. In sommige gevalle juis nié. Daar is nie net een maklike antwoord op die vraag oor watter moontlike gesondheidsvoordele Suid-Afrikaanse wyn en brandewyn inhou nie.

Aan die woord is die navorser dr Dawie van Velden oor die bevindinge van studies wat hy die afgelope paar jaar saam met die genetikus prof Maritha Kotze van die Departement Patologie onderneem het. Dit is onder meer ondersteun deur Winetech en die Suid-Afrikaanse Brandewynvereniging.

Die aanbieding van dié bevindinge het hom al letterlik reg oor die wêreld geneem – onlangs na onder meer Australië en Frankryk.

Dis juis in Frankryk, so vertel hy, waar wynverkope die afgelope paar jaar gedaal het weens die sogenaamde 'kriminalisering van wyn' en die gevare wat dit sou inhou. Dis nou ten spyte van die nou verband oor jare heen tussen die gesonde Mediterreense dieet en hope wyn waarvoor die Franse so bekend is.

So 'n anti-wynhouding, reken Van Velden, is beslis nie nodig nie. Sy navorsing wys dat as 'n mens wyn en brandewyn gereeld maar matig gebruik, dit onder meer jou vlakke van 'goeie' HDL -cholesterol betekenisvol kan verhoog. Dit het letterlik te doen met die alkohol daarin, wat 'n beskermende effek op die hart het.

Neem 'n mens daarby polifenoliese antioksidanttellings in ag, blyk rooiwyn die beter opsie as brandewyn te wees as dit kom by hartgesondheid.

Dít het Van Velden vasgestel deur 37 gesonde volwasse vrywilligers tussen 18 en 70 jaar oud te kry om twee maande lank al om die 28 dae uitsluitlik óf rooiwyn óf brandewyn te drink. So moes die mans in die studie altesaam 'n koppie rooiwyn (250 ml) daagliks drink, en die volgende maand weer net meer as drie eetlepels (50 ml) brandewyn per dag. 'n Kardiovaskulêre genetiese siftingstoets is ook vooraf op elke deelnemer uitgevoer.

"Alkohol, en in besonder rooiwyn, hou voordele in om hartsiektes en diabetes te help voorkom," som hy die bevindinge op. Hy waarsku tóg dat matigheid voor oë gehou moet word, aangesien te veel alkohol die gesondheid kan knou en selfs noodlottig kan wees.

Van Velden wys ook daarop dat 'n mens se genetiese pakkie dikwels bepaal watter voordele jy kan geniet, indien enige. Sommige deelnemers het byvoorbeeld positief getoets vir lae-penetrasie mutasies van die HFE-geen wat oorerflike ysteroorlading veroorsaak. Dié deelnemers het ook hoër vlakke van trigliseried ('n soort nadelige vet) in hul bloed gehad nadat hulle alkohol gebruik het.

"Deur die instelling van 'n genetiese siftingsprogram kon ons mense identifiseer vir wie nie eens matige alkoholinname voordele ten opsigte van hartgesondheid ingehou het nie," vertel hy.

"Dit wys dat omgewingsfaktore 'n invloed op geenuitdrukking kan hê, en kan verklaar waarom sommige mense 'n verhoging in hul totale vlakke van cholesterol en trigliseriedes ervaar as hulle alkohol inneem," verduidelik Van Velden. "Só verhoog die kans op hartaanvalle in hierdie genetiese subgroep."

Verpersoonlikte genetiese toetse is dus dalk nét die ding om te begin oorweeg voor jy jou volgende skemerkelkie skink. Dit kan help om insig in jou eie genetiese bloudruk te verkry om te bepaal hoeveel (of glad niks!) wyn of brandewyn werklik goed vir jou hart is.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se jaarlikse publikasie verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.