Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Terugvoer vanaf taakspan oor verkragtingskultuur
Outeur: Dr Birgit Schreiber
Gepubliseer: 23/05/2016

​Vroeër hierdie jaar het die Rektor se Bestuurspan (RBS) ʼn taakspan oor verkragtingskultuur in die lewe geroep. Oor die afgelope twee maande het die Taakspan baie vordering gemaak met ondersoeke na aspekte van klimaat en kultuur; ons sal ʼn volledige stel aanbevelings aan die RBS voorlê wat uiteensit hoe van hierdie diepliggende houdings en praktyke benader moet word. Lees meer hieroor in 'n brief van dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake en Voorsitter: Taakspan oor Verkragtingskultuur.​

16/5/2016

Beste studente en kollegas

Vroeër hierdie jaar het die Rektor se Bestuurspan (RBS) ʼn taakspan oor verkragtingskultuur in die lewe geroep. ʼn Diverse groep personeellede en studente vorm deel van hierdie Taakspan. Ons beginpunt is ʼn ondersoek na houdings, gedrag en oortuigings rakende gender, geweld, mag en die patriargie, wat elk op een of ander manier bydra tot die stygende vlakke van geslagsgeweld in ons kampusgemeenskap.

Aktiwiteite tot op datum

Oor die afgelope twee maande het die Taakspan baie vordering gemaak met ondersoeke na aspekte van klimaat en kultuur; ons sal ʼn volledige stel aanbevelings aan die RBS voorlê wat uiteensit hoe van hierdie diepliggende houdings en praktyke benader moet word. ʼn Webwerf met inligting en hulpbronne om geslagsgeweld teen te werk word ook tans ontwikkel.

ʼn Groot hoeveelheid werk is reeds agter die skerms gedoen om, onder andere, genderbalanse in die Afdeling: Menslike Hulpbronne te ondersoek, diensbillikheid onder personeellede te hersien, prosedures en protokolle vir die hantering van krisisse, seksuele teistering en seksuele aanranding te verbeter en die rapportering van kwessies wat verband hou met geslagsgeweld, seksuele aanranding en verkragting meer vaartbelyn te maak. Belangrike gesprekke met studentegroepe, koshuise, PSO's, die Afdeling: Menslike Hulpbronne en ander belanghebbers vind ook plaas sodat daar ondersoek ingestel kan word na bestaande praktyke op kampus wat moontlik ʼn rol kan speel in die behoud of verskansing van ʼn kultuur van geslagsgeweld.

Ek is ook baie bly om te kan meld dat ons die volle steun van die RBS geniet – kyk hierdie videoboodskap van ons Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.

Jou terugvoer benodig

Alhoewel ʼn groot verskeidenheid studente en personeellede – wat insette van onskatbare waarde uit eie geledere met hulle saambring – op die Taakspan verteenwoordig word, wil ons graag terugvoer ontvang van so veel personeellede en studente as moontlik. Ons wil graag hoor van jou ervarings, jou perspektief op die verkragtingskultuur, jou voorstelle oor hoe ons houdings en praktyke kan verander, sowel as enige ander idees wat jy dalk het.

Met hierdie doel voor oë het ons ʼn spesiale e-posadres geskep: ttrc@sun.ac.za. Gebruik dit asseblief om kommentaar te lewer, om aanbevelings te maak, om inligting te voorsien en om met die Taakspan te skakel.

Die Taakspan sal binnekort ook ʼn klimaatsvraelys uitstuur, onderhoude voer en terugvoersessies hou om so veel inligting moontlik in te win.

In die tussentyd wil ons daardie studenteleiers en personeellede gelukwens wat reeds gesprekke en debatte geïnisieer het en ook betrokke is by ander maniere om bewustheid op kampus te skep. Sit asseblief hierdie aktiwiteite in jou koshuis, in jou huis en op ons kampus voort – nie net tydens die akademiese kwartaal nie, maar ook tydens die reses wat op die eksamen volg.

Ons is dankbaar vir die vele bydraes wat tot op hede ontvang is en bly van voorneme om geslagsgeweld en ʼn kultuur van verkragting uit te wis. Ons sal net suksesvol wees indien ons hierdie kwessies saam as ʼn kampusgemeenskap takel.

Vriendelike groete,

Birgit Schreiber (PhD)

Senior Direkteur: Studentesake en Voorsitter: Taakspan oor Verkragtingskultuur