Prof Wim de Villiers, Rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs saam met die Nagraade Onderwyssertifikaat- (NOS-) studente wat spesialiseer in die skoolvak Natuurwetenskap 'n klas by in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap bygewoon.
Die klas is deur dr Nazeem Edwards (Fakulteit Opvoedkunde) en dr Rehana Malgas-Enus (Fakulteit Natuurwetenskappe) aangebied as deel van die SUNCOI-program (Stellenbosch University Chemistry Outreach Initiative).
Een van die doelwitte van hierdie uitreikprogram is om onderwysers op te lei in praktiese klasse in chemie (Leer die Onderwyser die Basiese Beginsels van Chemie).
"Ons werk saam met die Fakulteit Opvoedkunde sodat ons ons huidige onderwysstudente, voordat hulle gradueer, kan oplei en sodoende toerus met die nodige hulpbronne en vaardighede," het dr Malgas-Enus gesê.
Op dié spesifieke dag het studente die geleentheid gehad om vier eksperimente wat in die kurrikulum vir graad 7-9 ingesluit is, self uit te voer.
Hulle het speeldeeg gemaak om molekules te verteenwoordig en atoombindings te illustreer. Hulle het ook "olifant-tandepasta" gemaak om die afbreek van waterstofperoksied tot water en suurstof met behulp van 'n katalisator (gis) te illustreer.
"Dit was om te demonstreer wat 'n katalisator doen (bespoedig 'n reaksie) en ook om 'n afbreekreaksie in aksie te wys," het dr Malgas-Enus verduidelik.
Die studente het 'n digtheidtoring "gebou" deur verskillende kleure suikeroplossings met verskillende hoeveelhede suiker te gebruik om die beginsel van digtheid te demonstreer. Laastens het hulle 'n suurbasis-reaksie met magnesiawater, waterstofchloried en universele indikator uitgevoer.
SUNCOI het 'n gereedskapstel ontwikkel wat al die nodige toerusting insluit om tien eksperimente uit te voer. Dit kan gebruik word deur onderwysers wat nie toegang tot laboratoriums en toerusting het nie.
"Moenie hoop verloor wanneer jy by 'n skool kom en daar is niks nie," het dr Malgas-Enus vir die studente gesê.
NOS-student Jaco Erasmus het gesê dit was wonderlik om die eksperimente te kon uitvoer en te "sien hoe dinge werk". Hy het die oefening baie nuttig gevind.
Volgens dr Nazeem Edwards geniet NOS-studente verskeie voordele deur die samewerking met SUNCOI: Hulle word blootgestel aan die geïmplementeerde CAPS-kurrikulum; hulle doen praktiese ondervinding op; en hulle behoort beter toegerus te wees om moontlike probleme en uitdagings te identifiseer.